Dit is tyd dat jy en manlief vir ’n aand uitgaan op ’n welverdiende blaaskans, maar hoe gemaak met die kinders? Wie gaan na hulle kyk?

Promosie

Dit is ’n aand wat julle wil ontspan sonder om aan die kinders te dink, wát nog te sê bekommerd wees! Skoonma en die bure se dogter is nie noodwendig altyd die (ideale) oplossing nie, maar watter alternatiewe is daar en hoe betroubaar en bekostigbaar is professionele kinderoppassers? Ons help julle om dié uitdagende besluit te neem en hoe om voor te berei vir ’n ontspanne (kinderlose) aandjie uit.

Jan Tuisbly se karretjie

Vir sommige paartjies is dit baie eenvoudig om ’n date night te beplan. Die kinders gaan oudergewoonte na die familie toe. Sus, ma of skoonsus kom babysit by jul huis óf die bure se dogter kom verdien sakgeld en vermaak jul kinders.

Promosie

Vir ander is dit ietwat meer ingewikkeld, want daar is geen familie naby nie, julle is nie gemaklik om die familie te vra nie of die bure se dogter is nie ’n opsie nie. Teen dié tyd is julle dalk al keelvol om net met Jan Tuisbly se karretjie te ry en nooit meer die naglewe te ervaar nie! Moenie bekommerd wees nie, julle is nié alleen nie en daar ís hoop. Dis dalk nou slegs ’n idee waarop jy vir ’n rukkie wil broei, maar doen sommer nou al jou huiswerk.

Waar kry jy ’n oppasser?

In stedelike gebiede is dié oplossing voorwaar ’n luukse en is daar ook gewoonlik ’n verskeidenheid maatskappye waaruit jy kan kies. Op die platteland is dit ongelukkig selde ’n opsie. Vra gerus vriende of kennisse, dalk kan hulle iemand aanbeveel waarmee hulle tevrede was en dit vergemaklik jou soektog.

Anders, vra vir Google en siedaar, jy het ’n lys maatskappye op jou vingerpunte. So eenvoudig soos dit, jy kies ’n maatskappy, of ’n paar, lees oor elkeen, asook die terugvoer en getuigskrifte wat meestal op elkeen se webtuiste beskikbaar is. Met die skuif van ’n muis en ’n “ek kliek hier en ek kliek daar, en siedaar” kan jy jou versoek of navraag rig, per epos of per telefoon.

Hoe kies jy die régte oppasser?

Die meeste maatskappye se inligting is volledig uiteengesit en jy kan aanlyn daarna kyk. Dit sluit die gebiede waarin hul oppassers werk in, ’n lys van die oppassers, hul profiele en kwalifikasies, of hulle ’n bestuurslisensie en vervoer het en kan swem (wat wondere vir jou gemoedsrus sal doen!). Sodoende weet jy sommer hoe sy lyk en wat sy alles kan doen voor sy aan jou voordeur klop!

Die belangrikste is om vooraf presies te besluit waarna jy in ’n oppasser soek – of sy byvoorbeeld moet kan swem en bestuur, of hoeveel ondervinding sy moet hê voordat jy jou finale keuse maak. Dis noodsaaklik om te verseker dat jy en manlief beide gelukkig en op jul gemak is met jul keuse, sodat julle gerus is met die oppasser in wie se hande jy jou kosbare kindertjies vir ’n paar ure laat.

Ideale eienskappe van ’n oppasser

  • Maak seker die oppasser is ouer as 16 jaar.
  • Vra verwysings én volg dit op.
  • Sorg dat sy die regte kwalifikasies en noodhulp-opleiding het en CPR kan toepas.
  • Sy moet stiptelik wees.
  • Sy moet gemaklik, kalm en selfbeheersd wees, en goeie interaksie en kommunikasie openbaar.
  • Sy moet goeie higiëne openbaar, gesond en netjies wees.
  • Die kinders moet van haar hou.
  • Sy moet jou opdragte noukeurig kan volg.
  • Sy moet ’n sterk verantwoordelikheidsin hê en jy moet op haar kan staatmaak.
  • Sy het ’n liefde en aanvoeling vir kinders.
  • Sy is volwasse, selfversekerd, aanpasbaar en het goeie maniere.
  • Sy is ingestel op veiligheid.

Dinge om in gedagte te hou

Begin vroegtydig soek sodat jy die ideale oppasser betyds kry. Gaan alle verwysings van oppassers sélf deeglik na, al werk jy deur ’n maatskappy. (Die ideaal is om iemand te gebruik wat voorheen deur jou vriende of ’n kennis gebruik is.) Vra om persoonlik of per telefoon ’n onderhoud te voer met die oppasser vir jou gemoedsrus. Persoonlik is natuurlik beter, want dan kan jy ’n idee kry van haar verantwoordelikheidsin, asook hoe geduldig, behendig, positief, eerlik en versorgend sy is. Let op haar interaksie en stemtoon, die manier waarop sy jul kinders help, asook haar persoonlike netheid.

Die ideaal is dat die voornemende oppasser vooraf ’n tydjie by jul kinders deurbring. Dit gee jou die kans om waar te neem sodat jy op jou gemak kan wees wanneer julle wél uitgaan. Vra hierna jou kind(ers) se mening, want dis baie belangrik dat hulle ook insae het, maar jou nie manipuleer nie.

Stel vooraf ’n lysie vrae op, soos waar sy woon, beskikbaarheid, verwysings, hoe lank sy al vir die maatskappy werk, watter ondervinding sy het (dalk het sy self kinders of kom uit ’n groot gesin), watter ouderdomsgroepe sy ondervinding mee het en waarmee sy gemaklik is, aktiwiteite wat sy graag saam met kinders doen, hoe sy ’n vloermoer, noodgeval of siekte sal hanteer en haar idee van dissipline toepas. Laastens, observeer voortdurend en vertrou jou instink – as jy voel iets is nie reg nie, soek eerder verder.

Wat kostes aanbetref

Elke maatskappy se tariewe verskil, maar dit word gewoonlik uurliks bepaal. Tariewe wissel van ongeveer R45 tot R120 per uur na van gelang van die kind/ers se ouderdom, aantal kinders, ure benodig vir die aand en of hulle moet bly tot ná middernag. Dubbel tariewe word gehef op publieke vakansiedae. Sommige oppassers mag vra vir vergoeding vir petrol.

Berei die jongspan voor! Gesels vooraf ’n bietjie met jou kinders oor die oppasser sodat hulle verstaan dat julle ’n bietjie uitgaan, maar weer dieselfde aand terugkom. Dis beter as hulle ook uitsien, so maak dit vir hulle lekker. Gee byvoorbeeld vir hulle ’n DVD waarna hulle saam met haar mag kyk.

Date night en jou checklist

Date night breek uiteindelik aan en jy het alles onder beheer. Jou senuwees behoort nié op breekpunt te wees nie, want jy het mos alles gereël en die kinders sien uit!

  • Die oppasser moet liefs ’n paar minute vroeër kom, sodat jy haar alles kan wys wat sy moet weet.
  • Neem haar op ’n toer deur die huis, wys haar waar die noodhulpkas is (en flitse en ook noodmedikasie indien jou kind allergieë het).
  • Wys ook plekke uit waar die kinders mag en nié mag wees nie.
  • Gaan die checklist saam deur wat jy vooraf opgestel het. Op die lysie moet jou kind se roetine uiteengesit wees, asook enige ander huisreëls (soos gebruik van die rekenaar en TV kyk).
  • Gaan ook die reëls deur wat op die oppasser van toepassing is, soos dat sy nie mag vriende oornooi of die kinders uitneem nie en dat haar aandag by die kinders moet wees, nie op ’n slimfoon nie.
  • Onthou om te sê watter spesiale reëlings daar met slaaptyd is, soos tee, ’n bottel, troos-item, nagliggie ens.
  • Skryf jul selnommers, noodnommers en mediese fonds nommers neer op die lysie. Jy kan ook geld los dat hulle wegneem-pizza bestel.
  • Laastens, hou by die tyd wat julle gereël het julle weer tuis sal wees.

Gesels so gou as moontlik met jou kind(ers) oor hoe die aand was, sodat jy seker is alles het volgens plan verloop en dat hulle gemaklik met die oppasser was. Jy weet nooit hóé gou jy dalk weer ’n date night beplan nie!

Idee!

Skep ’n ‘babysit club’ met jou vriendinne en babysit vir mekaar. Jy kan een aand jou vriendin se kinders gaan oppas, terwyl manlief by die huis bly saam jou kinders. Volgende keer as julle wil uitgaan, is dit haar beurt.

 

Deur Yolanda Wessels