Dit kos ‘n appel en ‘n ei vir ’n 250ml-kannetjie bordkrytverf, en jy kry dit nou in elke denkbare kleur moontlik! Dis ’n lekker goedkoop item om in die huis te hê waarmee jy manlief se voete onder hom kan uitslaan.

1. Maak vir hom sy eie koffiebeker. Koop ’n stel lekker groot, goedkoop wit koffiebekers by ’n groothandelaar. Verf die onderste of boonste helfte met die swartbordverf en skryf in dik letters “Myne” op die geverfde gedeelte! Jy kan ook sy naam daarop skryf, of iets soos: “Die beste man in die hele, wye wêreld!

2. Verf ’n groot kalender op een van die mure in jul slaapkamer. Julle kan elke dag ’n ander skakering maak deur die wit en swart bordverf te meng tot variasies van grys. Dis jul liefdeskalender! So, skryf vir mekaar mooi boodskappies daarop en vul jul date nights hier in. (As manlief geneig is om jul huweliksherdenking te vergeet, is dié een ideaal vir hom!)

3. Vra manlief om jou te help om ’n splinternuwe bed-kopstuk te bou. Gaan koop ’n plank by ’n hardewarewinkel, vra hom om dit te saag in die vorm waarvan julle hou (reghoekig met skerp punte, reghoekig met stomp punte of ’n gedetailleerde rand met patrone). Skuur dit af en verf die hele bord swart. Skryf bo-aan: “Sy kant” en “Haar kant”. Nou kan julle stoute boodskappe (en versoeke) op die bedkopstuk aanbring wat julle met slaaptyd kan lees!

Promosie

4. Verf die voordeur se agterkant heeltemal met swartbordverf (as jy seker is dat jou man nie ’n oorval gaan kry nie – maak seker jul voordeur is nie gemaak van die een of ander duur houtsoort nie!). Skryf nou bo-aan: “Tien redes waarom ek steeds dolverlief is op jou.” En lys die redes. As dit nie ’n “welkom tuis”-geskenk is nie, wat is?

5. Neem een van jou ou skinkborde en verf die binnekant daarvan met swartbordverf. Skryf met kryt daarop: “Ek kan vir jou enigiets opdien waarvan jy hou.” Los nou jou bra bo-op die skinkbord en los die skinkbord (met die bra) by die voordeur vir hom om te kry as hy huis toe kom (okay, dié “welkom tuis”-geskenk beat die vorige een loshande!).

6. Koop ’n leë skilderdoek. Verf die hele doek toe met swartbordverf en skryf bo-op die volgende boodskap vir hom: “I can’t promise you a perfect relationship, without arguments over our differences and trust issues. However, I can promise you that as long as you’re trying, I’m staying.” As jy nie van dié stuk hou nie, kry ’n mooi aanhaling uit ’n Afrikaanse gedig of ’n teksvers uit Hooglied en gebruik dit eerder.

7. Verf die sole van een van sy pare skoene met swartbordverf een oggend wanneer jy vroeg moet uitgaan terwyl hy nog slaap. Skryf daarop: “My liefde is by jou vandag, met elke tree wat jy gee.” Los ’n briefie op sy bedkassie en sê hy moet onder sy skoene kyk.

8. Maak ’n plekmatjie uit ’n stukkie plank en skryf elke aand vir hom iets moois daarop, soos: “By jou voel ek altyd versadig.”

9. Koop ’n ou kassie met ’n klomp laaie by ’n tweedehandse winkel. Verf die hele kassie met die swartbordverf en gee elkeen van sy tools ’n spesifieke laaitjie. Skryf onderskeidelik: “Skroewe, spykers, handboor . . .” Sorteer sy gereedskap daarvolgens en gee dit as geskenk vir hom. Jy kan ook só ’n kassie vir sy studeerkamer maak met plek vir skryfbehoeftes – na gelang van hoe ’n groot kassie jy in die hande kry.

10. Plant vir hom ’n bonsai in ’n mooi bak of pot wat jy met swartbordverf bedek. Skryf onderaan, reg rondom die bak: “Dis moeilik vir my om my liefde vir jou te kompak te hou, maar as ons gereeld daaraan snoei, sal ons saam groei tot ons eendag oud is.”

Artikel deur Annelize Steyn