– Deur Liezel van der Merwe
Dis ’n Saterdagmiddag in Oktober en ons sit by ‘n beeldskone plek in Tulbagh. Ons vriende se kinders trou. Daar is min dinge so mooi soos ’n paartjie wat werklik hulle lewens vir die Here gegee het en nou saam ’n verbond sluit. Wat in Jesus trou aan mekaar belowe. Ek weet dadelik hulle voordeel is groot, en wanneer die storms kom, sal hulle huis stewig op die Rots staan.
Om my sit paartjies wat ons al lank ken. Paartjies wat ook, soos ek en Nico, hier by die 30 jaar getroud is. Saam deur dik en dun, saam die kinders grootgemaak en nou in ’n nuwe seisoen met ’n leë nes.
Ek leun oor na my vriendin en vra of sy die nuwe seisoen geniet. Sy glimlag ondeund: “I have him all to myself again! And every day when the garage door opens and he is home from work, I’m still excited.”
Ek geniet haar doelbewuste keuse vir liefde en trou. Jy kan dit sien as jy na hulle kyk: langs mekaar, hande vervleg.
Dan kom die vlinders-op-die-maag-deel – die bruid wat stralend na haar opgewonde bruidegom stap! Haar pa gee haar oor, die pastoor bevestig, hulle belowe trou met ringe, en dan soen die bruidegom sy vrou.
Hulle draai na ons, mikrofoon in die hand, en vat ’n oomblik om hulle ouers te vereer en te bedank. Dan draai hulle weer terug na die pastoor vir ’n Woord, ’n boodskap, instruksie en wysheid om aan vas te hou – vir hulle eie huwelik, maar ook vir ons as getroudes – en nou ook vir jou.
Vyf W’s uit Prediker wat jou huwelik ’n hupstoot kan gee en jou kan help om weer opgewonde en met liefde saam te leef.
Prediker 4:9–12:
“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”
Die 5 W’s vir jou huwelik
- Werk
Die huwelik vra werk. Maar die Woord belowe dat ons inspanning tot iets kom! Saam kan ons soveel meer bereik.
Ons gaan in hierdie verhouding moet leer kommunikeer, probleme oplos, liefhê en respekteer. Ons gaan moet werk om ons eie ek stil te maak en op die ander een te fokus. Onvoorwaardelike liefde en respek.
Ons gaan moet saamwerk en onthou dis nie oor wie wen en wie hulle sin kry nie. Die wen is altyd in ons saam.
In jou huwelik is werk ook om aan te hou opdaag. Om elke dag weer ja te sê vir mekaar. Soms lyk daardie werk baie eenvoudig: om jou foon neer te sit, weer regtig te luister en eerder te vra: “Wat het jy nou van my nodig?”
Om God deur ons huwelik te verheerlik, is die doelwit. Hy is die Een wat ons daartoe in staat stel.
Refleksievraag: Werk julle nog doelbewus aan julle huwelik?
- Wandel
Van werk aan jou huwelik tot saam wandel.
“As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.”
Ons loop saam. Jy hoef nie alleen te loop nie. Die lewe gee vir ons moeilike tye. Alles loop nie altyd glad nie. Soms val ons. Maar as ons saam loop en onthou ons is in dieselfde span, kom ons saam deur die lewe.
God het gesê dit is nie goed dat die mens alleen is nie en dat ons ’n helper nodig het.
Wees vandag vir mekaar daardie helper. Moenie punte tel en kyk wie help meer, wie is voor of wie moet meer gee nie. Wees die een wat help, wat ophelp en wat seker maak jy laat nie jou ander helfte in die steek nie.
Refleksievraag: Wat beteken dit vir jou om te weet jy hoef nie alleen te wandel nie?
- Warmte
“As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word?”
Natuurlik. Lepellê!
Maar dis ook soveel meer.
Dis ’n warmte wat veiligheid beteken. Julle huwelik is ’n plek waar jy die moeilikheid vir ’n oomblik kan neersit en net kan wegkruip. Dis die lekkerte om te weet daar is iemand in jou hoek, iemand wat jou rug het en jou beskerm.
Warmte is soms ’n koppie koffie wat sonder vra gemaak word, ’n hand op jou been in die motor, of net: “Kom sit hier by my.”
Wees oorvloedig en heelhartig lief vir mekaar. Fokus daarop om mekaar lief te hê en woorde met respek te spreek.
Die huwelik is ’n uitnodiging om mekaar te dien en te versorg. Dis ’n leerskool en ’n plek waar ons kan leer om meer soos Jesus te wees.
Refleksievraag: Hoe kan jy vandag meer warmte in jou huwelik inbring?
- Weerstaan
“Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied.”
Om saam te kan staan teen die aanslae van die duiwel is ’n sterk vesting. Die Woord sê dit ook vir ons. Een kan maklik oorweldig word, maar as twee saamstaan, is daar meer weerstand.
Die aanslag kom nie altyd dramaties nie. Soms lyk dit soos moegheid, afstand, onverwerkte seerkry, geldstres of eenvoudig te min tyd vir mekaar. Dit beteken ons moet wakker bly vir dié dinge wat stadig tussen ons kan inskuif.
Om uit te kyk vir mekaar en bewus te wees van die aanvalle van die bose, is ’n groot voordeel vir elke getroude paartjie.
En ja, daar gaan teleurstellings wees. Daar gaan druk wees. Dit is hoekom ons beloftes aan mekaar so saak maak.
Ons huwelik word nie gebou op gevoelens nie. Dis ’n verbond.
Ek bly by jou. Nie net solank alles maklik is of solank ek geliefd voel nie. Dis ’n verbond en ’n belofte voor God wat ons ook beskerm teen ons eie harte wat, soos die Woord sê, ons maklik kan mislei.
Beskerm saam julle huwelik. Bly getrou aan mekaar. Sê vinnig jammer en wees vrygewig met vergifnis en genade.
Kies liefde. Kies julle verbond. Kies julle storie en bly in Jesus. Weerstaan saam enigiets of enigiemand wat dit durf waag om julle van mekaar te skei.
Refleksievraag: Wanneer laas het julle saam gebid vir beskerming oor julle huwelik? Hak vandag weer saam in en pak uitdagings saam aan.
- Wy
“’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”
Die fondament wat julle bymekaar hou, is God.
Wy julle huwelik aan Christus toe. Bou elke deel van julle lewe op Hom en laat sy Woord julle wys hoe, wat, wanneer en waar.
Om Jesus in julle huwelik in te nooi – vir die eerste keer of dalk opnuut vandag – is die beste verhoudings-“upgrade” wat julle kan kry.
As julle werklik elke aspek van julle huwelik aan Hom toewy, sal daar wysheid, krag, genade, hoop en veral liefde wees.
Refleksievraag: Is Christus werklik deel van hoe julle besluite neem, konflik hanteer en julle toekoms saam bou?
Soos ek sit en luister na die pastoor se woorde, en later in die bruidegom se toespraak hoor hoe hy met bewondering van sy ouers se huwelik praat, besef ek dit weer: ons huwelik is nie net vir ons nie. Dis ook vir die geslagte wat volg.
As ons hierdie W’s kan leef, staan ons kinders op ons skouers. Hulle sien iets van liefde, trou, genade en geloof wat hulle saam met hulle kan vat.
En die eintlike lekkerte wat hierin volg?
Dat jy ná amper 30 jaar steeds opgewonde kan wees wanneer die garagedeur oopgaan. Dat die mooi nog in die klein oomblikke lê – koffie in die bed, sommer saam winkel toe ry, of gou by die drive-through stop vir ’n roomys.
Dalk is dit op die ou einde presies hoe ’n huwelik woema kry: deur weer en weer vir God, vir liefde en vir mekaar te kies.
