Jong Getroude Reeks – Deel 1

Danie en Annelie het geweet hulle is vir mekaar bedoel. Hulle troudag was wonderlik, en om saam in te trek, was ’n droom wat waar geword het. Dit was nogal ’n verrassing dat hulle nie oor alles saamgestem het nie. Daar was ’n paar aanpassings en ’n paar dinge wat opgeduik het sonder dat hulle dit verwag het. Hulle het gewonder of daar iets verkeerd is met hulle – hulle is dan so perfek vir mekaar. Maar gou het hulle ontdek: dis normaal! In die eerste jare van ’n huwelik moet daar aanpassings gemaak word.

Promosie

Dit is dikwels ’n boufase – ’n tyd waarin twee mense wat lief is vir mekaar, leer hoe om saam te leef, te groei en mekaar beter te verstaan. Dit is ’n tyd van vreugde en nuwe ervarings, maar ook van uitdagings en aanpassings. ’n Sterk fondasie wat geskoei is op gesonde kommunikasie, gedeelde waardes, verwerking van trauma en die aanvaarding van mekaar se uniekheid, is noodsaaklik om ’n huwelik standhoudend en vreugdevol te maak.

In hierdie reeks van drie vlakke gaan julle alles leer oor wat nodig is om ’n huwelik te bou wat nie net hou nie, maar lekker en gelukkig is. Ons kry een lewe, en ons lewensmaat is die een wat saam met ons reis, end uit. Ontdek die pad na ’n uitsonderlike huwelik. Leer oor die fondasie en kernpilare wat julle huweliksverhouding as geheel baie sterker gaan maak.

Baie paartjies kies om nie die voorhuwelikse gesprek te voer voor hulle trou nie, en hierdie artikels sal veral sulke paartjies help om dalk oor dinge te gesels wat hulle nie gereeld oor praat nie of dalk nog glad nie oor gepraat het nie.

Promosie

Vir diegene wat al gesels het – nou kan julle vlamme nog hoër brand!

1. Kommunikasie: Die Lewensaar van die Huwelik

Kommunikasie is waarskynlik die belangrikste bousteen van enige huwelik. Aanvanklik voel paartjies nie dat dit enigsins ’n probleem of uitdaging is nie, aangesien hulle mekaar se sielsgenote is en mekaar so goed verstaan. Effektiewe kommunikasie in die vroeë stadiums van die paartjie se saamwees word dikwels maklik opgeneem in die feit dat hulle verlief is en nie noodwendig ingestel is om die uitdagings in mekaar of die verhouding aan te spreek nie. Dit gebeur dikwels eers later in die verhouding dat jong paartjies besef hoe moeilik dit kan wees om oop en eerlik met mekaar te praat sonder om mekaar seer te maak of terug te trek. Dit gebeur veral wanneer die skanse laat sak word.

Waarom dit belangrik is:

  • Goeie kommunikasie bou vertroue.
  • Dit voorkom misverstande wat maklik tot groot rusies kan lei.
  • Dit skep ’n ruimte waar albei veilig voel om hul emosies en drome te deel.

Praktiese wenke vir jong paartjies:

  • Luister aktief. Baie mense luister om te antwoord; doen moeite om te hoor wat jou maat regtig sê. Herhaal in jou eie woorde wat jou maat gesê het en vra of jy hom of haar reg gehoor het.
  • Wees spesifiek. Gebruik ‘ek’-sinne. In plaas van “Jy help nooit in die huis nie,” sê: “Ek voel oorweldig wanneer ek alleen die skottelgoed was – sal jy my asseblief help?”
  • Vermy veralgemenings. Woorde soos “altyd” en “nooit” bou net mure.
  • Skep ’n veilige spasie. Spreek dinge aan op ’n kalm en vooraf ooreengekomde tyd, nie in die hitte van emosie nie.
  • Leer meer. INTIEM se KKVR Kommunikasie-metodekursus is ’n tegniek wat honderde paartjies elke dag gebruik. Kry dit aanlyn en doen dit! Dit is briljant! intiem.co.za/product/kommunikasiemetode

Bybelse perspektief:

Spreuke 18:21 sê: “Dood en lewe is in die mag van die tong.” Hoe jy met jou maat praat, kan óf bou óf afbreek.

2. Waardes: Die Rigtingwysers van die Huwelik

Wanneer twee mense trou, bring hulle elkeen hul eie waardes, oortuigings en gewoontes saam. Soms pas dit mooi in mekaar, maar soms bots dit. Daarom is dit noodsaaklik dat jong paartjies vroeg in hul huwelik tyd neem om oor hul waardes te gesels en dit saam te vorm. Dit is maklik om waardes vas te stel – daar is baie gratis oefeninge wat paartjies aanlyn kan gebruik om waarde-bepaling te doen. Dit is ook belangrik om te praat oor hoe ’n paartjie mekaar se waardes verstaan en hoe waardes uitspeel in die algemene vloei van die lewe. Waardes beïnvloed baie verskillende aspekte van die huwelik en die lewe wat ’n paartjie saam doen.

Voorbeelde van aspekte wat aangespreek kan word deur waardes:

  • Geloof en spiritualiteit: Hoe belangrik is kerk, gebed en Bybellees vir julle as paartjie? Waardes van geloof, eerlikheid, opregtheid en kwesbaarheid kan dalk hier van toepassing wees.
  • Geldsake: Hoe gaan julle finansies bestuur? Is dit een gesamentlike rekening of aparte rekeninge? Wat is julle waardes rondom finansies, vertroue, eerlikheid en deursigtigheid?
  • Gesin en kinders: Hoeveel waarde heg julle aan tyd saam met familie? Wanneer (en of) wil julle kinders hê? Waardes wat hier ter sprake kan wees, is prioritisering, liefde, onderskeiding en empatie.
  • Werk en loopbaan: Hoe balanseer julle loopbaanambisies met tyd vir die huwelik? Waardes wat hier ter sprake kan wees, is lojaliteit, ambisie, jaloesie en tyd.

Waarom dit belangrik is:

As waardes nie gedeel word of ten minste duidelik gekommunikeer word nie, kan dit lei tot frustrasie en konflik. Wanneer julle egter saam besluit watter waardes julle huwelik gaan rig, kry julle ’n kompas wat in moeilike tye leiding bied.

Praktiese wenke:

  • Skryf saam ’n “huishoudelike visie” neer – ’n eenvoudige paragraaf wat opsom watter waardes vir julle die belangrikste is. Besoek hierdie lys elke ses maande om seker te maak of iets dalk moet verander of nuut bygevoeg word.
  • Gesels deur die punte hierbo genoem. Wat is vir julle belangrik?
  • Bespreek ten minste twee keer per jaar hoe julle as paartjie hierdie waardes kan uitleef en evalueer of julle dit doen of nie.

Bybelse perspektief:

Amos 3:3 vra: “Twee mense kan tog nie saamloop as hulle nie saamstem oor die pad nie?”

3. Trauma in die Paartjie se Onderskeie Lewens

Baie jong paartjies tree in die huwelik met bagasie uit die verlede – kinderjare se pyn, vorige verhoudings, of selfs persoonlike trauma soos mishandeling, verlies of verwerping. Hierdie ervarings kan soos landmyne in die huweliksverhouding wees. Dit is uiters belangrik dat ’n paartjie voor die huwelik hieroor praat. Ons kan nie die verlede verander nie, maar as paartjies daarvan weet, kan hulle vermy om op daardie landmyne te trap en dit in hul verhouding te laat ontplof. Indien dit nie bespreek of gedeel word nie, kan onverwerkte pyn maklik sy weg vind in die dinamiek van die huwelik.

Voorbeelde van hoe trauma in ’n huwelik kan manifesteer:

  • Een maat sukkel om te vertrou omdat hy of sy vroeër verraai is.
  • Onsekerheid of minderwaardigheid uit die verlede kan lei tot jaloesie of beheer.
  • Onverwerkte pyn kan veroorsaak dat ’n mens maklik aanval of onttrek in die huwelik.

Praktiese wenke:

  • Wees eerlik oor jou pyn uit die verlede, al is dit moeilik. Jou maat kan jou beter verstaan en weet hoe om daar vir jou te wees op ’n manier wat vir jou sin maak en help met die genesing.
  • Wees geduldig met mekaar – genesing is ’n proses.
  • Oorweeg berading of mentorskap saam as paartjie as die trauma groot is en julle huwelik ernstig beïnvloed.

Bybelse perspektief:

Psalm 34:18: “Die Here is naby die gebrokenes van hart; Hy red die wat verpletter is van gees.”

God kan trauma gebruik as ’n plek van genesing en nuwe begin – ook binne die huwelik.

4. Aanvaarding van Mekaar se Uniekheid

In die eerste drie tot vyf jaar leer jy dat jou maat nie presies is soos wat jy gedink het nie. Die skanse kom af en die verblindende lig van verliefdheid raak dowwer. Realiteit word deel van die spasie, en daar word dalk meer direk met mekaar gepraat en omgegaan as toe die paartjie mekaar leer ken het. Die paartjie ontdek nuwe gewoontes, maniere van dink en selfs irritasies. Dit is dan ook in hierdie tyd dat paartjies dikwels sê hulle is nie aanpasbaar genoeg nie. Onthou: die Here het gesê dat ’n huwelikspaar een moet word, nie eenders nie. Die kuns lê daarin om jou maat lief te hê en te aanvaar soos hy of sy is – sonder om te probeer om hom of haar te verander.

Waarom dit belangrik is:

  • Aanvaarding bou ’n gevoel van veiligheid: “Ek kan my ware self wees en steeds liefgehê word.” Niks hoef voorgehou te word nie. Die paartjie kan openlik en kwesbaar wees, en niks wat ontdek word, word teen mekaar gebruik nie.
  • Aanvaarding van mekaar se uniekheid voorkom voortdurende kritiek, wat maklik respek en intimiteit in die huweliksverhouding afbreek.
  • Hierdie aanvaarding help paartjies om verskille te sien as aanvullend tot hul verhouding eerder as ’n bedreiging. Hulle sien uitdagings uit verskillende perspektiewe, en omdat hulle nie mekaar verkeerd wil bewys nie, kan hulle ’n baie breër spektrum in ag neem vir ’n beter oplossing vir die uitdaging wat hulle in die gesig staar.

Praktiese wenke:

  • Leer mekaar se liefdestaal en respekteer dit, selfs al is dit nie jou natuurlike manier nie. Praat hieroor en vra mekaar uit oor die toepassing daarvan in die huwelik.
  • Onthou dat om ’n kompromie aan te gaan, nie ’n verlies is nie – dis liefde in aksie en gee vir julle die geleentheid om iets nuuts saam te ontdek.
  • Fokus op jou maat se sterkpunte eerder as swakpunte.

Bybelse perspektief:

Romeine 15:7 sê: “Aanvaar mekaar dan, net soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.”

Slotgedagtes

Die eerste jare van die huwelik kan soos ’n skool wees – jy leer elke dag iets nuuts van jou maat en van jouself. Kommunikasie, waardes, verwerking van trauma en aanvaarding van mekaar is nie eenmalige projekte nie, maar ’n lewenslange proses van groei.

Wanneer paartjies in hierdie areas doelbewus belê, bou hulle nie net ’n sterker verhouding vir die eerste paar jaar nie, maar ’n fondasie wat dekades lank kan hou.

Gesels met mekaar:

  • Hoe sou julle jul kommunikasie tans beskryf as ’n huwelikspaar – help dit ons, of breek dit af?
  • Watter drie waardes is vir my die belangrikste in ’n huwelik, en hoe speel dit uit in die algemene vloei van ons verhouding?
  • Is daar trauma uit my verlede wat ek nog nie heeltemal met my maat gedeel het nie?
  • Op watter maniere voel ek onvoorwaardelik aanvaar deur my maat?
  • Wat kan ons prakties hierdie week doen om meer bewus te wees van mekaar se uniekheid en waardes?

Hierdie artikelreeks is geskryf deur Kobus Pauw van Connection Impact. Kobus het ’n passie vir huwelike en is ’n uitstekende mentor en terapeut met baie jare se spesialiservaring. Hy doen aanlyn en in-persoon sessies.
Kontak hom vir meer inligting: 079 515 8565 of kobus@connectionimpact.co.za.
www.connectionimpact.co.za

Lees Deel 2 hier: Vyf Nuwe Bakstene vir ’n Sterk Huwelik

Vyf Nuwe Bakstene vir ’n Sterk Huwelik