Jong Getroude Reeks – Deel 2

Net soos met die bou van ’n huis: jy lê die fondasie, bou die mure, sit die dak op – maar die sukses van die huis lê in die kwaliteit van die proses. So ook in die huwelik. Die eerste artikel het gegaan oor die fondasie. Hierdie tweede vlak fokus op die bouwerk – die praktiese dele wat help dat julle verhouding sterk bly en groei. Hier is nog vyf bakstene wat deel moet vorm van die fondasie waarop julle bou.

Promosie

1. Konflikhantering

Wanneer twee mense saam leef, is verskille onvermydelik. Die vraag is nie of daar konflik gaan wees nie, maar hoe julle dit hanteer.
Wanneer ’n paartjie mekaar verstaan en respekvol kommunikeer, word konflik nie ’n bedreiging nie, maar ’n geleentheid vir groei.

In ’n gesonde verhouding word konflik nie vermy nie, maar konstruktief hanteer – dit word ’n plek waar daar gewerk word met dit wat julle deel, die gemene grond in elkeen se storie. Konfliksituasies vra dat ons die probleem in die middel plaas en saam daarna kyk. Niemand hoef te wen nie – die verhouding moet wen.

Praktiese wenke:

  • Moenie praat as jy kwaad is nie. Wag tot jy kalm is en kan luister.
  • Luister om te verstaan, nie om te antwoord nie.
  • Sê eerder: “Wanneer jy dit doen, voel ek …” as “Jy maak my kwaad.”
  • Sien konflik as ’n kans om beter begrip te bou.

Bybelse perspektief:

Efesiërs 4:26 sê: “As julle kwaad word, moenie sondig nie; moenie die son laat ondergaan oor julle woede nie.”

Promosie

2. Finansies

Geld is dikwels een van die grootste bronne van spanning in ’n huwelik. As dit nie reg hanteer word nie, kan dit baie vinnig ’n wig dryf. Paartjies word dikwels beïnvloed deur die “Joneses” en vergelyk hulself met ander.
Dis belangrik dat julle as paartjie saam besluit oor hoe julle maandelikse inkomste en uitgawes bestuur gaan word. ’n Eerlike gesprek oor geld is een van die grootste geskenke wat julle vir julle huwelik kan gee.

Praktiese wenke:

  • Wees eerlik oor skuld en besteding.
  • Maak ’n begroting en hou daarby.
  • Besluit saam oor groot aankope.
  • Moenie vergelyk met ander nie – elke paartjie se finansiële seisoen lyk anders.

Bybelse perspektief:

Spreuke 21:5 sê: “Behoedsaam beplan lei tot oorvloed, maar gejaagdheid tot gebrek.”

3. Grense

Wanneer grense goed gekommunikeer word, weet mense wat van hulle verwag word en ook waar hulle mag beweeg of wat hulle mag sê en doen. Grense beskerm die verhouding en help elkeen om verantwoordelikheid vir hul eie gedrag te neem. Dit gee ook duidelikheid oor hoe ander mense met julle as paartjie omgaan.

Praktiese wenke:

  • Stel duidelike grense teenoor familie en vriende – julle verhouding is nou die prioriteit.
  • Besluit saam watter grense julle by die werk, op sosiale media en in vriendskappe gaan stel.
  • Pas grense aan soos julle groei – dis nie staties nie.

Bybelse perspektief:

Spreuke 4:23 sê: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal hoe jy leef.”

4. Gewoond raak aan mekaar

Wanneer die aanvanklike opwinding van verliefdheid afneem, begin paartjies dikwels gewoond raak aan mekaar. Dis normaal, maar dis belangrik om nie in ’n roetine vas te val waar julle net “funksioneer” nie.

Daar is tye wat julle verhouding in ’n plek van “onderhoud” kom – waar dit voel asof julle net aan die gang bly, maar nie groei nie. Dis hier waar julle doelbewus moet kies om weer energie in die verhouding te sit. Let wel: enige nuwe ervaring bring nuwe energie.

Praktiese wenke:

  • Doen iets nuuts saam – gaan stap, kook iets anders, verras mekaar.
  • Moenie aanvaar dat jou maat weet hoe jy voel nie – sê dit.
  • Herroep herinneringe van julle begin jare.

Bybelse perspektief:

Openbaring 2:4 herinner ons: “Maar Ek het dit teen jou, dat jy jou eerste liefde verlaat het.”

Hou die liefde lewendig deur te onthou en weer te doen wat julle in die begin gedoen het.

5. Intimiteit

Intimiteit is veel meer as fisiese nabyheid – dis emosionele, geestelike en liggaamlike verbondenheid. Wanneer ’n paartjie hier hulle fokus verloor, begin diskonneksie insluip.

Dis belangrik om tyd te maak vir mekaar, om bewus te bly van aanraking, woorde van waardering en tyd saam. As daar beplanning nodig is, doen dit. Intimiteit groei waar daar veiligheid en respek is.

Wanneer paartjies in hierdie area sterk is, word die Here se teenwoordigheid in die verhouding ook sigbaar.

Praktiese wenke:

  • Bid saam – geestelike intimiteit versterk elke ander area.
  • Skep rituele van aanraking – hou hande, gee drukkies, kyk in mekaar se oë.
  • Praat eerlik oor julle behoeftes en begeertes.

Bybelse perspektief:

Hooglied 2:16: “My beminde behoort aan my, en ek aan hom.”

Slotgedagtes

Hierdie vyf bakstene bou voort op die fondasie van kommunikasie, waardes, trauma en aanvaarding.

’n Huwelik groei deur seisoene, maar altyd met geleenthede vir groei en verdieping. Wanneer paartjies hierdie beginsels toepas, bou hulle nie net ’n sterk huwelik vir vandag nie, maar ’n blywende nalatenskap vir die toekoms.

Lees Deel 1 hier: Van Gemiddeld na Wow: Bou só julle Huwelik

Lees Deel 3 hier: Ses Pilare van ’n Huwelik wat Hou

Hierdie artikelreeks is geskryf deur Kobus Pauw van Connection Impact. Kobus het ’n passie vir huwelike en is ’n uitstekende mentor en terapeut met baie jare se spesialiservaring. Hy doen aanlyn en in-persoon sessies.
Kontak hom vir meer inligting: 079 515 8565 of
kobus@connectionimpact.co.za.
www.connectionimpact.co.za

 

Van Gemiddeld na Wow: Bou só julle Huwelik

 

Ses Pilare van ’n Huwelik wat Hou