Selfs al het jy en jou maat ‘n standvastige huwelik, is die kanse goed dat van jou kinders se maats in gebroke huisgesinne grootword. Soveel jongmense kies vandag om nie te trou nie omdat hulle hoop verloor het vir die huwelik as instelling. Só wys jy jou kinders hoe ‘n gesonde huwelik lyk …
“Mamma, ek dink nie ek wil eendag trou nie,” het Amoré vir haar ma gesê, terwyl sy haar pop se hare kam. “Jy en pappa baklei heeldag en dan huil jy en pappa is kwaad. Dit lyk nie vir my lekker om getroud te wees nie. Dit lyk vir my hartseer.” Liane het in die deur van haar dogtertjie se kamer gestaan, haar trane gesluk. Dit was ‘n hou in die maag. Veral aangesien sy presiés dieselfde gedink het toe sy nege jaar oud was.
In die artikel ‘Is your Marriage a Relationship Role Model for Your Kids,’ op marriage.com skryf Michelle Scharlop, verhoudingsterapeut, dat as julle ouers is met kinders, julle die rolmodelle vir hul gedrag en verwagtinge van ‘n verhouding is.
In die hitte van die oomblik van ‘n rusie sien jy niks raak nie – jou fokus is net op jou maat wat jou so bitter seermaak en hoe jy hom kan terugslaan met jou woorde! Jy sien nie die verwarde gesiggie in die deur staan nie, hoor nie hoe ‘n deur toegemaak word om jul klanke uit te doof nie …
Tog het getroude ouers ‘n baie belangrike rol in ‘n huwelik – om hul kinders se huwelik te help vorm. Ja, dit klink soos ‘n verskriklike verantwoordelikheid, want dit ís. Jou huwelik is die prototipe vir watter huwelik jou kinders sal hê, meen Corey Allen die artikel ‘What does your Marriage Teach your Children’ op die webtuiste theartofsimple.net. Jou kind sal jul huwelik spieëlbeeld. Dit is jou en jou maat se werk om haar te wys hoe ‘n gesonde verhouding lyk en hoe om een te skep. Becca van thedatingdivas.com sê dís hoe jy dit doen:
- Gebruik goeie maniere teenoor jou maat. Dit leer jou kinders nie net om basiese maniere teenoor alle ander mense te bewys nie, maar ook dat dit belangrik is om die mens die naaste aan jou nie as vanselfsprekend te aanvaar nie.
- Leer jou kinders dat die huwelik gaan daaroor om jouself te verbeter, nie jou maat te verander nie. Niemand word gemotiveer deur kritiek nie, ook nie jou maat nie. Leer jou kinders dat, in alle verhoudings, dit beter is om te fokus op dit wat jy kán beheer – jou eie gevoelens en dade.
- Gee jou maat komplimente – op verskillende vlakke. Dit leer jou kinders om komplimente uit te deel en wys hulle weereens dat jy en jou maat mekaar raaksien vir die individue wat julle is en nie net as ‘n ‘handige lewensmaat’ nie.
- Sê vir jou maat jy is jammer en vergewe jou maat. Só kan hulle sien dat niemand perfek is nie en almal foute maak. Maar ook dat niemand verhewe is bo ‘n verskoning nie en dat ‘n mens weer kan aanbeweeg al trap jy skeef. Die huwelik is ook nie altyd regverdig nie en soms sal jy moet vrede maak al weet jy jy was nie die een wat fouteer het nie.
- Leer jou kinders dat die huwelik spanwerk verg. Dat jy en jou maat sáám teen ‘n probleem opstaan en nie teen mekaar nie. Leer jou kinders deur julle voorbeeld dat julle altyd aan dieselfde kant is en dat hulle julle nie teen mekaar kan afspeel nie, omdat julle aan dieselfde kant is. Julle kompeteer nie en julle hou nie telling nie.
- Die huwelik gaan hoe om mekaar aan te vul. Natuurlik gaan julle nie altyd ooreenstem nie. En natuurlik gaan jul benaderings verskil, maar ons moet ons kinders leer dat dit natuurlik is vir mans en vroue om te verskil. Geen geslag is verhewe bo die ander nie. Vermy dus aanmerkings soos: “Ag sus, jy sal nog leer – dis hoe mans is!”. Dit ondersteun slegs negatiewe stereotipering. Leer jou kinders dat mans en vroue soos legkaartstukke in mekaar pas en saam die heel beste span is!
- Moet ook nie grappies maak ten koste van die huwelik nie. Dis nou wel ‘n grappie maar dit ondersteun argaïese denkwyses. Vergeet van die prooi-en-die-vangs, die ópofferinge en die strop! Leer hulle die eintlike waarheid: Dat saam met ‘n gelukkige huwelik ‘n wonderlike emosionele vryheid kom wat jy nooit as ‘n soekende enkellopende sal ervaar nie.
- Leer jou kinders om óral in die huis te help. Die dae van tradisionele rolverdeling is verby en dit is baie belangrik dat jou kind dit besef want wanneer hy/sy groot is, gaan daar beslis nie meer so iets bestaan nie. Almal help met die baba, álmal help kos maak, álmal help in die tuin en álmal was saam motor.
- Die huwelik gaan oor gee, nie neem nie. Die huwelik gaan nie oor jóú nie. Ons kinders word groot in ‘n era van eiegeregtigheid en dis belangrik dat ons hulle leer dat beide partye se behoeftes vervul moet word in ‘n huwelik. Jou maat is nie daar om jou gelukkig te maak nie, so moet dit nie van hom/haar verwag nie, maar doen wel wat jy kan om jou maat gelukkig te maak (al verwag hy dit nie van jou nie).
- Speel met jou maat! Jou kinders moet weet dat die huwelik nie net ‘n transaksie is nie, maar dat jy jou beste maat gekies het vir ‘n leeftyd. Hulle moet sien dat ‘n mens kan lag, speel, laf wees, sing en dans! Hulle moet weet dat die huwelik daar is vir genot en dat die huwelik eintlik deksels lekker is!
- Betrek jou maat by besluitneming. Probleemoplossing in ‘n huwelik is ‘n baie belangrike taak en jou kinders moet van kleins af besef dat elke huwelik probleme het en dat elke huwelik deur daardie probleme werk. Wanneer jy en jou maat ‘n saak bespreek (wat kindervriendelik is) laat hulle luister na hoe jullle saam by ‘n oplossing uitkom.
- Moenie bang wees vir PDA nie. Soen jou maat, druk jou maat en kielie jou maat voor hulle. Wanneer hulle sê “Oe, gross!”en giggel, weet julle julle is op die regte pad! Spreek ook jul liefde teenoor mekaar uit, sodat hulle dit kan hoor. Dis belangrik dat jou kinders die positiewe interaksie tussen julle raaksien.
- Moenie lelik voor jou kinders baklei nie. Maar moet dit ook nie agter ‘n toe deur doen nie – dit sal hulle vreesbevange en hulpeloos laat voel om te weet julle baklei, en hulle kan niks daaraan doen nie. As julle skreeu en objekte rondgooi, is dit in elk geval belangrik dat julle ‘n terapeut sien om julle beter konflikhantering-strategieë te leer.
- Leer jou kinders dat die huwelik nie ‘n eindbestemming is nie, maar die begin van ‘n wonderlike avontuur! Veral jongmense is geneig om sóveel fokus op hul troudag te plaas, dat die post-wedding blues hulle hard tref en hulle wonder: ‘Wat nou?’ Leer jou kinders dat, as jy wil hê die huwelik moet aanhou voel soos aan die begin, jy moet doen wat jy gedoen het aan die begin. Dating mag nie ophou sodra ‘n paartjie trou nie. Moenie die romanse laat vaar nie, want, in die woorde van Boyd K. Packer: “Volwasse liefde het ‘n saligheid wat pasgetroudes hulle nie eers kan voorstel nie.”
Dit hét! En as jy en jou maat dit so aan jou kinders uitbeeld, sal hulle uitsien daarna om eendag getroud te wees. Dink so daaraan: Elke bietjie wat jy in jou huwelik belê, bou aan jou kinders se hoop om eendag self gelukkig getroud te wees. Hê ‘n huwelik wat jou kinders sal laat glo dis die beste ding op aarde. Want dit is.
Artikel deur Annelize Steyn
Het jy al jou INTIEM e-Tydskrif in die hande gekry? Van ons gewildste artikels saamgevat in ‘n e-Tydskrif. Kliek hier om jou bestelling te plaas!