Kommunikasie in die huwelik. Dit is een van daardie begrippe wat herwaarts en derwaarts geslinger word as dit kom by gesprekke rondom die huwelik. Almal weet dit is belangrik, maar weet ons werklik wat dit behels? Kommunikeer jy en jou maat genoeg en doeltreffend?
Hoekom die bohaai oor kommunikasie? Want ‘n suksesvolle huwelik bestaan uit twee individue met verskillende behoeftes, begeertes en emosies en vir die huwelik om te werk, moet jy in voeling wees met jou maat s’n. Vir jou om in voeling te bly daarmee, moet jou maat hierdie behoeftes, gevoelens en frustrasies aan jou kan kommunikeer. En vice versa! Hoe doeltreffend kommunikeer julle? Dis moeilik om te sê as jy betrokke is by die verhouding en nie elkeen van ons ken iemand wat eerlik sal sê waar julle presteer en waar julle tekortskiet nie.
Op die webtuiste bustle.com, in ‘n artikel deur Laken Howard, sê die lewensafrigter en verhoudingskenner, Lisa Concepcion: “Mense wat effektief in hul verhoudings kommunikeer en saamspan, is werklik ‘n span. Daar is nie ‘n gevoel van kompetisie nie en geen begeerte om reg te wees nie, maar ‘n sterk begeerte om gelukkig te wees. Daar is ooreenstemming, respek, seksuele konnotasie en die vermoë om probleme op te los, doelwitte te stel en hulle te bereik. Daar is ook ‘n vlak van sekuriteit in jouself en in die verhouding. Mense wat genoeg kommunikeer, voel gekonnekteerd aan die ander persoon, sonder om ko-afhanklik te voel. Hulle voel asof hulle enigiets vir hul maats kan sê en met liefde en respek kan kommunikeer.”
Geen paartjie is perfek nie en selfs dié wat baie naby aan perfeksie kom, kan hul kommunikasievaardighede verfyn. Hier is ses maniere waarop jy dit kan doen:
- Laat jou maat WAARDIG voel
Vir albei partye om waardig te voel in die huwelik, moet jy en jou maat voel julle word raakgesien en gehoor. Jy luister dalk met ‘n halwe oor na sy storie oor die gholf, terwyl jou kinders jou met vrae peper en jy bolognaise brou, maar al wat hy sien is ‘n vrou wat hom nie waardig genoeg ag om al haar aandag aan hom toe te wy nie. Maak seker jy is werklik teenwoordig terwyl jou maat praat (skuif die selfoon eenkant) en herhaal wat jou maat sê om seker te maak jy hoor en verstaan hom/haar reg. Om behoorlik na jou maat te luister is een van die kosbaarste vaardighede wat jy in die huwelik kan kweek. Maak ook seker die manier waarop julle kommunikeer, vervul jou maat soos wat dit jou vervul. Jy stuur dalk vir haar vyf boodskappe met emoji’s deur die dag, terwyl sy smag na ‘n face to face gesprek – selfs al is dit net vyf minute lank ..
- Los die wit LEUENTJIES
Dit klink dalk vanselfsprekend, maar baie paartjies dink wit leuentjies is verskoonbaar, en klein leuentjies groei groter en word meer. As sy voor jou staan en vra of die nuwe, rooi haarkleur haar pas, is dit dalk nou die beste tyd om te sê dat jy meer van haar natuurlike haarkleur hou. En as jy vanuit die staanspoor haar natuurlike kleur gekomplimenteer het, het sy dalk nie die behoefte gehad om haar hare te kleur nie. As sy voorspel beteken dat hy jou borste manhandle en jy op jou tande kners omdat jy nie sy ego wil krenk nie, is dit tot niemand se voordeel nie. Natuurlik is daar verskillende maniere waarop jy nuus kan oordra. Voor jy praat, plaas jouself in jou maat se skoene.
- Moenie jou maat SIMPEL laat voel nie
Sommige paartjies het ‘n ongewone dinamiek. Hulle ‘hap’ mekaar en terg mekaar en sarkasme is deel van hul liefdestaal. Die gevaar hiervan is dat die een dit dalk nét te ver vat. Maak seker dat jy nooit jou maat verkleineer nie. Dalk bedoel jy niks met jou opmerking nie, maar sy neem dit anders op. Maak ook seker dat wanneer julle baklei, jy nooit vir jou maat preek, veroordeel of verkleineer nie. Die doel van konflik is nie om jou maat kleiner te maak of die rusie te ‘wen’ nie, maar om saam na ‘n oplossing te soek waarby jul huwelik kan baatvind.
- Praat oor koeitjies, kalfies én RENOSTERS!
‘n Goeie huwelik is nie een waarin alles altyd ‘n lawwe grap is nie. Dit is ook nie ‘n verhouding waar daar nét oor ernstige dinge gesels word nie. ‘n Goeie huwelik is ‘n kombinasie van small talk en diep gesprekke. In ‘n liefdesverhouding werk dit eintlik agterstevoor: Voor ‘n paartjie mekaar innig ken, praat hulle oor lewensfilosofieë en diep dinge en wanneer hulle mekaar op die diepste vlak moontlik ken, begin die gesprekke oppervlakkig raak en heers gesprekke oor dag-tot-dag roetine en alledaagse take. Vir julle om ‘n diep, emosionele konneksie te behou, moet julle saam kan laf wees, maar julle moet ook die dieper vrae vra, sodat elkeen van julle se emosionele tenks vol bly. Dis ook belangrik dat julle altyd voel asof julle álles met mekaar kan deel, sonder om veroordeel te word of uitgelag te word.
- Moenie gras onder jul VOETE laat groei nie
Wat ons hiermee bedoel is dat julle jul konflik onmiddellik oplos. Dit is een van die belangrikste konflikhanteringstegnieke. Wanneer ‘n situasie onder die mat ingevee word, lê dit net iewers in jou en broei, wagtend om te ontplof! Wanneer dit onmiddellik aangespreek word, is die kanse die heel beste dat julle dit op ‘n beskaafde, volwasse manier kan bespreek, sonder dat die argument hand-uitruk. Wat ons eintlik bring by nóg ‘n kwessie: As jou argumente gereeld hand-uit ruk en gepaard gaan met woede-uitbarstings, moet julle beslis hieraan werk. Spreker en geestelike berader Davida Rappaport sê in die Bustle artikel: “Paartjies wat behoorlik kommunikeer, werk deur verskille sonder om te ontplof of mekaar te blameer. Hulle bereik kompromieë en dikwels kom hulle ooreen om te verskil.”
- Kies jou tyd soos ‘n MEESTER!
As dit kom by doeltreffende kommunikasie, moet jy ‘n goeie aanvoeling hê vir tydsberekening. Wanneer jy jou diepste teleurstelling gedurende die advertensiegleuf in ‘n rugbygame wil bespreek, gaan jy éérs diep teleurgestel word! Wanneer jy haar ná ‘n harde dag by die werk wil konfronteer oor die toestand van die kinders se kamers, vrá jy vir ‘n ontploffing. En wanneer jy jou maat in die middel van seks wil teregwys op die tegniek waarop hy al die afgelope 17 jaar staatmaak, kan jy seker wees jy blaas daai vlammetjie met mening uit! Kies jou tyd reg.
So, hoe weet jy julle kommunikeer genoeg? Dis ‘n moeilike vraag om te antwoord, omdat elke paartjie verskil en wat vir die een genoeg is, sal nie noodwendig vir die volgende genoeg wees nie. Hier is dit egter weereens ‘n kwessie van kwaliteit eerder as kwantiteit (hoewel kwantiteit ook belangrik is). Maak seker jul gesprekke is doeltreffend en julle het die stryd méér as halfpad gewen.
Artikel deur Annelize Steyn
Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!