Ek is ontsettend lief vir my werk. Ek het hard studeer en alles gedoen wat nodig was om die korporatiewe leer te klim. My man het gesê dit was my ambisie wat my na hom toe aangetrek het, maar nou het daardie einste aantreklikheid ’n irritasie in ons huwelik geword. Hy sê ek is met my werk getroud en hy is maar net ’n bysaak. Ek weet nie hoe om hierdie probleem op te los nie. My werk verg baie ure van my en ek geniet elke oomblik. Hoe hou ek my man gelukkig?

Promosie

Leslie Garner van The Telegraph meen die oorsaak van skade in ’n huwelik is die kombinasie van onrealistiese verwagtinge en ’n tekort aan tyd om te reflekteer oor hoe die lewe verloop. Sy sê dat paartjies bykans alles kan hanteer, behalwe ’n tekort aan kommunikasie. Dikwels, in só ’n situasie, beleef een party meer ongelukkigheid as die ander persoon en die kans is goed dat jy nie die vaagste benul gehad het hoe jou man hieroor voel tot hy dit vir jou vertel het nie! In ’n studie deur Bryan Robinson aan die Universiteit van Noord-Carolina is ’n toets met 25 vrae ontwikkel om werkoliste en harde werkers van mekaar te onderskei. Terwyl werkoliste tien of meer ure per dag by die werk slyt, is tyd nie ’n behoorlike barometer nie, maar wel dinkgewoontes. “Die werkolis is op die skihelling en droom daarvan om terug te gaan werk toe,” sê Robinson, ook ’n outeur. “Die harde werker is in die kantoor en droom van die skihellings.” Hoe voel jy? Daar is ’n paar praktiese dinge wat jy in plek kan stel om jul situasie te verbeter:

  1. Jy is waarskynlik só suksesvol in jou werk omdat jy weet hoe belangrik doelstellings is. Stel dus vir jouself persoonlike doelwitte (en nie net professionele doelwitte nie). Só kan jy opgewonde raak oor dinge buite werk. Trek ’n droomlyn op (soortgelyk aan ’n tydlyn) waar jy al daardie doelwitte aanteken.
  2. Gebruik tegnologiese grense om jou werk en lewe te skei. Lees die vorige vraag – herken jy jouself in hierdie situasie? Mense wat lief is vir hul werk, neem dikwels hul tegnologie huis toe en selfs bed toe! Skep fisieke grense. Jou werk mag byvoorbeeld nie oor jul slaapkamer-drumpel tree nie..
  3. Maak van date night ’n ononderhandelbare prioriteit. Jou af tyd of naweke is joune. As jy aan die begin van die maand ’n date night-afspraak in jou dagboek aanteken, is dit ononderhandelbaar. Sien dit selfs belangriker as enige werksfunksie en maak seker dat jy dit nooit kanselleer ter wille van werksverpligtinge nie.

 

Deur Annelize Steyn

Promosie