As jy eers die drang om ’n kind van jou eie te hê ervaar het, raak dit iets wat jou hele denke en lewe kan oorheers. Hoe gemaak as jy en jou maat oor hierdie ernstige kwessie verskil?
In jou twintigs was jy ’n gedrewe sakevrou. Jy het al jou tyd en energie daaraan bestee om jou besigheid te ontwikkel en kinders was nie deel van die prentjie nie. Dit sou nooit wees nie. Jy en jou man het dit té veel geniet om op die ingewing van die oomblik jul tasse te pak en na ’n knus, romantiese hotelletjie te vertrek (dit is nou wanneer jy nie moes werk nie). Kinders sou alles net belemmer . . . tot jy jou sussie se eersteling ’n week gelede vasgehou het. Op daardie oomblik toe die klein vingertjies om jou duim geklem het, het jy geweet dinge het verander. Maar gaan hy dieselfde voel?
’n Lang pad van tegemoetkoming
Dewald (47) en Jenine (37) van Deventer van Limpopo het voor hulle getroud is besluit hulle gaan nie kinders hê nie. Jenine vertel sy was slegs 23 jaar oud en babas was glad nie op haar agenda nie. “Alles het goed gegaan tot Dewald besluit het hy wil ’n vasektomie hê. Dit het die wind uit my seile geneem. Dit was ’n baie definitiewe ‘nee’ vir kinders kry.” uit. Sy het hom stelselmatig oortuig om van sy sperm te bewaar sodat hulle ’n opsie het as hulle van plan sou verander. Aangesien iemand sy lewensmaat se handtekening moet bekom vóór die vasektomie uitgevoer mag word, het Jenine kans gehad om met hom te “onderhandel” tot hy ingestem het.
Dit het gevoel of haar hart gaan staan die dag toe Dewald vir sy vasektomie gegaan het. Sy was die hele dag met haar suster op die telefoon en het op en af in die hospitaal se gange gestap. Die idee om heeltemal alleen te wees, met niks wat sy van hom sou oorhê indien hy iets sou oorkom nie, het haar ontstel. Hoe ouer sy geword het, hoe meer het sy besef sy wil regtig ’n baba hê. Ongeveer ses jaar na die vasektomie het haar biologiese klok begin tick. “Ek wou met alles in my ’n baba hê. Dit was sieldodend om só graag ’n kind te wil hê terwyl jou huweliksmaat niks wil weet nie.”
Sy het vir maande lank nagte om gehuil. Dit het amper hulle huwelik vernietig.
Omdat hulle albei baie gelowig is, sê sy dit was maklik om dinge in die Bybel wat jy as ’n teken sien raak te lees. “Dit het gevoel of ons verskillende dinge in die lewe wil hê. Ons het nie meer in mekaar se prentjies gepas nie en was vir ’n ruk vreemdelinge vir mekaar. Ek was reg om wortel te skiet en met ’n familie te begin. Hy wou nog sy rugsak pak en deur Europa toer.” Dit het baie gebede, gesprekke, trane en vas gekos om hom te oortuig om in te stem om van sy sperm te gebruik. “Dis ’n ongelooflike emosionele gesprek om te hê.” Dewald het uiteindelik ingestem en ’n tydperk vasgestel waarin hulle kon probeer vir ’n baba. As dit nie in dié tyd gebeur nie, was dit nie vir hulle bestem nie. Die “sperdatum” het ongelooflik baie spanning veroorsaak en het haar nie juis gehelp om swanger te raak nie.
Dit het drie intra-uterinêre inseminasies (IUI-behandelings) geverg voordat sy uiteindelik swanger geraak het. “Die sperm word direk in die baarmoeder geplaas. Jou tydsberekening moet perfék wees. As jy jou vrugbare tydperk met ’n paar ure mis, is die siklus daarmee heen. Ek moes pille drink om seker te maak ek ovuleer en dit het baie newe-effekte gehad. Die derde keer wat ons probeer het, het ek vyf dae verlof gevat sodat ek elke dag vir sonars by die spesialis kon wees. Toe hy tevrede was met die grootte van die eierselletjies, het hy my ’n spesifieke tyd gegee om die trigger shot te doen wat die eierselletjies vrystel. Ek moes 12 ure later ingaan vir die inplanting van die sperm in my baarmoeder.”
Vandag het hulle ’n pragtige tweejarige dogtertjie. Klein Nina se geboortedag was ongelooflik emosioneel, maar Jenine beskryf dit as die mooiste dag van haar lewe. Sy het geweet die klein mensie is vir hulle bedoel en dat sy haar met álles in haar sou beskerm. “Nina is die grootste seën in my lewe en ek het heeltemal vervolmaak gevoel.” Dewald en sy dogter is baie na aan mekaar. Hy is onherroeplik verlief op haar, maar wil nie ’n tweede kind hê nie. Dewald voel hy kan meer vir een kind gee as vir twee en hy wil nie hê een van die kinders moet afgeskeep voel nie. Al kom hy self uit ’n gesin van vier, sê hy hy het nooit die drang gehad om ’n kind te hê nie. Sy loopbaan is ook van só ’n aard dat dit moeilik is vir ’n kind om daarby in te pas. Alhoewel Jenine met álles in haar ’n tweede kind wil hê, sê sy sy sal berus by Dewald se besluit. “Hy het my reeds tegemoet gekom. Dis dalk nou my beurt om ’n kompromie aan te gaan.”
’n Aborsie later en my man wil nie . . .
Tiana Govner (25) se storie het nie só ’n gelukkige einde nie. Nadat sy in 2006 uitgevind het sy is swanger met Iván (25), haar kêrel (nou huweliksmaat), se kind, wou haar ouers haar uit die huis skop. Sy was net 20 jaar oud, op universiteit en Iván het nog studeer. Hy het in ’n boekwinkel gewerk vir ekstra geld en daar was geen manier wat hulle ’n kind kon bekostig nie. “Ek moes op 11 weke ’n aborsie kry. Dit was die mees traumatiese tyd van my lewe. Iván het nie geweet wat om te doen nie en hy het nooit sy mening daaroor gegee nie.”
Iván het haar verseker hulle sal ná hulle getroud is en as die tyd reg is ’n baba kry. Twee en ’n half jaar gelede is hulle getroud. Daar is besluit hulle sal ’n paar jaar wag voordat hulle kinders kry. “Ons is nou albei suksesvol in ons loopbane. Ek het my honneursgraad klaargemaak en onlangs met Iván daaroor begin praat om met ’n gesin te begin. Hy klap net toe. Nadat ons getroud is, het hy gesê hy wil nie meer kinders hê nie. Dit ontstel my geweldig! Ek sou nooit ’n aborsie gehad het of met hom getrou het as ek geweet het hy wil nie kinders hê nie.” Haar droom was van kleins af om ’n ma te wees. Sy en Iván het nog nie weer oor die aborsie gepraat nie. “Ek probeer daarvan vergeet. Ek wil nie my gevoelens daaroor met hom deel nie. Hy het in ’n stadium daaroor gehuil, maar ek dink hy het dit nou al vergeet.”
Iván maak grappe as sy die onderwerp van kinders aanraak. Hy sê kinders kos te veel en is stout. Dit sal nooit weer net die twee van hulle wees nie. Tiana probeer om te vergeet hóé baie sy na ’n baba smag. Sy doen haar meestersgraad en toer, maar dit vul nie die leemte wat haar ongebore kind gelaat het nie. “Ek voel verneuk. Ek wéét ek sou nie my graad kon klaarmaak as ek ’n kind gehad het nie. Ek sou my familie verloor het. Hoewel ek nie wou aborteer nie, het ek geen keuse gehad nie.” Sy hoop steeds dat Iván sal instem om tóg eendag ’n baba te hê.
Min mense praat hieroor
Marilet Kotze, ’n seksuoloog van Bloemfontein, sê paartjies sorteer gewoonlik ná ’n eerlike gesprek self dié probleme uit. Sy het nog net een paartjie gesien wat oor kinders kry verskil en nié ’n kompromie kon bereik nie. “Dit gebeur wel dat paartjies saamstem om nie kinders te hê nie en dan na ’n paar jaar verander die een van plan. Dit word dan ’n magstryd om uit te werk wat redelik is. Jou sekslewe word eerste aangetas, aangesien jy of jou man kan voel julle vertroue is verbreek. Dié verwyt manifesteer in die slaapkamer en doen afbreuk aan intimiteit. Die hunkering na ’n kind word dalk later as ’n troefkaart gebruik om jou maat te manipuleer of in ’n ding in te forseer. Dit is nie gesond vir enige huwelik nie. Dit is moeilik as een van julle desperaat is vir ’n kind en die ander een nie. Op die ou end moet jy besluit hoé belangrik ’n kind en jou verhouding vir jou is.”
Chris Morey, ’n pastorale berader, sê dit is nie ’n verskynsel wat baie in sy beradingsessies voorkom nie. “Gewoonlik is die probleem al jare aan die gang wanneer ’n paartjie by my aanklop vir hulp. ’n Egskeiding is dan ’n groot moontlikheid.” Hy reken baie mense bestee nie genoeg tyd aan voorhuwelikse berading nie en dan duik sulke probleme later in die huwelik op. Hy is van mening minder mans wil kinders hê as vroue. Jou man wil dalk nie kinders hê nie omdat hy bang is jy is dan nie meer lus vir seks nie. Jou liggaam verander as jy swanger is of jy gee dalk nie meer genoeg aandag aan hom nie. Party mans het ook ’n ongelukkige kinderlewe gehad en is bang om dit aan hulle kinders oor te dra. Daarom vermy hulle dit eerder om kinders te hê.
Ronel Groenewald, ’n sielkundige, glo álles gaan oor goeie kennis van mekaar as individue en goeie kommunikasie. As julle eerlik is met mekaar in julle verhouding, kan julle moeilike sake aanpak en daaroor praat. Dit moet egter met respek gedoen word. “Dit ís so dat mense mettertyd van plan verander. Die ideaal is dat julle saam groei as ’n paartjie. Ongelukkig is nie almal altyd eerlik met mekaar nie en daar kan soms later in die huwelik onverwerkte issues uit die verlede opduik.”
As jy reeds in só ’n situasie is:
- Praat oor die voordele en nadele van kinders kry.
- Pas vriende se kinders op om te sien of julle sal cope. Dalk verander jy of jou man jul mening in een aand!
- Gaan vir berading om julle te help om die stres wat só ’n besluit op julle huwelik plaas te verwerk en te verminder.
- Bid daaroor en glo in geloof God sal julle wys wat om te doen.
- Werk hard daaraan om die ander persoon se siening te respekteer en te verstaan.
- Verstaan mooi hóékom jy kinders hê voor- of teenstaan. Dalk is daar ’n ander rede hoekom jy onvervuld voel met of sonder ’n kind.
- Wat is jou verwagtinge van die lewe? As ’n kind vir jou samesyn met jou maat verteenwoordig, kan daar ander maniere wees om samesyn te verkry.
Hoe om só ’n situasie te voorkom:
- Práát oor of julle wil kinders hê of nie. Bespreek die moontlikheid dat een van julle van plan kan verander. Hoe sal julle dit hanteer?
- Weet wat jy uit die lewe soek en wees eerlik daaroor.
- Maak seker jou maat met wie jy trou het dieselfde ideale en waardes as jy.
- As jy nog baggage van die verlede het, sorteer dit uit vóór jy trou.
- Belê in voorhuwelikse berading. Chris sê die meeste huweliksprobleme ontstaan omdat paartjies nie voor die huwelik vir berading gegaan het nie. Jy het ten minste vyf weke lank berading nodig sodat jy al die aspekte van die huwelik kan deurwerk. Dit sluit in julle as ’n gesin.
- As jou maat voor julle trou nie belangstel om kinders te hê nie, is dit onwaarskynlik dat hy van mening gaan verander. As dit nie iets is waarmee jy kan saamleef nie, is dit dalk beter om die verhouding te heroorweeg.
- Maak séker julle is albei gemaklik met julle besluit.
Om kinders te hê, is ’n groot besluit. Dit beïnvloed en verander jou hele lewe, maar verryk ook areas in jou lewe wat jy jou nooit kon indink nie. Dit is moeilik as julle nie saamstem oor julle toekoms saam nie, want só ’n besluit bepaal jou lewe. As jy onseker is oor jou maat se gevoelens, praat met hom/haar daaroor. Kén jou maat se hart voor jy die jawoord gee.
Indien julle ‘n saamgestelde gesin is en jy of jou maat het reeds kinder uit ‘n vorige huwelik kliek hier.
Artikel deur Jana Engelbrecht