– Deur Liezel van der Merwe
Kom ons noem hulle Anika en Wouter.
Daar is niks verkeerd met hulle huwelik nie. Hulle is lief vir mekaar, hulle is goeie ouers, hulle lag nog saam en as jy vir Anika sou vra of sy gelukkig is, sal sy sonder huiwering sê ja. Maar daar is een ding wat haar die afgelope tyd begin pla: die lewe voel ’n bietjie… dieselfde.
Op ’n gewone Woensdagaand sit sy op die bank en scroll op haar foon. Iemand eet by ’n nuwe restaurant. ’n Ander vriendin is saam met haar man by ’n konsert. Nog iemand het vir die naweek ’n klein huisie langs ’n dam bespreek en daar is ’n foto van twee koffiebekers op ’n houtstoep met berge in die agtergrond.
Anika kyk vir Wouter, wat heel gelukkig besig is om sport te kyk, en sê: “Ons moet ook weer iets lekker doen.”
“Sê net wanneer,” het hy geantwoord.
En daar eindig dit.
Nie omdat hulle nie wil of daar nie plek in hulle begroting is vir ’n koffie, ’n piekniek of ’n daguitstappie nie. Die lewe gaan net voort. Donderdag word Vrydag. Saterdag is daar sport en inkopies. Volgende week is besig. Een van die kinders het iets aan. Iemand moet by die familie uitkom. En voor hulle weet, het nog ’n maand verbygegaan waarin hulle baie dinge gedoen het — maar min dinge waarna hulle eintlik uitgesien het.
Ons dink soms vreemd oor lekker leef. Ons hoop amper dat die pret spontaan gaan opdaag. Dat iemand ons sal nooi. Dat ons maat met ’n briljante plan vorendag sal kom. Dat die perfekte oop Saterdag skielik in die kalender sal verskyn. Dat daar ’n naweek gaan kom waarin niemand iets nodig het nie en ons sommer net sal weet wat om met onsself te doen.
Intussen is ons uitstekend daarmee om al die ander dinge te beplan. Doktersafsprake, sport, vergaderings, verjaarsdae, skoolfunksies, kerk, werk, die kar se diens. Alles wat móét gebeur, kry ’n plek op die kalender. Die goed wat die lewe vir ons lekker maak, kry dikwels net ’n vae: “Ons moet dit een of ander tyd doen.”
Maar hier is die ding: die lekker gebeur nie altyd vanself nie. Soms moet iemand dit op die kalender sit.
En met somer wat op pad is, is dit dalk ’n goeie tyd om ’n bietjie anders te begin dink. Nie net: Ek hoop ons het ’n lekker somer nie. Eerder: Wat kan ons doen om vir onsself ’n lekker somer te bou?
Nie met ’n oorvol program wat jou teen Desember nog meer moeg laat nie. Glad nie. Net met ’n paar klein dinge wat vir julle twee iets gee om na uit te sien.
Hier is ’n eenvoudige vyfpunt-plan.
- Sit één lekker ding op die kalender vóór die maand begin
Begin klein. Regtig klein. Jy hoef nie ’n hele somerprogram uit te werk of elke naweek vol te prop nie. Kies net een ding voordat die nuwe maand begin en sit dit vas op die kalender.
Dit kan ’n aandete wees by ’n plek waar julle nog nooit was nie. ’n Piekniek. ’n Mark. ’n Staproete. ’n Fliek. ’n Middag by die see. ’n Wynproe. ’n Buitelugkonsert. ’n Ontbyt in ’n nabygeleë dorp. Die punt is nie hoe indrukwekkend die plan is nie; die punt is dat daar iets in die toekoms lê wat vir julle albei sê: Hierdie is vir ons.
Daar gebeur iets lekker met ’n mens wanneer jy iets het om na uit te sien. Die plesier begin nie eers wanneer jy daar aankom nie. Dit begin reeds ’n paar dae voor die tyd wanneer julle sê: “O ja, Saterdag doen ons dit.” Skielik voel ’n gewone week nie meer heeltemal so gewoon nie.
Dit is iets wat ons maklik in ons huwelike miskyk. Ons praat baie oor kommunikasie, konflik, intimiteit en kwaliteittyd — en natuurlik is dit belangrik. Maar ’n huwelik moet ook eenvoudig lekker wees. Julle moet dinge hê waaroor julle opgewonde raak, stories maak en later vir mekaar kan sê: “Onthou jy daardie dag toe…?”
- Maak vir julle ’n “ons-moet-dit-doen”-lys
Ken jy daardie gesprek? Iemand vertel jou van ’n restaurant en jy sê: “Ons moet soontoe gaan.” Jy sien ’n advertensie vir ’n vertoning en dink: Dit lyk fantasties. Julle ry verby ’n klein plekkie langs die pad en een van julle sê: “Ons moet eendag hier stop.”
En dan vergeet julle daarvan.
Begin ’n eenvoudige nota op jou foon met die naam: Ons moet dit doen.
Elke keer wanneer jy iets raakloop, sit dit daar. Restaurante. Klein dorpies. Stap- of fietsroetes. ’n Nuwe strand. Kookklasse. Markte. Optredes. ’n Plek vir goeie koffie. ’n Nuwe wynplaas. Iemand se idee vir ’n date night. Enige iets wat jou laat dink: Dit sal lekker wees vir ons twee.
Die waarde van so ’n lys is dat julle nie elke Vrydagmiddag, wanneer albei moeg is, van voor af hoef uit te dink wat om te doen nie. Die vraag verander van “Wat wil jy doen?” waarop albei gewoonlik “Ek weet nie” antwoord, na: “Kom ons kies iets van ons lys.”
Dit klink so eenvoudig, maar dink net hoeveel lekker dinge in ’n mens se lewe nooit gebeur nie omdat niemand daardie klein brug tussen “ons moet” en “ons doen” gebou het nie.
- Hou op om al die lekker vir naweke en vakansies te bêre
Daar is ’n gevaarlike gedagte waarmee baie van ons leef: die week is om deur te kom en die naweek is om te leef.
Maar vyf uit elke sewe dae is weeksdae.
As al die pret, romantiek, rus en avontuur vir Saterdae en Desembervakansies gehou word, gaan ’n baie groot deel van julle lewe voel soos iets wat net afgehandel moet word.
’n Woensdag kan ook lekker wees.
Dit beteken nie julle moet midweek tot elfuur by ’n restaurant sit en die volgende oggend soos zombies werk toe gaan nie. Soms is die lekkerste plan eintlik piepklein. Gaan kry ’n koffie ná werk en ry ’n ent. Stap in die natuur. Koop twee roomyse. Sit musiek aan terwyl julle saam kosmaak. Eet aandete buite omdat die weer mooi is. Maak ’n gewone donderdagaand julle “iets lekkers”-aand.
Een klein anker kan ’n hele week anders laat voel.
En dalk is dit veral belangrik vir ’n huwelik, want verhouding gebeur nie net op romantiese wegbreke nie. Dit gebeur meestal op gewone Dinsdae tussen skottelgoed, WhatsApps, werk en die vraag: “Wat eet ons vanaand?”
Dis juis dáár waar julle soms moet besluit: Kom ons maak vanaand ’n bietjie anders.
- Beplan klein avonture — en doen iets vir die eerste keer
Ons dink maklik avontuur beteken ’n vliegtuigkaartjie, ’n groot begroting en ’n week se verlof. Maar daar is ’n hele lewe vol avonture binne ’n uur of twee van waar jy bly.
Ry na ’n dorp waar julle nog nooit gestop het nie. Kies ’n pad wat julle nog nooit gery het nie. Gaan stap êrens nuut. Besoek ’n museum. Probeer ’n restaurant in ’n omgewing waar julle nooit kom nie. Huur fietse. Neem ’n kookklas. Probeer iets wat julle normaalweg nie sou kies nie.
Stel vir julleself ’n klein “eerste keer”-doelwit: een ding elke maand wat ons nog nooit saam gedoen het nie.
Dit kan groot wees of sommer iets heel eenvoudig. Julle hoef nie uit ’n vliegtuig te spring of ’n berg uit te klim om die huwelik lewendig te hou nie. Die punt is bloot om nuwe gedeelde ervarings te skep.
Want wanneer alles in ’n huwelik voorspelbaar raak, raak ons soms ook voorspelbaar vir mekaar. Nuwe ervarings gee weer nuwe gesprekke, nuwe grappies, nuwe stories. Skielik sien jy jou maat in ’n ander situasie. Jy ontdek iets nuuts van hom of haar. Julle kry weer ’n kans om beginners te wees.
En later begin julle sinne met: “Onthou jy die eerste keer toe ons…?”
Dít is goud in ’n huwelik.
- Moenie wag dat jou maat die pret begin nie
Hierdie een is dalk die belangrikste.
Ons kan maklik stilweg teleurgesteld raak omdat die ander een nie meer planne maak nie. “Hy reël nooit iets nie.” “Sy stel nooit meer voor ons gaan êrens heen nie.” “Ek wens hy wil my net verras.” “Hoekom moet ek altyd die een wees wat dink aan wat ons kan doen?”
En ja, dit is wonderlik wanneer albei inisieer. ’n Huwelik werk die lekkerste wanneer albei mense energie daarin sit.
Maar iemand moet soms die eerste vonkie maak.
As jy iets wil doen, sê dit. Nog beter: reël dit. Stuur die boodskap. Maak die bespreking. Koop die kaartjies. Sê: “Hou Saterdagmiddag oop, ek het ’n plan.”
Nie omdat dit voortaan jou werk is om al die pret in julle huwelik te vervaardig nie. Maar omdat ons soms jare kan wag vir die ander persoon om iets te begin wat ons self vandag kan begin.
En pret het ’n snaakse manier om aansteeklik te wees.
Anika het aanvanklik gevoel sy is die een wat alles begin. Sy het die koffieplek gekies, die daguitstappie voorgestel en een aand sommer gesê: “Ons gaan vanaand ná ete roomys eet.”
Maar Wouter het begin saamspeel. ’n Paar weke later stuur hy op ’n Dinsdagmiddag vir haar ’n boodskap: “Moenie vanaand kos maak nie. Ek kom haal jou. Ons gaan sonsondergang kyk.”
Sy het hom nie verander in ’n totaal ander mens nie. Hulle het bloot ’n nuwe ritme begin skep. Hulle het opgehou wag dat die lekker met hulle gebeur. Hulle het begin vra: Wat kan ons saam geniet?
Dit is die grootste kopskuif vir hierdie somer.
Jy het moontlik nie ’n meer opwindende lewe nodig nie. Jy het waarskynlik ook nie ’n groter begroting, meer verlof of ’n heeltemal oop kalender nodig nie. Al klink al hierdie dinge natuurlik wonderlik! Dalk het julle net ’n paar meer dinge nodig om na uit te sien.
’n Paar meer redes om vir mekaar te sê: “Ek kan nie wag nie.”
’n Paar meer gewone dae wat later stories word.
Ons praat baie by INTIEM oor hoe om ’n sterk huwelik te bou. En ons behoort. Maar vandag herinner ons mekaar dat ’n goeie huwelik nie net sterk moet wees nie. Dit moet ook lekker wees.
Daar moet lag wees. Avontuur. Spontane roomys. Nuwe plekke. Dom foto’s. Langer gesprekke as wat julle beplan het. ’n Bietjie flirt. Iets nuuts. Iets om na uit te sien.
Aan die einde van die dag bou ons nie net ’n huwelik nie. Ons bou ’n lewe saam.
So, hier is jou klein uitdaging: maak vanaand julle kalender oop en sit een lekker ding daarop.
Nie nog iets wat gedoen móét word nie. Iets wat julle wíl doen.
En moenie wag dat die somer vir julle lekker raak nie.
Maak dit lekker. Saam.
Krediet: Geïnspireer deur ’n idee van @kami.davt.

