Getroude paartjies kla dikwels dat een of albei van hulle dikwels net te moeg is om seks te hê. Die manne kla dat veral die vroue dit gewoonlik sê. Sekerlik kan ’n mens te moeg wees om iets te doen (ook om seks te hê), maar wat beteken die boodskap “ek is te moeg vir seks” waarlik?
“Daar is dae wat ek net voor die televisie wil uitspan,” vertel Daleen. “Riku verstaan dit nie as ek op sulke dae nie kans sien vir seks nie. ‘As jy te moeg is vir seks, hoe is jy dan nie te moeg vir televisie kyk nie?’ vra hy dan. Wat hy nie besef nie, is dat televisie kyk geen emosionele inspanning van my verg nie. Ek kan net wéés . . .” Baie vroue voer aan dat hulle soms net te “moeg” is vir seks. Wat beteken dit waarlik?
VERKLARING #1: Jy is regtig fisiek baie moeg.
Redes hoekom moeg wees jou lus vir seks kan blus:
- Te min / versteurde slaap – een van die hoofredes hoekom mans en vroue fisiese moegheid ervaar en eerder ’n ekstra tydjie se slaap wil inkry as om seks te hê.
- Druk deur jouself of jou maat dat jy moet presteer tydens seks. As een van julle dink dat seks altyd sekere stappe moet insluit, altyd lank moet vat of dalk altyd net ’n orgasme vir een van julle beteken, mag jy besef: “Hierdie gaan baie energie vat van my! Energie wat ek net nie nou het nie!”
- ’n Mediese siektetoestand – depressie, enige toestand wat pyn van enige aard veroorsaak, hormonale probleme (mans en vroue).
VERKLARING #2: Jy is emosioneel uitgeput.
Redes hoekom emosioneel oorweldig voel jou lus vir seks kan blus:
- Onafgehandelde kwessies en konflik in ’n verhouding is ’n gewaarborgde passion killer (en dan is “ek is te moeg” ’n maklike antwoord om te gee om die emosionele werk wat julle behoort te doen – en emosionele intimiteit – te vermy. Mense kan vir baie jare dikwels eintlik op ’n emosionele vlak “wegkruip” sodat hulle nie praat oor kwessies wat hulle werklik pla nie, deur “te moeg te wees” vir seks. Die waarheid is dalk te moeilik om te hanteer en julle weet nie hoe om dit te doen nie – dan ontken en vermy julle die kwessie net vir ’n rukkie.
- ’n Té vol program – as jou dag te vol is met verantwoordelikhede (kinders, werk, gemeenskapsverpligtinge), mag dit baie moeilik wees om “af te skakel” om genoeg te kan kontak maak met jou maat sodat julle kan seks hê. Seks verg dat ’n mens “in die oomblik” / mindful moet kan wees.
- Te veel ander afleidings, soos TV en sport. As jou aandag heeltyd by ander dinge is tot tien minute voor jy bed toe gaan, mag dit baie moeilik wees om gou-gou emosioneel kontak te maak, op mekaar te fokus en lus te wees vir seks!
- Spanning en/of angstigheid kan jou baie uitput omdat dit baie emosionele energie verg om te funksioneer terwyl jy gespanne en angstig voel.
- Verveeldheid – ja – as seks altyd op dieselfde manier, plek en tyd gebeur, mag dit een of albei van julle se seksuele dryfkrag uitput! Dit kan voel asof jul batterye pap is.
Slaan “seksmoegheid” hok!
- Kry ’n professionele evaluasie en hulp as jy dink jou moegheid het te doen met ’n mediese toestand. Wees openlik met jou dokter of sielkundige oor al jou simptome sodat jou probleem so goed as moontlik behandel kan word. Dit mag ook bloedtoetse insluit om sekere toestande uit te skakel en te help om ’n diagnose te maak.
- Praat met mekaar oor die probleem, hoor by mekaar hoe die ander een voel, wat julle vir mekaar kan doen om dit beter te maak. “Jy is altyd moeg!” is ’n baie direkte beskuldiging, terwyl “Wat is daar wat ek kan doen om dit vir jou beter te maak?” dit veilig maak vir jou maat om met jou te praat. Emosioneel veilig voel is ’n baie groot, gewaarborgde turn-on!
- Beplan wegbreeknaweke van tyd tot tyd – die doel daarvan is om ’n geleentheid te skep waar julle kan fokus op mekaar, emosioneel kan herkonnekteer, asook kan afsluit van ander verantwoordelikhede en dinge. Probeer soms om na ’n plek toe te gaan wat juis anders is as julle huis – dalk geen selfoonopvangs nie, geen TV nie, aktiwiteite wat julle voorheen saam gedoen het as paartjie (bv. ’n sportsoort of kunstefees) voor die kinders en baie ander verantwoordelikhede daar was.
- Herdefinieer julle uitkyk op seks! As julle voorheen net gefokus het op penetrasie en orgasme – bespreek, kry inligting, groei en eksperimenteer met alles wat julle kan doen wat juis nie met penetrasie te doen het nie – oliemassering vir mekaar, lang en uitgerekte orale seks vir haar, erotiese verassings, kyk hoe lank kan julle mekaar soen voordat julle oorgaan tot seks . . . As die paartjie beide voel dat die vrou altyd ’n orgasme moet kry, hou in gedagte dat die meeste vroue heelwat langer vat as die man om ’n orgasme te kry – dit kan dus heelwat meer energie van haar verg. As sy dan soms voel dat sy wel die energie en lus het vir ’n quicky, maar nie die energie het vir haar eie orgasme nie, mag ’n quicky ’n goeie opsie wees!
- Skep doelbewus en gereeld geleenthede vir julle om seks te hê wanneer julle nie moeg is nie. Maak bv. ’n weeklikse date – reël ’n kinderoppasser, doen iets lekker saam, vermy die TV, bad saam, vat baie aan mekaar, maak oogkontak, praat, masseer mekaar met olie – fokus op die hier en nou en op mekaar.
In ’n neutedop – ’n mens kan te moeg voel vir seks. Indien dit dikwels met een of beide van julle gebeur, doen moeite om uit te vind wat aan die gang is, hoekom dit gebeur en maak planne om dit te verander. As julle té lank, té dikwels die “ek is moeg”-kaart speel, mag dit oor ’n lang tydperk probleme in julle verhouding veroorsaak.
Deur Wilme Steenekamp