Sakke vol dapperheid – Deur Retief Burger

Ek en Isabel is baie lief vir die buitelewe, avontuur en sport. Ons was onlangs in die Drakensberge met vakansie en het met ons bergfietse die bosse ingevaar. Ons ken die roete goed, want ons ry dit elke vakansie, maar met die baie reën die laaste paar dae het ek stilweg gewonder hoe ons die rivierkruising sou oorsteek.

Daar gekom, is my vrese reg bewys en moes ons vinnig ’n plan maak. Na ’n goeie spanpraatjie en ’n soektog na ’n alternatiewe roete, keer ons terug om die oorspronklike pad oor te steek. Met die rivier wat sterk afkom, moes ons besluit: Omdraai of oor.

Met ’n blindelingse dapperheid gaan ek toe eerste en kom veilig anderkant uit, met my avontuurlustige vrou kort op my hakke! Alhoewel ons nie die bodem kon sien nie, het ons uit vorige ervarings geweet en geglo dat ons die pad kon vertrou. Só is dit ook met die huwelik.

Promosie

Kom ons wees eerlik met mekaar: Die huwelik is nie altyd maklik nie en daar is hindernisse om elke hoek en draai. Daarom het ons juis dapperheid nodig. As gelowige het ek die versekering dat God saam met my deur elke uitdaging sal loop en dat Hy my dapper maak.

Soos ek eerste die rivier moes kruis en die weg moes baan vir my vrou om met meer sekerheid te volg, moet ons as mans ook eerste dapperheid in ons huwelike wys. Met soveel negatiewe statistiek oor huwelike wat dit nie maak nie, is dit só maklik vir ’n paartjie om moed op te gee die oomblik wanneer dinge rof gaan.

“Hoekom sal óns huwelik hou as soveel ander faal?” kan mense vra. Dit is die rede waarom ons hoop ook nodig het – saam met sakke vol dapperheid! Daar gaan tye wees wanneer ons net moet vasklou, vertrou daar is ’n pad onder die water en tráp. Só veg ons om altyd hoop in ons huwelike lewendig te hou.

Ek glo die grootste area waar dapperheid nodig is, is om jouself in die huwelik te konfronteer. Ons almal loop met vrese en onsekerhede rond, en om van só naby af deur iemand geken te word is eenvoudig scary en verg dapperheid. Maar dit is juis daar waar oorwinning en ware liefde lê!

As mans dra ons só maklik maskers en skuil agter “vals bravade”, maar as ons sal leer om in nederigheid van naby geken te word en oop te wees vir waarheid en inspraak in ons lewens, sal ons soveel genesing in die huwelik beleef.

Hou hoop wakker in jou huwelik, kies om dapper genoeg te wees om broos te wees en jouself te face, sodat jy jou vrou in geloof kan lei oor elke rivier wat dalk julle pad mag kruis!

 

’n Nie-so-dapper-meisie – Deur Isabel Burger

Dapperheid: Wat is jou definisie daarvan? Is dit iemand wat in ’n brandende huis in hardloop in ’n heldhaftige poging om iemand anders se lewe te red? Is dit iemand wat uit ’n vliegtuig spring vir die avontuur om met ’n valskerm deur die lug te sweef?

Ek bevind myself dikwels in ’n konsternasie, want my avontuurlus oortref meestal my dapperheid. Ek en Retief het twee jaar gelede in die Cinque Terre gaan toer. In Vernazza, een van die pragtige dorpies aan die weskus van Italië, se hawe lê toe op ’n pragtige sonskyndag ’n see kajakke geanker. Die kajakke roep my naam en skep ’n idilliese prentjie van see, son en avontuur!

Toe ons ons weer kom kry, bevind ek en Retief onsself op ’n dubbel-kajak op die oop see, waar die prentjie ewe skielik glad nie meer so idillies is nie! Die golwe breek teen die rotse hier neffens ons, die see is onstuimig en die kranse van die ruwe kus troon bo ons uit! Boonop het ek begin seesiek word en ek en Retief – wat geseën is met avontuurlus én dapperheid – bevind onsself meteens in dieselfde bootjie met uiteenlopende behoeftes! Kom ons sê maar net dit was ’n baie goeie huweliksverrykingskursus!

Om die huweliksboot regop te hou en gesinkroniseerd aan te hou roei in ’n rigting waaroor saam besluit is, is op sigself ’n uitdaging. Ons almal het uiteenlopende behoeftes, persepsies en persoonlikhede. Voeg daarby die uitdagings van die lewe en golwe wat dreig om die boot op die rotse te verpletter, en die prentjie lyk soms hopeloos en onmoontlik.

Om die waarheid te sê, die avontuur van die huwelik verg elke dag dapperheid op ’n meer persoonlik vlak. Die goeie nuus is, dis ’n dapperheid waartoe jy en selfs ek in staat is!

Daar is ’n anonieme gesegde wat sê: “Courage will follow, when faith takes the lead.”

Selfs al voel ons soms moeg en moedeloos soos wat die lewe se golwe ons na alle kante toe slaan, gee Hy ons die krag om met geloofsoë na ons huwelike te kyk en op Hom te vertrou, wat die onmoontlike moontlik maak.

Ek en Retief verwys dikwels grappenderwys na onsself as “Team Burger”, maar die waarheid is dat as ons dapper genoeg is om ons eie behoeftes, verwagtings en manier van doen neer te lê, ter wille van die span, wen die span en baat albei van ons daarby!

Dit beteken egter nie dat “Team Burger” dit altyd regkry nie (definitief nie!), maar ons kies elke dag saam om mekaar op te bou, mekaar aan te moedig en moeilike situasies aan te spreek – nie as twee mense wat teen mekaar wil wen nie, maar as ’n dapper span wat in eenheid ons lewens vir mekaar neerlê en deur die krag van God die uitdagings van die lewe oorwin!