Elke individu en elke paartjie moet ‘n droom hê. ‘n Droom waarvoor jy kan beplan, en waarin jy kan glo
Ek en my vrou het onlangs besluit om weg te gaan vir die naweek om ons 13e huweliksherdenking te vier. Die aand van ons herdenking het ons in die buitelig by ‘n warm vuur gesit en ons kennis van mekaar getoets. Ons het nogals goed gedoen! Hoewel ek en my vrou altyd baie lekker saam oor ons toekoms droom, het een vraag ons uitgevang. Dit was: “Wat is jou persoonlike droom vir jou toekoms?”
Ek was verbaas en opgewonde oor die persoonlike droom wat my vrou vir haar toekoms het. Die vraag was hoe ons dié droom sou finansier
Banke is bereid om krediet toe te staan, wat dit natuurlik baie maklik maak om hierdie droom onmiddelik waar te maak. Die uitsien na en verwagting van ʼn droom wat waar word, is dan weg. Kits oplossings is geneig om die waarde van ons drome só te verklein dat dit bykans geen waarde tot ons lewens toevoeg nie.
Ons het nog altyd die uitgangspunt gehad dat ons spaar vir ons drome. Dit neem wel langer, maar dit maak die proses van beplan en doelwitte stel net soveel lekkerder. Wanneer ons vir ʼn spesifieke droom spaar, maak ons dit deel van ons begroting. Die droom word dus deel van ons maandelikse uitgawes. As ons kontantvloei nie dadelik die uitgawe toelaat nie, gaan soek ons vir uitgawes in ons begroting waar ons kan afknyp om vir ons droom te spaar. Ons evalueer maandeliks die vordering van ons poging om by ons teiken uit te kom.
Hoe hou ʼn mens jou fokus op jou droom? Vir ons werk ‘n visie bord die beste. Dit is ‘n konstante herinnering aan die droom wat jy wil bereik.
Jy kan ‘n aansteek-bord met prente van jou droom iewers in die huis opsit. Dit kan enigiets wees – van ‘n mooi uitrusting, tot die droom-vakansie of selfs die nuwe besigheid wat jy graag wil bou. Van my kliënte het selfs foto’s van hul drome op hul selfoon skerms om hul konstant daaraan te herinner. Hoe meer visueel die droom is, hoe makliker is dit om die droom te bereik.
Ons dink anders!
Benader mans en vrouens hul finansies verskillend? Uit my ervaring dink ek wel so.
Die beleggings strategie en gevolglike prestasie vir vroulike beleggers neig om meer stabiel te wees. Hulle is minder geneig tot fonds skuiwe, teenoor mans wat ‘n meer aggressiewe benadering tot beleggings volg.
Hoekom is dit die geval? In die verlede was dit so dat mans oor die algemeen groter besteebare kapitaal as vroue beskikbaar gehad het. As gevolg hiervan kon mans groter risiko’s met hul beleggings aangaan. Wanneer ons by beleggings risiko kom, is dit só dat hoe meer risiko jy bereid is om te neem, hoe groter die potensiële groei is. Die teendeel is ook waar.
In die laaste twintig jaar het die dinge egter baie verander. Vroue maak ʼn groot deel van die ekonomie uit, en in meeste huishoudings word daar staat gemaak op beide lewensmaats se inkomste wat die noodsaaklikheid van finansiele beplanning as ‘n egpaar krities belangrik maak. Voorsiening vir die vervanging van ‘n eggenoot se inkomste by afsterwe, ongeskiktheid of ʼn traumatiese voorvalgebeurtenis, is nou meer nodig as ooit – vir beide mans en vroue in ʼn huwelik.
Jy is uniek
Ons behoeftes, drome en voorkeure verskil. Gaan soek vandag jou prentjie, jou unieke droom. Skryf dit neer, plak ʼn prent op teen die muur, sit die foto op jou selfoon skerm of langs jou kantoor rekenaar en begin daarvoor beplan.\
As jy en jou maat jul finansies wil beplan, vul die vorm in en ons help jou:
Het jy een van die vorige artikels in hierdie reeks misgeloop?
DEEL 1: Oop kommunikasie oor begroting, lewenstyl en lewensgehalte kan jou huwelik ryk maak! Lees die artikel hier …
DEEL 2: Begin vroegtydig met jul beplanning, spaar doelgerig en vergeet van Buurman Jones. Lees die artikel hier…
Artikel deur Martin Herbst, finansiële adviseur by Sanlam