– Artikel deur Liezel van der Merwe
As ek jou vandag vra hoe dit met jou finansies gaan, sal jy waarskynlik weet.
Jy weet of daar genoeg geld in die rekening is, of julle moet spaar, en of die begroting knyp. Jy weet ook dat jy nie aanhoudend geld kan onttrek sonder om weer iets in te betaal nie.
Maar hier is ’n ander vraag:
Hoe lyk die ekonomie van jou huwelik?
Ek het onlangs op die idee van ’n vriendskapsekonomie afgekom en dadelik gedink: Dis presies hoe ’n huwelik ook werk!
Want elke gesonde ekonomie het kapitaal, beleggings en groei nodig. Daar is soms inflasie, onttrekkings en selfs resessies. En wanneer dinge skeefloop, het jy ’n herstelplan nodig.
Kom ons kyk ’n bietjie na die ekonomie van jou huwelik.
- KAPITAAL: Wat is julle grootste bate?
In die finansiële wêreld is kapitaal die hulpbronne waarmee jy kan bou en groei.
In jou huwelik is jou belangrikste kapitaal nie julle huis, motors of bankbalans nie.
Dis tyd, vertroue en teenwoordigheid.
Julle kan elke aand op dieselfde bank sit, maar kilometers van mekaar verwyder wees. Julle kan ’n bed deel, maar nie meer julle harte nie.
By mekaar wees beteken nie net om fisies daar te wees nie. Dit beteken om beskikbaar te wees.
Klein kapitaalbouers:
- Gee mekaar ’n behoorlike hallo-soen wanneer julle ná ’n lang dag weer bymekaar kom.
- Maak oogkontak wanneer jou maat met jou praat.
- Stel regtig belang om te hoor wat die dag gebeur het. Luister regtig.
- Sit vir tien minute saam sonder enige skerms.
Onthou: Jou maat het nie net jou tyd nodig nie. Hy of sy het jóú nodig.
- BELEGGING: Waarin belê julle elke dag?
Ons belê in ons loopbane, ons kinders, ons huise en ons aftrede. Maar wanneer laas het julle doelbewus in julle verhouding belê?
’n Huweliksbelegging is enige daad wat vertroue, liefde en julle band versterk. Dit hoef nie duur te wees nie. Trouens, van die beste beleggings kos nie ’n sent nie.
Vier klein beleggings met groot potensiaal:
- Die koffie-afspraak van R0: Maak koffie by die huis, sit buite en gesels soos toe julle nog uitgegaan het.
- Die 15-minuut-ompad: Ry ná werk ’n ander roete huis toe. Net julle twee, sonder ’n agenda.
- Die geheime boodskap: Los ’n briefie in jou maat se skoen, skootrekenaar of motor.
- Die kalenderbelegging: Maak sommer nou ’n afspraak vir volgende week. Skryf dit in voordat iets anders daardie tyd opeis.
Die geheim van ’n goeie belegging is konsekwentheid. Een romantiese naweek per jaar kan nie vir al die verwaarloosde dae tussenin vergoed nie.
- SAAMGESTELDE RENTE: Wanneer klein liefdesdade groot word
In die finansiële wêreld beteken saamgestelde rente dat jy rente op jou oorspronklike belegging én op die rente wat reeds opgebou het, verdien.
In die huwelik werk klein liefdesdade op ’n soortgelyke manier.
Een kompliment verander dalk nie jou lewe nie. Maar ’n duisend komplimente oor twintig jaar?
Een drukkie lyk klein. Maar duisende drukkies bou ’n geskiedenis van liefde en veiligheid.
Elke keer wanneer jy jou maat se hand vat, dankie sê, geduldig luister of ’n belofte nakom, bou jy aan iets wat met tyd dieper en sterker kan word.
Probeer hierdie drie gewoontes:
- Die eerste lig: Begin die dag saam met koffie/tee en ’n boodskap uit die Woord.
- Die nader skuif: Skuif nader as julle saam TV kyk, trek haar nader met ‘n soen op die kop, sit jou hand op sy been as julle ry. Wees fisies nader aan mekaar.
- Die verrassing: Reël ‘n date night, koop ‘n klein presentjie, kook ‘n nuwe resep saam, daag kaal op in sy studeerkamer – behou opwinding!
Dis selde één groot romantiese gebaar wat ’n huwelik sterk maak.
Dis honderde klein keuses wat oor jare sê: “Ek kies jou weer.”
- ONTTREKKINGS: Wat tap julle huweliksrekening leeg?
Elke verhouding beleef onttrekkings.
Gebroke beloftes. Afgeskeepte afsprake. Sarkasme. Kritiek. ’n Skerp woord waarvoor niemand jammer sê nie.
Of die klein teleurstellings wat ophoop wanneer die een persoon voortdurend voel dat alles en almal belangriker is as hulle.
Sommige onttrekkings is groter as ander. Ontrouheid, oneerlikheid en herhaalde vertrouensbreuke kan diep skade aanrig.
En net soos met ’n bankrekening kan jy nie onbepaald meer onttrek as wat jy inbetaal nie.
Hoe beperk julle onnodige onttrekkings?
- Sê betyds as jy ’n afspraak nie kan nakom nie. Maak sommer dadelik ’n nuwe een.
- Vervang “Jy luister nooit!” met “Ek mis dit wanneer ons regtig gesels.”
- Sê jammer sonder die woordjie “maar”.
- Moenie jou maat voor ander mense verkleineer nie, selfs nie as ’n grappie nie.
En onthou: ’n Groot vertrouensbreuk word nie met ’n paar mooi gebare reggemaak nie. Ware herstel vra eerlikheid, verantwoordelikheid, tyd en soms professionele hulp.
- INFLASIE: Wanneer die lewe julle tyd saam opvreet
Ons ken almal inflasie. Jou geld koop vandag minder as gister.
Maar daar is ook iets soos huweliksinflasie.
Wanneer die lewe so besig raak dat die tyd wat julle saam het, al minder soos julle voel. Dis asof die nabyheid tussen julle net weg is.
Die kinders het aktiwiteite. Die werk vra meer. Die huis het aandag nodig. Die fone hou nooit op nie.
Julle het dalk nog dieselfde hoeveelheid ure saam, maar die gehalte van daardie tyd neem af.
En soos met finansiële inflasie gebeur dit dikwels so geleidelik dat niemand dit dadelik agterkom nie.
Klop inflasie met vier slim tydkeuses:
- Ruil 15 minute se skermtyd vir geselstyd. Dis meer as 90 uur per jaar!
- Maak gewone dinge buitengewoon. Kook saam met musiek aan. Dans sommer tussen die potte.
- Skep ’n klein ritueel. Vrydagoggendkoffie, ’n Sondagaandstappie of Woensdagontbyt.
- Nou. Moenie wag vir later nie. Doen vandag iets lekker, iets beter, iets spesiaal saam. Al is dit klein.
Julle hoef nie noodwendig méér tyd te kry nie. Julle moet soms net anders dink oor die tyd wat julle reeds het.
- RESESSIE: Wanneer die huwelik begin krimp
’n Ekonomiese resessie beteken dat ekonomiese aktiwiteit afneem.
In ’n huwelik lyk ’n resessie dikwels só:
Julle praat nog, maar hoofsaaklik oor die kinders, inkopies, rekeninge en wie die kar moet volmaak.
Daar is minder diep gesprekke, minder intimiteit en minder belangstelling in mekaar se binneste wêreld.
Julle funksioneer uitstekend as ’n huishoudelike bestuurspan, maar sukkel om as huweliksmaats kontak te maak.
Die gevaar is dat ’n huwelik in ’n resessie kan wees sonder dat daar groot bakleiery is.
Alles lyk eintlik heel normaal.
Net die warmte is weg.
Drie vrae om die stilte te breek:
- “Wat mis jy van ons twee?”
- “Wanneer voel jy die naaste aan my?”
- “Wat kan ons weer begin doen wat ons vroeër geniet het?”
Moenie hierdie vrae gebruik om mekaar se tekortkominge uit te wys nie. Gebruik dit om mekaar se harte weer te ontdek.
En onthou: ’n Resessie beteken nie noodwendig dat die liefde verby is nie. Dit kan bloot beteken dat julle verhouding weer doelbewuste aandag nodig het.
- EKONOMIESE AANWYSERS: Flikker daar rooi ligte?
Ekonome kyk na sekere aanwysers om te bepaal of ’n ekonomie gesond is of in die moeilikheid begin beland.
Ons huwelike het ook sulke aanwysers.
Kyk of julle enige van hierdie tekens herken.
| Waarskuwingstekens | Tekens van groei |
| “Ons moet regtig weer ’n slag tyd maak vir mekaar.” | Julle maak gereeld tyd om saam te wees. |
| Boodskappe vervang werklike gesprekke. | Julle gesels oor meer as net die dag se reëlings. |
| Julle kanselleer gereeld jul afsprake. | Julle skep doelbewus nuwe herinneringe. |
| Julle voel eensaam, selfs wanneer julle saam is. | Daardie gevoel: Jy ken my, jy hoor my, jy is my mens. |
| Sosiale media en ander mense kry die meeste aandag. | Julle prioritiseer mekaar en koester ’n paar hegte, betroubare vriendskappe. |
Hierdie is nie ’n toets waarin julle punte moet verdien nie. Dis bloot ’n manier om eerlik te kyk na wat in julle verhouding gebeur.
Die belangrike vraag is nie hoeveel rooi ligte julle het nie, maar wat julle bereid is om daaraan te doen.
- HERSTELPLAN: Begin met een klein deposito
Wanneer ’n land se ekonomie sukkel, stel die regering en ander rolspelers ’n herstelplan op.
Wanneer julle huwelik swaarkry, het julle ook ’n plan nodig.
Nie noodwendig ’n ingewikkelde plan met groot beloftes nie.
Begin klein.
Hier is INTIEM se eenvoudige 7-dae-huweliksherstelplan:
- Maandag – Aandag:
- Gee jou maat tien minute van jou onverdeelde aandag.
- Dinsdag – Waardering:
- Noem drie dinge waarvoor jy dankbaar is.
- Woensdag – Verrassing:
- Doen een klein, onverwagse ding wat jou maat sal laat glimlag.
- Donderdag – Gesprek:
- Vra ’n vraag waarop jy nie reeds die antwoord ken nie.
- Vrydag – Pret:
- Doen iets wat julle saam laat lag. Selfs ’n lawwe dans in die kombuis tel!
- Saterdag – Avontuur:
- Besoek ’n plek waar julle nog nie saam was nie. Dit kan selfs net ’n nuwe koffiewinkel wees.
- Sondag – Verbinding:
- Gaan saam kerk toe en maak een plan vir die nuwe week.
Sewe dae gaan nie noodwendig jare se seerkry oplos nie. Maar dit kan ’n nuwe ritme begin.
Want ’n huwelik word nie net gebou deur wat julle vir mekaar voel nie, maar ook deur wat julle doelbewus vir mekaar doen.
INTIEM VIER 20 JAAR: Die beste belegging bly julle twee
Vanjaar vier INTIEM twintig jaar van huweliksinspirasie.
Twintig jaar waarin ons paartjies aangemoedig het om mekaar lief te hê, beter te verstaan, moeilike seisoene saam deur te werk en weer die vreugde van hulle verhouding te ontdek.
En as daar een boodskap is wat ons graag in hierdie besonderse verjaarsdagjaar wil beklemtoon, is dit hierdie:
Moenie wag totdat jou huwelik emosioneel bankrot is voordat jy begin belê nie.
Jy hoef nie die perfekte huwelik te hê nie. Jy hoef nie groot geld op romantiese wegbreke te spandeer nie. Jy hoef nie eers te wag totdat jou maat verander nie. Jy kan vandag begin met ’n klein, opregte daad van liefde.
En ’n ryk huwelik is nie noodwendig ’n huwelik sonder probleme nie. Dis ’n huwelik waarin twee mense aanhou leer om in mekaar te belê, selfs wanneer die lewe duur raak.
So, voordat jy vandag weer jou banksaldo nagaan, vra dalk eers:
Wat kan ek vandag in óns rekening inbetaal?
Nota: Volg INTIEM se sosiale media by @intiemhuwelik vir al ons vieringe. Hou ook ons beste Marriage Capsule-aanbod nóg dop – een van die beste beleggings wat jy in jou huwelik kan maak!
Alle eer aan God!

