Nee, ons praat nie van enetjie waar jy jou cowgirl outfit aan het nie. Eerder ’n romantiese fliek wat jou en manlief se spesiale tye dokumenteer … (maar as jy regtig wil, gaan niemand jou keer om die cowgirl outfit aan te trek nie!).
Julle het nou al ’n pad saam gestap. Saam klippe gekou oor daardie finansiële opdraende ’n paar jaar gelede en gekoer oor daardie eerste sonarfoto. Julle het jul eerste huis gekoop en dit gevier met sjampanje in die leë slaapkamer. En julle het saam gaan ski in die Alpe. Só was daar talle oomblikke wat vir julle hoogtepunte was deur jul dekade saam.
Miskien gaan dit in hierdie stadium nie so waffers met jul huwelik nie. Hy is oorlaai met werk en jy ervaar stres oor jou oudste se leerprobleme en tussendeur dit alles het julle vergeet hoe lekker dit eintlik is om getroud te wees. Of dit gaan dalk baie goed met julle en julle vier binnekort ’n mylpaal-huweliksherdenking. Hoe dit ook al sy, jy het nie ’n rede nodig vir hierdie projek nie. Jul liefde vir mekaar is rede genoeg.
Raak kreatief
Daar is verskeie maniere hoe jy tegnologie kan aanwend om jou man te verras. Ene Sean Ohlenkamp wou sy vrou herinner aan hoeveel hy haar waardeer op hul derde huweliksherdenking. Moeg vir al die afgesaagde idees het hy besluit om ’n folder op haar desktop te plaas bo-oor ’n agtergrond wat haar aanspoor om binne-in te kyk. Binne-in die folder? Nog een en nog een. ’n Hele reeks folders wat, wanneer jy dit na mekaar oopmaak, ’n oulike briefie vorm op ’n kies-die-regte-een manier (kyk gerus op http://digitallife.today.msnbc.msn.com/_news/2011/04/28/6550843-romantic-video-will-make-geeky-girls-swoon na die video). Jy kan hierdie idee steel of jou eie ontwikkel.
Maak só jou eie video
Eerstens moet jy jul foto-albums nader trek (deesdae is dit waarskynlik eerder in die pictures folder op jou skootrekenaar. Kyk na al jul romantiese vakansies, jul gradedag (as julle mekaar op universiteit ontmoet het), jul verlowing, avonture wat julle saam beleef het, jul troudag. As julle kort video’s het van julle twee saam, fantasties! Soek ook gepaste musiek. ’n Liedjie wat vir julle spesiale betekenis het, soos júlle liedjie of die een waarop julle die dansbaan geopen het op julle troudag . . . en laai dit af op jou rekenaar. Nou kan jy begin.
Gebruik animoto.com
- Gaan na animoto.com. Hier kry jy drie opsies. Probeer eers die gratis een en kyk of jy dan wil opgradeer. Jy kan ’n video van 30 sekondes maak met die gratis opsie.
- Sodra jy ingeteken het (deur jou e-posadres en ’n wagwoord te verskaf), neem die program jou na ’n blad met verskeie templates – klaar gereed agtergronde vir jou video. INTIEM het Winter Voyage
- Daarna verskyn ’n bekendstellingsvideo wat jou gou alles leer wat jy behoort te weet om ’n video te skep.
- Eers kies jy musiek wat jy van jou rekenaar afhaal of uit die opsies kies wat hulle aan jou verskaf, na aanleiding van die bui wat jy wil skep.
- Daarna gaan haal jy die foto’s en video clips wat jy graag wil gebruik om jou fliek mee te maak. Die program gee jou die opsies om die foto’s van Facebook, Picassa, Flickr, Smugbug, Instagram en meer af te haal.
- Jy het die opsie om die foto’s te verander en verskeie tegnieke te gebruik om dit mooi te maak.
- Voeg die hoofopskrif en teks by soos jy dit wil hê en druk die produce video
- Animoto e-pos vir jou jou video en daarna kan jy dit vir manlief stuur of dit met hom deel op Facebook.
Gebruik Smilebox.com
- Smilebox werk op dieselfde beginsel. Daar is ’n gratis pakket en as jy daarvan hou kan jy opgradeer na ’n betaalde pakket. Hiervoor moet jy eers die program aflaai op jou rekenaar en daarna inteken met jou e-posadres en ’n wagwoord.
- Eerstens kies jy weer ’n template vanuit die katalogus. Wanneer jy een kies, wys die program jou dadelik hoe die video min of meer gaan lyk en daar staan vir watter geleenthede die spesifieke ontwerp geskik sal wees. Daar staan ook hoeveel foto’s die ontwerp toelaat.
- Daarna gaan haal jy die foto’s wat jy wil gebruik uit ’n betrokke lêer op jou rekenaar en kliek op elke foto wat jy kies met die add-knoppie. Wanneer jy klaar is, kliek jy op done.
- Wanneer jy besluit het op watter template jy graag wil gebruik, kliek op die personalise-knoppie en die ontwerp laai af. INTIEM het die ontwerp Happy Memories
- Aan die regterkant van die bladsy is daar musiekopsies. Smilebox verskaf instrumentale musiek vir verskillende moods of jy kan jou eie musiek gebruik. Jy kan ook ’n tweede en derde liedjie kies, afhangende van hoe lank jou video gaan wees.
- Sommige templates se agtergrondkleure kan verander word, asook die hoeveelheid ontwerp-elemente op die bladsy (dit verskyn onderaan die musiek).
- As jy klaar is, kan jy kyk hoe dit lyk op preview en dit deel met jou maat via Facebook of e-pos, jy kan dit uitdruk of jy kan dit op ’n DVD sny. Onthou om jou ontwerp op jou rekenaar te save voor jy ander video’s maak.
Gee dit só vir hom:
- Jy kan hierdie fliek op ‘m hardeskyf of USB sit en dit mooi toe draai en laat dit aflewer by sy werk.
- E-pos dit laataand vir hom wanneer hy alleen by sy rekenaar sit en werk.
- Deel dit op Facebook onder die opskrif “Dit is hoekom ek my man so oneindig lief het – hy maak my lewe vol” of iets soortgelyks.
- Wanneer julle saam in die bed geklim het, kondig aan dat julle gaan fliek kyk (elk met ’n glas wyn in die hand). Konnekteer jou rekenaar aan die televisie en kyk saam met hom op jul televisieskerm daarna.
Jy kan ook stil, ou foto’s kombineer met videomateriaal, waarin jy kan vertel hoekom jy dit doen. Besoek https://www.creativebloq.com/features/6-great-video-editing-apps-for-mobile vir 2020 se beste video redigerings-toeps.
So eenvoudig en maklik soos dit. Daar is min dinge wat ’n mens so nostalgies maak soos mooi herinneringe, maar dikwels lê daardie mooi herinneringe onder in ’n boks onder in die kas en kyk jy net een keer in ’n paar jaar daarna. Of dit is gestoor in ’n lêer in jou rekenaar wat jy net oopmaak wanneer jy vir iemand iets wil wys. Herinner jou maat aan hoekom julle na al die jare nog steeds by mekaar is en hoekom julle kan uitsien na die res van jul lewens saam. En hou die boks tissues byderhand!
***
Indien opsoek is na meer sulke artikels en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!