Om kinders te hê, is ’n wonderlike en heerlike voorreg, maar maak seker jy en jou maat is gereed hiervoor! Daar is ’n paar dinge wat ’n paartjie eers behoort te geniet voor hulle hul gereed maak vir dié nuwe fase in ’n huwelik.   

Die biogradeerbare konfetti het nog skaars deel van Moeder Aarde geword, of die alles-behalwe-subtiele vraag kom van alle kante af: “So, wanneer kom die eerste kleintjie?” Só asof dit enigiets met enigiemand te doen het.  

 Jy en manlief is immers nog besig om mekaar te leer ken in jul nuwe rolle as man en vrou, en wil graag eerder nou jul spaargeld (dít wat oor is ná die duur troue) inspan om ’n koffiemasjien en goeie klankstelsel aan te skaf as om dit aan doeke en sonarbesoeke af te staan.   

Voor jy jou oë uitvee, is ’n paar maande egter verby, die nuuskierige agies se monde is stil (tant San het agter haar hand hardop begin wonder of ’n gesinnetjie julle wel beskore sál wees) en jy raak tranerig met elke ooievaarstee wat jy bywoon. Is dit dalk tyd om met ’n gesin te begin?  

 ’n INTIEM-lesers het versoek dat ons ’n bucket list (kluitklaplysie) artikel moet saamstel: Wat moet ’n pasgetroude paartjie alles aanpak, beproef en afhandel vóór hulle begin dink aan ’n gesin?  

 Hier is ons voorstelle: 

  • Gaan eet (genoeg) uit by restaurante met lapservette. 

Besluit op die ingewing van die oomblik om lekker te gaan uiteet – as die eerste baba eers daar is, is die reëlings wat jy moet tref om ’n plan met haar/hom gemaak te kry sóveel dat dit soms net nie die moeite werd is nie! En as hulle nog klein is, het jy ’n pakdonkie nodig vir alles wat saamgekarwei moet word. As hulle ouer is, sal restaurante met singende kelners en  skitterstokkies in die roomys jul voorland wees.  geniet ’n elegante, duur fynkos-restaurant terwyl julle kan! 

  • Gaan fliek – en kyk grootmensflieks. 

Maak ’n punt daarvan om een keer per week te gaan fliek (by die regte kines, ekstragrootte boks springmielieslove seats en al). Wanneer dit kom by keuses, kies die fliek met die hoogste ouderdomsbeperking – selfs beter as dit ’n kunsfilm ook is. As die baba eers daar is, gaan julle te vaak wees vir fliek en wanneer hy of sy die eerste tand gesny het, is dit neusie verby. Daarna sál jy elke strokiesprentkarakter se naam ken. Jy sal weet wat daardie karakter se gunsteling kossoort, sêding en snaakse gewoonte is. Ja, jy sal bykans meer van daardie karakters weet as van jou eie honde en jy sal terugverlang na die dae toe jy en jou maat nog baklei het oor fliekkeuses 

  • Gaan loop ’n hele Saterdag in die winkelsentrum rond. 

Dit klink dalk nou nie aanloklik nie, maar as die kinders eers daar is, is dit ’n plek wat jy liefs wil vermy! Jy sal terugverlang na ’n tyd toe jy op jou tyd kon window shopping doen, en toe julle elke sent tot jul beskikking op julself kon bestee! Pas klere aan (sonder ’n dy-hoogte mensie wat sy vinger in jou naeltjie steek en vra hoekom jou maag so vet is), drentel op jou tyd – sonder ’n angstige baba-oppasser by die huis wat jy per uur betaal – geniet die afwesigheid van publieke vloermoere en kinders wat skreeuend met die winkelwaentjie op die tannies voor hulle se hakke afstorm. Koop wat jy wil – dinge wat glad nie prakties is of rand-vir-rand sin maak nie. 

  • Loop kaal in die huis en hê seks – waar en wanneer julle wil! 

Geniet mekaar se lywe, want voor jy jou oë uitvee, is daar ’n klein mensie wat jou borste vir homself opeis en later, op die onmoontlikste tye, by jou slaapkamer gaan inwals en tussen julle gaan inkruip. Moet dus ook nie seks beperk tot die mees vanselfsprekende vertrek in die huis nie en doen dit soggens, smiddae, saans, middernag . . . op die bank, in die kombuis, op die trappe en op die vloer. As die kinders eers daar is, hoef jul sekslewe nie verby te wees nie, maar vir die eerste jaar gaan julle só moeg wees dat dit nie regtig ’n prioriteit is nie. En wanneer dit weer ’n prioriteit raak, gaan julle soos uitgelate sluipsondaars julle tye en plekke moet beplan. Julle gaan verskonings moet uitdink soos meesterleuenaars en julle gaan die waarde van ’n kitsklits besef (en die herinnering aan marathon-seks mis!). 

  • Reis, reis, reis!  

Sien die provinsie, sien die land, sien die wêreld terwyl julle nog vir slegs twee vliegkaartjies hoef te betaal, en sonder vrees, bekommernisse en skuldgevoelens kan weggaan. Pak avonture aan. Gaan reksprong en gaan swem saam met haaie. En gaan kamp met kaggelvure en ’n pak malvalekkers wat nét julle s’n is  – daar is niks wat jou só anti-kampering gaan maak soos ’n kind in doeke by ’n Aventura-oord nie. Besoek plekke waar malaria hoogty vier. Jy kan nou teen-malaria medikasie drink, maar as jy swanger is en kinders het om jou oor te bekommer, raak dit ’n bietjie meer kompleks. 

  • Bly wakker en slaap laat . . .  

’n Mens besef nie hoe lekker dit is om jou gunsteling reeks te kyk op ’n Vrydagaand (tot laatnag of vroegoggend) voor jy dit nie meer kan doen nie. En om jou te vergryp aan allerlei lekkernye soos behoorlike donker sjokolade, goeie roomys en ’n paar bottels rooiwyn nie – jy kan dit alles afslaap. Om dan die volgende oggend die wekker – en enige lastige oproepe – te ignoreer tot julle weer van hongerte en dors móét opstaan, net om weer in die bed te kruip. Wakker bly en laat slaap is twee luukses wat jy beslis gaan mis as jy dit nie meer het nie. 

 En nog ’n paar laaste dinge . . . 

  • Eet jul kos terwyl dit nog warm is (sonder om iemand anders haar warm kos te voer en pampoen van die mure af te vee). 
  • Stel ’n testament op en maak seker jul finansies is in orde – dié een gaan jou net meer in beheer laat voel in ’n tyd wat alles verder buite beheer voel! 
  • Beproef die minimalistiese styl (met alles op sy plek, skerp hoeke en glasvase op lae tafels). 
  • Koop ’n kar wat sexy, sportief, kompak en allesbehalwe prakties is, want as die kinders eers kom, sal jy dit terstond moet inruil 
  • Ry op ’n Sondagmiddag iewers heen, sommer net om te ry (sonder iemand wat elke vyf minute vra: “Wanneer is ons daar?”). 

En uiteindelik – doen net wat julle wil, op die ingewing van die oomblik. Om kinders te kry, beteken nie jul lewe is nou verby nie. Dit beteken wel dat jul lewens handomkeer gaan verander. Soms is dit taai, maar meestal is dit opwindend, onvoorspelbaar en baie lonend. Maak egter seker julle maak die beste van ’n lewe sónder ’n kroos voor julle dié groot stap neem.  

Deur Annelize Steyn