Sosiale media veroorsaak ‘n ontrouheids-epidemie en dit vernietig verhoudings. Die laaste tyd het ek gesien hoe meer en meer paartjies ontrouheid in hul verhoudings beleef. Ontrouheid wat begin het by sosiale media-gebruik …

Promosie

Facebook, WhatsApp, Instagram en verskeie aanlyn afspraak-platforms het dit só maklik gemaak om af te dwaal. Dit verhoed jou om gehaltetyd vir gesels en interaksie met jou maat deur te bring. En dit skep die ideale broeigrond vir ‘n emosioneel intieme verhouding met iemand anders. Mettertyd kan dit ernstige verhoudingsprobleme skep …

Is jou verhouding tans broos?

As jy en jou maat op ‘n moeilike plek is en as dit vir julle moeilik is om vervulling in jul verhouding te kry, kan sosiale media ‘n deur oopmaak vir iemand wat jou “meer waardeer”. Dit begin by daardie eenvoudige boodskap op jou Facebook blad wat sê dat “jy mag dalk hierdie persoon ken” en dit kan die einde van jou huwelik beteken as jy nie versigtig is nie.

Promosie

Dit is vandag net té maklik om met ‘n eks te konnekteer of ‘n gesprek aan te knoop met iemand wat soortgelyke belange as jy het. En voor jy dit weet, is jy verslaaf aan dié persoon se komplimente en entoesiasme, en kan jy nie wag om te sien of hulle vir jou ‘n nuwe boodskap gestuur het of hul profielfoto opgedateer het nie! Kliek hier en lees meer oor die ware risikos van ‘n virtuele affair…

Hoe beperk jy die impak van sosiale media op jou verhouding?

Elke paartjie moet sosiale media reëls in die huishouding vestig – vir kinders én vir ouers. Ouers moet ‘n voorbeeld wees vir hoe om gesonde verhoudings te handhaaf, sonder om die rol van sosiale media in hul daaglikse lewe te ignoreer.

Elke huishouding sal verskillende reëls hê – geskoei op vorige ervaringe en waardes. Wanneer ek met paartjies praat, vra ek hulle om die volgende vrae te antwoord en hulle bepaal hul reëls volgens die antwoorde wat hulle gee:

  • Kan jou maat interaksie hê met iemand van die teenoorgestelde geslag deur sosiale media?
  • Kan jou maat met ‘n ou skoolvriend of eks interaksie hê?
  • Behoort selfone en iPads aan tafel toegelaat te word?
  • Behoort selfone en iPads toegelaat te word terwyl daar TV gekyk word?
  • Behoort selfone en iPads in die slaapkamer toegelaat word?
  • Is selfone en iPads toelaatbaar op date nights?
  • Word selfone en iPads toegelaat terwyl julle ‘n gesprek voer?

Hier is ‘n rowwe reëlgids vir hoe dinge in ons huis werk:

My man en ek gesels met niemand van die teenoorgestelde geslag via sosiale media nie. Ek het een keer ‘n SMS van ‘n vriendin van my se man ontvang – dit was een van daardie “stuur asb aan na tien van jou vriende …” Ek het besluit om nie te reageer nie, want ek weet hy het al in die verlede ‘n aantal buite-egtelike verhoudings gehad. Ek het my net voorgestel hoe my vriendin sou voel as sy haar man se telefoon gesien en my naam op sy boodskap-lys gewaar het. Vir iemand wat reeds broos en seergemaak voel, sou ek nooit wou gehad het sy moes my van ‘n affair met haar man verdink nie!

Wanneer ek en my man gehaltetyd by die etenstafel deurbring, of net na werk gesels, kyk ons nie na ons selfone en sosiale media nie. Ons kyk slegs nou en dan na Facebook in ons eie, vrye tyd, om te sien wat ons vriende en familie alles aanvang.

Sosiale media, werk eposse en SMSe is verbode op date nights! Dit is heilige tyd wanneer ons mekaar ons volle aandag gee.

In my opinie moet selfone en iPads uit die slaapkamer verban word. Jou slaapkamer is vir slaap en vir seks. Jy behoort nie sosiale media en al daardie “ekstra mense” in jou private heiligdom toe te laat nie.

Baie paartjies wat worstel met ontrouheid, sê dat een van die waarskuwingstekens van ‘n buite-egtelike verhouding was toe hulle in die middel van die nag wakker geword het met ‘n “Ping!” klank van die iPad, of gesien het hoe hul maats badkamer toe sluip met die selfoon.

“Snoopervising” en angs

As jy en jou maat nie duidelike reëls het oor sosiale media in jul verhouding nie, kan dit eindelik angs en agterdog veroorsaak en lei tot snoopervising van mekaar se selfone en ander elektronika. Hierdie tekort aan vertroue en afbreek in kommunikasie is moeilik om te herstel. So, eerste prys is om seker te maak dit word nie vanuit die staanspoor verbreek nie!

As jy en jou maat hulp nodig het om sekere media-reëls vir jul verhouding saam te stel, sal dit julle beide bevoordeel om ‘n terapeut te besoek om hierdie proses te help fasiliteer. Dis belangrik om reëls in plek te hê, ter wille van jul verhouding en jul gesin. Jou kinders moet by dieselfde reëls hou om behoorlike gesinstyd en interaksie te bewerkstellig.

Begin sommer vandag nog met júl sosiale media reëllys.

Artikel deir Leandie Buys

  • Leandie Buys is ‘n verhoudingsterapeut en kliniese seksuoloog. Vir meer inligting, besoek haar webtuiste by leandiebuys.co.za