Jong Getroude Reeks – Deel 3
Wanneer die fondasie stewig is, kan daar met sekerheid verder gebou word. Bou julle huwelik nie net om te hou nie, maar te floreer! So skep julle ook ‘n nalatenskap van liefde.
Hierdie laaste deel fokus op die pilare wat die huwelik sterk en volhoubaar maak.
1. Ondersteuning
Ondersteuning in ’n huwelik beteken dat albei maats voel hulle het ’n veilige ruimte om hulself te wees – sonder oordeel, kritiek, blamering of vernedering.
Wanneer daar ondersteuning is, bou dit ’n gevoel van sekuriteit, aanvaarding en behoort.
Sonder ondersteuning voel mense maklik alleen, wat tot emosionele afstand en diskonneksie kan lei.
Om jou maat werklik te ondersteun, beteken om teenwoordig te wees, te luister, te verstaan en aan te moedig.
Moedig hulle só aan dat hulle hul volle potensiaal kan ontwikkel. Dit kan alleenlik gebeur in ’n veilige plek.
Praktiese wenke:
- Wees beskikbaar – emosioneel en prakties.
- Luister sonder om raad te gee, tensy dit gevra word.
- Bemoedig jou maat openlik – erken hul pogings.
Bybelse perspektief:
Prediker 4:9–10: “Twee vaar beter as een, want hulle kry goeie beloning vir hulle moeite. Want as hulle val, kan die een sy maat ophelp.”
2. Ontspanning
Ontspanning is nie ’n luukse nie – dis noodsaaklik. Dit gee ruimte vir asemhaal, speel en herlaai. Baie keer is dit ook die enigste plek waar paartjies weer ligtheid en pret saam ervaar.
Die meeste paartjies gaan van die standpunt uit dat hulle eers gaan ontspan wanneer daar tyd, geld en energie is. Gewoonlik het hulle een van die drie nie!
Met tyd word die prioriteit van pret al laer op die rangorde van die huwelik afgeskuif.
As die huwelik net om verantwoordelikhede begin draai, verloor dit sy vonk. Ontspanning is daardie ding wat die vlam in die paartjie lewendig hou.
Praktiese wenke:
- Lag saam – dis die kortste pad terug na nabyheid.
- Doen dinge wat julle albei geniet, al is dit eenvoudig.
- Planne vir plesier is net so belangrik soos planne vir werk.
Bybelse perspektief:
Prediker 3:13: “Ook dat elke mens eet en drink en die goeie geniet van al sy arbeid – dit is ’n gawe van God.”
3. Doelwitte en verwagtings
’n Huwelik sonder visie dryf maklik rond. Doelwitte bring rigting, fokus en hoop.
Wanneer paartjies saam droom, beplan en bid, groei hulle nader aan mekaar.
Stel doelwitte in die begin van elke jaar en meet deur die jaar hoe julle vorder en groei. Maak julle doelwitte meetbaar in ‘n gegewe tydperk. Wees spesifiek met die aksies wat julle gaan doen om die doelwitte te bereik.
Praktiese wenke:
- Stel jaarlikse of seisoenale doelwitte.
- Bid saam oor julle rigting.
- Vier mylpale en groei saam.
Bybelse perspektief:
Habakuk 2:2: “Skryf die visioen neer, sodat dit duidelik is en iemand dit kan lees terwyl hy hardloop.”
4. Rolle
Elke paartjie bring unieke verwagtings oor rolle in die huwelik saam – gevorm deur hul gesin van oorsprong.
Wat vir die een normaal is, kan vir die ander vreemd wees.
Wanneer rolle duidelik gedefinieer is, bring dit orde, sekuriteit en begrip.
Wanneer albei verstaan wat hul verantwoordelikhede is, verminder dit spanning.
’n Huwelik is ’n spanpoging – rolle kan verander, afgelos of gedeel word.
Belangrik is dat julle saam besluit oor wat werk vir julle, en dat dit altyd ruimte laat vir groei.
Praktiese wenke:
- Gesels gereeld oor wie wat doen en hoe julle mekaar kan ondersteun.
- Moenie rolle gebruik om beheer uit te oefen nie – gebruik dit om balans te bring.
- Onthou dat rolle kan aanpas soos julle lewensfase verander.
Bybelse perspektief:
Filippense 2:3–4: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar wees nederig en ag die ander hoër as julleself.”
5. Hantering van spanning
Deesdae leef ons in ’n tydperk waar mense oorlaai is met verantwoordelikhede en verwagtings – en spanning is ’n stille vyand van elke verhouding.
Hetsy dit geestesgesondheid of selfs fisiese gesondheid is, spanning beïnvloed elke area van ons lewens.
Wanneer spanning opbou, kan dit tot emosionele afstand of selfs woede-uitbarstings lei. Oop en deursigtige kommunikasie is van kardinale belang.
Skep ‘ontspan’-roetines wat vir julle werk – ’n stap saam, koffie voor slaaptyd of ’n Vrydagaandritueel.
Praktiese wenke:
- Herken vroegtydig die tekens van oorlading.
- Wees sag met mekaar se stres.
- Bid saam wanneer spanning hoog loop – dit bring kalmte en fokus.
Bybelse perspektief:
Filippense 4:6–7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend word. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en gedagtes in Christus Jesus bewaar.”
6. ’n Sterk geestelike lewe saam
’n Geestelike fondament is die grootste kragbron in enige huwelik.
As julle God die middelpunt maak, sal elke ander pilaar versterk word.
Inteendeel, sonder ’n geestelike basis lyk dinge dalk goed aan die buitekant, maar bied geen ware wysheid of volhoubaarheid nie.
Wanneer ’n paartjie saam bid, die Bybel saam lees en deel is van ‘n gemeenskap, bou hulle ’n verhouding wat op rotsgrond staan.
Die paartjie ervaar vrede, eenheid en rigting, selfs te midde van storms.
Wanneer die paartjie se geestelike fondasie sterk is, kry hulle krag, rigting en hoop buite hul eie vermoëns.
Praktiese wenke:
- Bid saam elke dag, al is dit kort.
- Besoek saam ’n Bybelstudie of kerk.
- Hou aan om God se teenwoordigheid in julle verhouding raak te sien.
Bybelse perspektief:
Matteus 7:24–25: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.”
Slotgedagtes
Ondersteuning, ontspanning, duidelike doelwitte, gesonde rolle, goeie hantering van spanning en ’n sterk geestelike lewe saam is die ses pilare wat kan help om julle huwelik sterker te bou.
Onthou: dit is nie perfeksie wat ’n huwelik laat floreer nie, maar volgehoue keuses om saam te groei – en God altyd die eerste plek te gee.
Lees Deel 1 hier: Van Gemiddeld na Wow: Bou só julle Huwelik
Lees Deel 2 hier: Vyf Nuwe Bakstene vir ’n Sterk Huwelik
Hierdie artikelreeks is geskryf deur Kobus Pauw van Connection Impact. Kobus het ’n passie vir huwelike en is ’n uitstekende mentor en terapeut met baie jare se spesialiservaring. Hy doen aanlyn en in-persoon sessies.
Kontak hom vir meer inligting: 079 515 8565 of kobus@connectionimpact.co.za.
www.connectionimpact.co.za

