Wanneer jou dogtertjie haar naels kou en jou seun smiddae met die iPad en sy tekkies in die bed klim, raas jy oor die “slegte gewoonte” en doen alles in jou vermoë om die gewoontes te breek. Maar wat van die gewoontes in jou huwelik?
Kenners sê gewoontevorming is die proses waardeur nuwe gedrag outomatiese gedrag word. Natuurlik kan gewoontes goed of sleg wees, maar slegte gewoontes is moeilik om te verbreek en gesonde gewoontes is moeilik om te kweek.
Herhaaldelike gedrag word in ons brein-paadjies vasgelê, maar selfs langtermyn gewoontes wat sleg is vir jou (of jou huwelik) kan verbreek word, mits jy toegewyd en slim daaraan werk. Dink bietjie aan jou oefen-roetine. Dit is die maklikste ding op aarde om tien verskonings te lys vir waarom jy nié vanoggend wil gaan draf nie. Van hulle klink baie geldig en van hulle is absurd: Ek het verslaap, ek het keelseer, ek verdien ‘n blaaskans, my tekkies druk my, dit lyk of dit gaan reën, daar’s ‘n reeksmoordenaar in die omtrek, ek wil nie té fiks word nie, ek’s bang vir ‘n hartaanval, ek moet vanoggend die duimspykers en die skuifspeldjies in my laai van mekaar skei…
Sien, tien verskonings in tien sekondes! Om in slegte huweliks-gewoontes te verval, is ewe maklik. En om hulle reg te stel, verg dissipline! Het jy en jou maat iewers die afgelope drie jaar opgehou om mekaar te soengroet? Raak julle laatnag voor die televisie aan die slaap? Het skerm-tyd seks vervang? Elke paartjie het ‘n paar ongesonde daaglikse gewoontes, maar dit kan selfs ernstiger raak – in so ‘n mate dat dit jul huwelik baie negatief kan affekteer:
SLEGTE GEWOONTE #1: Ek het opgehou om respekvol op te tree
“Ek en my vriendinne kuier een keer per maand gedurende ‘n girls night. Dis ‘n pajama-partytjie met baie sushie en sjampanje. Waar dit eens op ‘n tyd net ‘n lekker kuier was, het dit die afgelope tyd ‘n “afpak-sessie” geword, waartydens ons gesels oor wie se man die meeste drooggemaak het. Ons skinder en sê ons mans sleg. Ek weet nie wanneer hierdie negatiewe energie ons kuier-aande oorgeneem het nie en ek weet nie hoe ons dit gaan verander nie…”
Om oor jou maat te praat in ‘n negatiewe lig, is disrespekvol. Of dit is teenoor jou vriende, familielede, kinders, ouers of kollegas. Voor jy iets negatiefs wil sê, plaas ‘n wag voor jou mond en sê eerder iets positiefs.
SLEGTE GEWOONTE #2: My wit leuens het standaard geword
“Ek’s ‘n ou wat lief is vir kuier. Ek en my vrou het nog altyd vas geglo aan eerlikheid in ons huwelik, maar ek is ook lief vir sosialiseer en sy verstaan dit nie altyd nie. Soms, wanneer ons uitgaan, sal ek ‘n wit leuentjie vertel om haar gerus te stel. Ek weet sy hou nie daarvan as ek drink en bestuur nie, so ek sal so af en toe jok oor waar ek kuier, saam met wie ek kuier en hoe lank ek al kuier. Ek dink dit doen niemand skade aan nie en op die manier hou ek haar gelukkig.”
Daar is nie plek vir leuens in jou huwelik nie. Hoe onderskei ‘n mens tussen ‘n wit leuen en ‘n normale leuen? Die probleem is dat die lyne dikwels geblur word en jy nie meer daardie onderskeid kan tref nie. Waar leuens is, is seerkry. En gewoonte-leuens lei altyd tot wantroue in ‘n huwelik.
SLEGTE GEWOONTE #3: Seks het ‘n raar aktiwiteit in ons huwelik begin raak
“Ek het ‘n moeilike swangerskap gehad. Oggend-naarheid en bloeding in my tweede trimester het beteken dat ons vanaf 13 weke in my swangerskap in, nie weer seks gehad het nie. My baba is gebore en toe sy vier maande oud was, het ons twee keer seks gehad – toe word ek weer swanger! Ek het dit nie beplan nie, finansieel het dit druk gegaan en ek het aan depressie gely – gedurende én na my swangerskap. Dit is nou onder beheer, maar ek stoei met twee kinders (beide onder drie jaar). Ek het nie krag of lus vir seks nie en my man het dit nou so begin aanvaar…”
Het hy regtig? ‘n Tekort aan seks in jou huwelik spel moeilikheid. Dit is só belangrik vir jou maat om geliefd en begeer te voel, en dit is boonop ‘n stresverligter! Moenie wag vir die gevoel om jou beet te pak nie. As julle in die slegte gewoonte verval het om tevrede te wees met min seks, verander dit! Skeduleer seks vir minstens een keer per week!
SLEGTE GEWOONTE #4: My maat het laks geword wat eerbaarheid aan betref
“My liefdestaal is eerbaarheid. Ek voel geliefd wanneer my man my rekenaar-probleme uitsorteer of die hond veearts toe neem, sodat ek nie sy logge lyf moet rondkarwei nie. Maar die afgelope paar maande het dit begin verander. Hy het in die gewoonte verval om te sê dat hy iets sal doen – maar dan voer hy dit nie deur nie. Ek is moeg om elke aand te vra dat die badkamerlig vervang moet word (ek doen dit nie self nie, want die glas-skerm is te swaar vir my om te hanteer). Hy sê hy sal die kinders by die sport gaan haal, maar voer dit nie deur nie. Dit maak dat ek nie meer sy woord vertrou nie…”
Om nie by jou woord te bly nie, beskadig die vertroue tussen huweliksmaats. Jou maat moet weet dat wanneer jy sê jy gaan iets doen, jy dit sal deurvoer. Dit skep sekuriteit in ‘n huwelik.
SLEGTE GEWOONTE #5: Die grappies is nie meer snaaks nie
“Een van die dinge wat my na Ashley toe aangetrek het, was haar sinisme en haar sin vir humor! Sy het my ‘gebyt’ waar sy kon – tot groot vermaak van almal om ons! Ashley is ‘n botteltjie dinamiet wat op haar voete kan dink en sy het altyd ‘n comeback gereed in enige geselskap. Toe ons getroud is, het almal gesê ons pas so goed by mekaar want sy is die enigste girl wat my op my plek sal hou. So, die gejoke en gebanter was nog altyd deel van wie ons is, maar die laaste tyd het haar woorde diep begin sny. Sy sal gereeld grappe maak oor my bles of my swak spelling – ook in ‘n geselskap. Ek weet nie hoe om haar te konfronteer nie. Hoe verduidelik ek dat dít wat eens so goed tussen ons gewerk het, besig is om nie meer vir my te werk nie…?”
Snaaks is snaaks – tot op ‘n punt. As dit ten koste van jou maat is, moet jy twee keer dink. Dit is so maklik om in die gewoonte te verval om met mekaar te kompeteer – ook op ‘n sosiale vlak. En ja, soms is dit vir ander só snaaks as jy ‘n grappie maak oor jou maat, dat jy dit verder en verder vat. Tot dit later vir almal snaaks is, behalwe vir die een oor wie die grap gemaak word. Dink mooi oor hoe jy en jou maat kommunikeer en sorg dat jy altyd lojaal bly teenoor die een met wie jy getroud is.
SLEGTE GEWOONTE #6: Ons baklei leliker as lelik
“Ek en my maat sukkel beslis met konflik-hantering. Toe ons huwelik jonk was, het ons fyn getrap rondom wat gesê is in die hitte van die oomblik. So twee jaar later het dit finansieel sleg met ons gegaan en ons het baie baklei. Gedurende dié tyd het ons ook meer as normaalweg gedrink en die inhibisies het gewaai. Ons het in dié tyd ook vriende gehad wat niks daarvan sou dink om voor ons te argumenteer nie en ek dink húlle slegte gewoonte het ook ‘n slegte invloed op ons gehad. Ons het mekaar begin slaan met ons woorde en gekyk wie kan mekaar die seerste maak. Daar was selfs tye wat ons voorwerpe in die huis na mekaar toe geslinger het (Dit het darem nou opgehou en ek kry baie skaam oor daardie gedrag). Maar nou is ons in ‘n baie slegte gewoonte… wanneer ons baklei, baklei ons sonder handskoene.”
Slegte gewoontes wat konflik-hantering aanbetref, is seker van die moeilikste gewoontes om af te leer, want reëls moet in plek geplaas word en dis is moeilik om hierdie reëls te implementeer as daar uitermate emosies by betrokke is. As julle dit nie kan regkry op jul eie nie, is dit die moeite werd om die hulp van ‘n kenner in te roep wat julle kan help om gesonder gewoontes te vestig.
SLEGTE GEWOONTE #7: My maat wil steeds onafhanklik wees
“Ek het my vrou ontmoet toe ek 37 was en sy 22. Natuurlik het ons omstandighede radikaal verskil. Sy was nog ‘n student en het in haar ouerhuis gebly. Ek was ‘n bachelor wat in my eie woonstel gewoon het en al my geld bestee het op jetski’s, motorfietse en Botswana-trips. Toe ons trou, het dit konflik veroorsaak. Sy wou nog steeds gekoester word (soos haar ouers haar gekoester het) en soveel as moontlik tyd met my deurbring, terwyl dit vir my moeilik was om afstand te doen van my vryheid. Ek sou wegbreek-naweke saam met die ouens reël sonder om haar in die saak te ken en ek sou my geld bestee op wat ek wou. Een dag het my oudste sussie met my ‘n afspraak gemaak en oor ‘n glas wyn vir my vertel dat my jong vroutjie baie ongelukkig is. Sy het mooi verduidelik dat ek nou nie meer ‘n enkel-lopende is nie, maar deel van ‘n span. Dat ek nie my onafhanklikehid hoef prys te gee nie, maar dat ek en my vrou ‘n kompromie moet tref. Ons het dit gedoen en vandag het ons ‘n goeie balans tussen saamwees en alleentyd – wat vir ons albei werk.”
Onafhanklikheid is ‘n baie sensitiewe onderwerp in baie verhoudings en omdat paartjies soveel later trou, bring dit konflik in baie huwelike mee. Mense trou wanneer elk alreeds gevestig is in hul manier van doen en dikwels is die aanpassing by ‘n lewensmaat moeilik. Voorhuwelikse berading is baie belangrik – dit kan julle help om moontlike probleme te antisipeer en geleidelik tot op ‘n punt te kom wat vir julle albei werkbaar is.
Miskien identifiseer jy met sommige van hierdie gewoontes – en miskien het jy en jou maat unieke gewoontes waaraan julle moet werk. Hoe dit ook al sy, hê moed in die wete dat gewoontes gebreek kan word. Vra jou maat om jou te help om joune te vervang met goeie gewoontes wat tot voordeel van jul huwelik sal strek.
Artikel deur Annelize Steyn
***