Voel jy soms of jou huwelik net ’n bietjie woema kortkom, maar jy nie weet waar om dit vandaan te kry nie? Hoewel jy nie diepliggende huweliksprobleme in ’n paar dae kan oplos nie, kan jy binne slegs een week aan jou huwelik ’n ander karakter gee!

’n Huwelik is soos ’n gewoonte. Voor jy jou oë uitvee, soen julle mekaar elke aand skrams nag, gaan slaap jy ’n uur later as hy en praat julle oor die kinders op date night. Omdat twee mense geroetineerd saamleef, kan sekere dinge gou gewoontes raak en ongelukkig is daar dikwels heelwat slegte gewoontes in plaas van goeie rituele! As jy egter daarop fokus om vir sewe dae lank ’n paar goeie gewoontes te implementeer, sal dit kort voor lank gewoontes raak wat jou huwelik ’n make-over kan gee! Hoewel dit langer as ’n week gaan neem om jou huwelik heeltemal om te skakel, kan een week se toewyding genoeg tyd wees vir julle om ’n nuwe paadjie te vestig, meen huwelikskenner Dave Willis in ‘n aanlyn-artikel “How to change your marriage in one week”. Deur slegs vier daaglikse gewoontes te kweek en dit sewe dae lank toe te pas, trap julle ’n nuwe paadjie uit.

Sewe dae, vier daaglikse gewoontes

  1. Seks elke dag! Dit klink dalk vir jou soos ’n tall order, maar ons kan jou waarborg dat manlief reeds grinnik! Daar is min dinge wat soveel tot intimiteit bydra soos fisieke kontak en ons almal weet dat die seksdaad nie bloot ’n fisiese daad is nie. Natuurlik neem dit veel meer as slegs seks om by ’n gesonde huwelik uit te kom, maar ’n gesonde huwelik sonder seks is onmoontlik, meen Dave! Miskien is julle nie tans op ’n goeie voet nie en is dít die rede waarom julle jul huwelik wil omkeer. Wel, doen dit steeds! Jy koester dalk soveel wrokke teen manlief op die oomblik dat die gedagte aan seks bloot afstootlik is… druk deur. Dink aan seks as ’n kragtige wapen wat jou huwelik kan red sonder dat jy geskeur is tussen jou eie en jou man se behoeftes. Dis ’n gemene deler. Seks is ’n kragtige instrument wat julle sal help om op fisieke, emosionele en spirituele vlak te herkonnekteer, meen Dave. “Passie is om saam daardie stap in geloof te neem en om die foute, opwinding en algemene verrassings te geniet wat gereelde seks kan bring.”
  2. Bid elke aand saam. Dalk is dit vir jou ’n vreesaanjaende gedagte om so broos voor jou maat te wees en miskien is julle ook nie op dieselfde plek wat jul geloofslewe aanbetref nie, maar gebed is een van die mees intieme en belangrikste dade wat julle saam kan doen. Bid elke dag (hardop) en dank God vir al die seëninge in jul lewens. Vra Hom om jou te vergewe (en moenie van die geleentheid gebruik maak om Hom hardop te vra om jou maat te vergewe sodat dié jou hart kan hoor nie!). Praat met God oor jou hoop en jou vrees, ook jul huwelik s’n. Deur saam te bid en jou hart bloot te lê voor God en jou maat, sal julle huwelik na ’n ander vlak neem. In die woorde van ’n paartjie met die name Natalia en Jamie: “Jamie en ek het altyd oor kos gebid en soms het ons vir ander se behoeftes gebid. Maar dit was nie voor ons direk vir en saam met mekaar begin bid het nie, wat ek in staat daartoe was om vir my man te wys hoe ek oor myself gevoel het nie… in die verlede het hy niks daarvan geweet nie. Om saam te begin bid, was die belangrikste stap wat ons in ons huwelik geneem het. Dit het ons gehelp om deur ons agtergronde te werk en ons sterker gemaak as individue en as ’n paartjie.” (Ramona Cramer Tucker uit die artikel “Making a Connection”.)
  3. Byt op jou tong! Probeer om vir een hele week niks negatiefs of veeleisend vir of van jou maat te sê nie. As die begeerte jou beetpak om gif te spoeg, byt op jou tong. Maak dit ’n huweliksreël vir een hele week. As jy die reël oortree, mag jou maat jou uitvang, waarop jy onmiddellik moet om verskoning vra en die negatiewe uitlating moet uitkanselleer met drie goeie dinge of komplimente. Dit voel dalk “aangeplak” en kinderagtig, maar dit maak ’n mens bewus van die woorde wat jy gebruik en die uitwerking wat dit moontlik op jou maat kan hê. Moeder Theresa het gesê: “Goeie woorde kan kort en maklik wees om te sê, maar hul eggo’s is waarlik eindeloos.” Neem die tyd om goeie, mooi, geesgevulde woorde oor mekaar uit te spreek, sê huwelikskenners Michael en Carlie Kercheval op org. “Die oomblik wat jy en jou maat in ooreenstemming is oor die belangrikheid daarvan om woorde wat lewe gee oor jul huwelik uit te spreek, kyk hoe God inkom en doen wat net Hy kan – om jou huwelik te seën bo wat jy kan vra, jou indink of verbeel!”
  4. Skakel die televisie af. Nee, ons vra jou nie om al jou gunsteling-sepies vir ’n week lank vaarwel te roep nie, maar om slegs een uur te per dag te skeduleer waarin julle al jul elektroniese toestelle (selfone ingesluit) afskakel en daardie tyd aan ’n gehalte-gesprek met jou maat bestee. Dis só maklik om in mekaar se geselskap te wees sonder om wáárlik by mekaar te wees. As jy boodskappe stuur of lees terwyl julle saam eet, televisie kyk en met ’n halwe oor luister of op jou rekenaar werk terwyl hy jou iets van sy dag probeer vertel, kan julle nie ’n betekenisvolle gesprek hê nie. Skakel alles af en gesels oor jul dag, jul hoop, jul drome en enigiets anders. Dave Willis meen dit is petrol vir jou huwelik!

Doen hierdie vier dinge vir slegs ’n week lank en kyk watter verskil dit in jou huwelik kan maak…

Promosie

 

Deur Annelize Steyn