Jy hoor hierdie boodskap oral by ou getroudes, by huwelikseminare en jy lees dit in selfhelpboeke: Kommunikasie is koning! En ja, ons beaam doeltreffende kommunikasie as ‘n maatreël teen misverstande.
‘n Misverstand is ‘n aaklige ding! Die uiteinde van ‘n misverstand is dat een of beide partye ontnugter staan. Dit is die onvermoë om iets of iemand korrek te verstaan, dis ‘n illusie ‘n verwronge realiteit.
Gewoonlik vind misverstande plaas as gevolg van verkéérde kommunikasie, eerder as die afwesigheid van kommunikasie. Jy sê een ding, jou maat hoor ‘n ander ding en boom! Jy lig jou wenkbroue, jou maat maak sy aanname en nog ‘n boom! Het jy al rooi gesig gestaan ná jy ontdek het die onderklere van die strokie wat weggesteek was in sy baadjie se sak, was vir jóú bedoel en nie die bose flerrie wat jy in jou kop tot lewe geroep het nie?
Daar is verskeie redes vir misverstande. Die webtuiste aha.com lys, onder andere, die volgende:
- Jy interpreteer wat jou maat bedoel het verkeerd
- Jy verstaan nie mooi nie, want die boodskap is verkeerd oorgedra
- Jy en jou maat is emosioneel nie op dieselfde plek nie
- Julle het vooropgestelde idees wat inmeng met objektiewe waarneming
- Jy gebruik gedrag en ervaring uit die verlede om jou gevolgtrekking te maak
- Jy word beïnvloed deur ander mense, gedagtes of gebeure.
- Jy wantrou die ander persoon, jy is jaloers of jy het ‘n tekort aan selfvertroue
Dit is nie altyd moontlik om ‘n misverstand te voorkom nie, maar jy en jou maat kan sekere gewoontes in plek stel om misverstande te probeer voorkom:
- Pasop vir flukse vingers … Whatsapp is ‘n wonderlike vorm van kommunikasie. Dis vinnig, onmiddellik, gratis en ‘n doeltreffende manier om ‘n video of foto aan te stuur. Maar wanneer dit kom by gesprekke, is dit ‘n vorm van kommunikasie wat jy en jou maat liefs moet vermy.
Kom ooreen om in persoon met mekaar oor belangrike sake te praat en mekaar dan te Face Time of te bel vir basiese kommunikasie. Teksboodskappe is daar vir vinnige interaksies of kort boodskappe.
Dit is belangrik om mekaar se stemme te hoor en om mekaar in die oë te kyk wanneer julle praat. Egte kommunikasie hou misverstande weg, want visuele tekens en stemtoon help om ‘n boodskap duideliker oor te dra en te verstaan.
Pasop ook vir ‘n begrip wat Cindi Sanone-Braff in haar artikel “How to Avoid the 4 Common Misunderstandings that will Ruin any Relationship” op die webtuiste Everydaypower.com noem “teksmishandeling”: Dinge wat jy reguit en hard op SMS sê wat jy nóóit in persoon aan jou maat sal sê nie.
- Dink twee keer voor jy praat en luister twee keer voor jy aanneem
Dit klink eenvoudig, maar soveel misverstande sluip in as jy nie hierdie reël volg nie. As jou maat jou vra wat jy gedurende die volgende date night wil doen, en jy antwoord: “Maak nie saak nie”, kan dit maklik geïnterpreteer word as “Ek gee nie om nie.”
Eerstens, omdat jy nie mooi gedink het voor jy jou antwoord formuleer het nie, en tweedens omdat jou maat nie na die bedoeling van jou antwoord geluister het nie, en sy/haar eie afleidings gemaak het.
Gebruik dus eerder té veel woorde as té min wanneer jy ‘n vraag vra en ‘n antwoord gee om seker te maak julle verstaan mekaar nie verkeerd nie.
- Kommunikeer, kommunikeer. En kommunikeer wéér! Julle bespreek Boeta se versoek om koshuis toe te gaan. Die gesprek duur tien minute. Manlief dink dis afgehandel en jy dink “I’ve only scratched the surface!” Jul gesprek word onderbreek.
Drie weke later pak Boetman ywerig sy tas, en wanneer jy vra waar hy dink hy gaan, sê hy: “Ek gaan Maandag koshuis toe. Pappa sê julle het dit lankal bespreek!” Een van die grootste foute as dit kom by kommunikasie tussen paartjies, is om te glo dit het reeds plaasgevind (wanneer dit nie die geval is nie!)
En een manier om hierdie probleem te voorkom, is om ná die gesprek ‘n ‘opsomming’ te verwoord: “So, verstaan ek reg as ek sê jy dink ons moet die koshuis-deposito betaal? Van my kant af wil ek net sê dat ek nog glad nie aan boord is hiermee nie en dat ek dink ons moet vóór Sondag hierdie gesprek hervat.”
Só iets sou die situasie dalk beter oplos, of ten minste beplanning vir ‘n oplossing daar stel.
- Goeie kommunikasie verg nuuskierige agies! Na die bom gebars het, gaan sit jy en manlief weer om die koshuis-saak uit te praat. Jy is woedend en met elke antwoord wat hy gee, maak jy gereed om terug te vuur.
Jy laai jou ammunisie en dit verg soveel konsentrasie, dat jy nie ‘n woord hoor wat hy vir jou probeer sê nie! Jy gee hom skaars kans om terug te praat voor jy jou volgende aanval loots.
Luister gaan nie daaroor om te dink aan wat jy volgende wil sê nie. Dit gaan daaroor om op presies dieselfde plek as jou maat te kom. Om jouself in jou maat se skoene te plaas, sodat jy kan begryp wat hy wil oordra.
Laat jou maat dus toe om behoorlik te sê wat hy op die hart het en vra: “Verstaan ek reg as jy sê jy dink dit gaan sy akademie bevoordeel as daar vasgestelde studietye is?” As hy klaar gepraat het, absorbeer sy woorde voor jy jou antwoord versigtig formuleer.
- Luister ook na dít wat jy nie graag wil hoor nie. Soms maak die waarheid seer. En dit gebeur só maklik dat ons ons ore sluit vir dít wat ons nie graag wil hoor nie of sommer ons maats se antwoorde verdraai om die resultaat te hê wat ons verlang.
Manlief praat rustig: “Bokkie, ek weet jy wil dit nie hoor nie, maar jy smother vir Boeta. Hy wil nou sy vlerke sprei en jy kan hom nie altyd klein hou nie. Jy sal moet leer om bietjie te laat los.”
Hmm, dis dalk moeilik om te hoor, maar vir kommunikasie om effektief te wees móét jy luister – ook na dit wat jou ongemaklik maak. Dis nie lekker nie, want dit laat jou soos ‘n helikopter-ma of ‘n pshyco klink! Maar as jy mooi oor die saak dink, sal dit jou dalk perspektief gee en kan dit help om jou as ‘n individu te laat groei.
- Voor jy oordeel, klim in haar skoene – selfs al is hulle ‘n size te klein! Jy kan nie verstaan hoekom jou vrou jul kind so wil oppiep nie, hy is immers al in graad 10! Jy wil dit eintlik nie eers met haar bespreek nie, want jý was koshuis toe in graad twee en dis tyd dat Boeta leer om sy eie bed op te maak! Maar vóór jy praat, dink mooi aan hoe jy dit wil sê.
Voor jy jou nie in haar skoene geplaas het nie, kan jy nie haar gedrag oordeel nie. Het jy vergeet hoe sy gebid het vir hierdie laaste kuiken? Hom geborsvoed het tot op twee? En hoe sy hom amper op agt maande verloor het? Kan jy dink hoe bang is sy dat as hy julle huis verlaat, hy ook haar arms gaan verlaat? Ja, jy is ook sy ouer, maar jy kan nooit verstaan hoe ‘n ander persoon voel voor jy nie in haar vel geklim het om dinge van haar perspektief af te beskou nie. Empatie kan jou ver bring om ‘n misverstand te vermy.
In die artikel: ‘How to avoid misunderstandings’ op aha-now.com, skryf Harleena Singh dat die meeste misverstande plaasvind as gevolg van miskommunikasie, verskillende opinies, mense wat nie op dieselfde golflengte is nie en verskillende maniere van dink. Sy gebruik graag die akroniem LOVE om misverstande te voorkom:
L = Luister met aandag. Luister met al jou aandag na elke woord wat gesê word en wanneer jy lees, lees elke woord.
O = Observeer versigtig. Maak seker jy mis nie enige visuele teken wat die boodskap kan aanvul nie. Maak ook seker hoe jy jou woorde kan oordra en wees bewus van die intensie waarmee die inhoud oorgedra word.
V = Verifieer jou gedagtes. Suiwer jou twyfel en moenie toelaat dat jou gedagtes jou beïnvloed voor jy duidelikheid het nie. Verifieer die liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en ander faktore wat saam met die woorde gespreek het.
E = Evalueer jou observasies en verifieer dit. Vind uit of dít wat die ander persoon oordra, dieselfde is as wat jy verstaan. As jy onseker is, vra vir duidelikheid, voor jy jou eie (verkeerde) aannames maak.
Daar sal áltyd misverstande wees, want ‘n paartjie bestaan uit twee individue en soms raak ‘n boodskap lost in translation. Maar deur ‘n saak stadig en rustig te benader, kry julle beide tyd om te dink, te absorbeer en die ergste tameletjies vry te spring.
Addisionele bronne: https://www.relrules.com/7-things-to-keep-in-mind-to-avoid-misunderstandings-in-a-relationship; www.everydaypower.com; www.themotionmachine.com
Artikel deur Annelize Steyn
Indien opsoek is na meer sulke artikels en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!