Om iemand te vergewe wat jou te na gekom het, is seker een van God se moeilikste opdragte. Dit is egter nie net die “regte ding” om te doen nie, maar jy pluk ook self die vrugte van jou eie vergewensgesindheid.

Promosie

Ons maak mekaar seer. Dis deel van ons sondige aard. Die maniere waarop ons dit in die huwelik doen en die graad van erns kan wissel van ’n kritiese woord tot ’n jarelange affair. Sommige tye is dit moeiliker om jou maat te vergewe as ander tye.

Hoekom moet ek?
’n Baie bekende anonieme aanhaling lui: “’n Gelukkige huwelik is ’n eenheid tussen twee mense wat maklik vergewe.” Paartjies wat nie vergewe nie, raak verwikkeld in ’n magstryd. Kort voor lank val die fokus op ’n drang om reg te wees en argumente te “wen” eerder as om saam te werk. Daarteenoor is toegewyde paartjies meer geneig om te vergewe.

Statistieke toon dat vergifnis verskeie gesondheidsvoordele inhou vir diegene wat dit toepas, insluitende ’n verlaging in angs en spanning, bloeddruk en depressie. Dit maak ook die hart en immuunstelsel sterker.

Promosie

Om ander vir hul foute te vergewe, is die nommer een karaktereienskap wat mense die heel gelukkigste maak (volgens wtf-fun-facts-tumblr).

Die toep The Icebreak het bevind dat mans minder vergewensgesind is as vroue wanneer ’n buite-egtelike verhouding ter sprake is. Mans is 22% meer geneig om die verhouding te beëindig as hulle verkul is, as wanneer die situasie omgekeerd is (TheIcebreak.com).

’n Bybelse opdrag
Jesus sê in Matteus 6:14-15: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Só smaak vergifnis . . .
Martin Luther King het gesê: “Vergifnis is nie iets wat per geleentheid gebeur nie. Dis ’n permanente houding.” Dis ’n aktiewe proses waartydens jy besluit of die ander persoon jou vergifnis verdien of nie. Maar uiteindelik vergewe jy nie ter wille van die ander persoon se sielerus nie, maar ter wille van jou eie vrede.

Op jou gesondheid!
Volgens die Mayo-kliniek kan onvergewensgesindheid jou van binne af opvreet. Daarteenoor bring vergewensgesindheid:
• Verlaagde bloeddruk.
• Minder spanning.
• Minder simptome van depressie, angs en chroniese pyn.
• ’n Verlaagde risiko van alkohol- en dwelmverslawing.
• Beter sielkundige en spirituele welstand.
• Gesonde verhoudings.

Só lyk vergifnis . . .
Wanneer jy iemand moet vergewe, kyk met simpatieke oë na hom, meen Michael J Chase, die outeur en motiveringspreker ook bekend as “The kindness guy” oor sy proses om sy pa te vergewe.

“Om my pa te vergewe, het ’n ware moontlikheid geraak toe ek nie meer téén hom was nie. Ek kon dit slegs doen toe ek met empatie na hom begin kyk het. Vir my om die lewe deur sy oë te aanskou, was bevrydend en verligtend . . . maar ook hartverskeurend. Soos wat ek die pyn begin sien het wat deur my oupa aan hom toegedien is, kon ek nie help om te simpatiseer en ’n oorweldigende gevoel van deernis te hê nie.”

Jy kan dit aanleer
Vergewensgesindheid teenoor ander kan jou beskerm teen siektes, het Loren Toussaint, ’n professor in sielkunde aan Luther College in Iowa bevind. Hy glo ook heeltemal dat vergewensgesindheid aangeleer kan word. Baie terapeute werk juis daaraan om vergewensgesindheid te kultiveer.

Só voel vergifnis . . .
Studies toon dat sommige mense ’n groter geneigdheid het om te vergewe as ander. Hulle is ook gevolglik meer tevrede met hul lewens en het minder depressie, stres, vyandigheid en woede. Daarteenoor het mense wat geneig is tot wrokkigheid, meer depressie en ’n geneigdheid tot post-traumatiese stressindroom (www.hopkindsmedicine.org).

“’n Gelukkige huwelik gaan oor drie dinge: Herinneringe van saamwees, die vergifnis van foute en die belofte om nooit op te gee nie.” – Surabhi Surendra

Mite: Vergifnis verg ’n verskoning
Robert Brault het gesê: “Die lewe raak makliker wanneer jy leer om die verskoning wat jy nooit ontvang het nie, te aanvaar.” Hoewel dit lekker is om ’n verskoning van iemand af te hoor, gebeur dit nie altyd nie. Soms gebeur dit wel, maar dit klink glad nie soos jy gehoop het dit sou nie. Jy kan iemand nie dwing om berou te toon nie, en daarom kan jou vergifnis nie afhang van die oortreder se woorde of aksies nie.

Artikel deur Annelize Steyn