Sodra julle die kooi tref met ander bedoelings as wat die primêre funksie daarvan bied, is manlief op sy stukke. Maar jy wonder soms hóé verkies die kat sy room . . .

Vra jy die meeste mans, en hulle sal noem dat hulle nie omgee watter posisie vroulief verkies nie, solank sy net ’n posisie verkies! En die meeste mans het hul eie individuele voorkeure wat seksposisies aanbetref. Vir sommige is dit dié posisie waarin hulle meer van hul maat te sien kry. Vir ander is dit dié posisie waarin hulle so lank as moontlik kan “uithou” voor ejakulasie plaasvind. Vir baie vroue is oogkontak en die intimiteit wat daarmee saamgaan ’n prioriteit, en ander het weer ’n behoefte aan die dieper penetrasie wat sekere posisies bied.

Ná verskeie mans egter reguit gevra is watter posisies hulle verkies, het die uitslae van vele ondersoeke die volgende top vyf-posisies geïdentifiseer. Maak seker jy beproef almal en behou die goeie!

In die vyfde plek . . . is LEPELLê!

Promosie

Dit is daardie posisie waarin julle lekker styf teen mekaar lê – jy met jou rug en agterstewe teen sy bors en . . . eh . . . pakket. Vir mans is seks in die lepellê-posisie veral lekker gedurende daardie tye wat een (of albei) van julle lui en/of moeg is. Dit verg nie veel inspanning nie en niemand hoef die ander een se gewig te ondersteun nie, maar manlief het volle toegang tot jou lyf met albei sy hande. Boonop het jy ook ’n vrye hand om ’n bietjie “handjie by te sit” waar nodig. Dié posisie werk lekker vir rustige, stadige seks en ná die tyd kan julle sommer so aan die slaap raak.

In die vierde plek . . . is STAANDE SEKS

Enige man smag soms na ’n bietjie avontuur en staande seks is perfek vir daardie dringende “ek-moet-jou-hê-en-ek-moet-jou-nóú-hê” ervarings. As julle dáár en dan seks het (teen die muur, op die kombuisblad, in die stort), wys jy hom dat jy nie kan wag vir ’n horisontale posisie nie en dat ’n vertikale of diagonale nommertjie net so goed sal werk – solank jy dit nóú kan kry. Die blote gedagte laat hom onweerstaanbaar voel. Dis die perfekte scenario vir ’n quickie – en watter ou gaan nié “ja, asseblief” sê vir ’n quickie nie!

In die derde plek . . . is DOGGY STYLE

Jip, die manne hou hiervan. En nie net omdat die akteurs dié posisie vervolmaak het in die eerste “blou film” wat manlief as ’n tiener onder oë gekry het nie! Met jou in ’n handeviervoet-posisie (nie juis wat die meeste vroue op hul top drie-lysie sal plaas nie) en jou man agter jou, is penetrasie redelik diep. Miskien is dit juis wat jy wil hê. Ander vroue kan dit as ’n bietjie rof en dierlik ervaar. As dit wel só is, kan julle hierdie posisie meer toeganklik maak deurdat jy nie op jou hande staan nie, maar net op jou knieë (jy kan selfs met jou hande teen ’n muur leun). Só het manlief goeie toegang tot jou borste. Omdat dié posisie dieper penetrasie toelaat, kan dit hom goed laat voel, maar as dit vir jou té veel is, laat hom weet.

In die tweede plek . . . is SENDELINGSTYL

Hoewel dit die ou, getroue standaard-posisie is, is dit soos Mrs Balls Chutney. Ja, dit mag dalk tradisioneel wees, maar daar is ’n rede waarom dit ’n treffer is! In dié posisie is hy in beheer, maar daar is steeds intimiteit omdat julle mekaar in die oë kyk en soen nie ’n uitdaging is nie. Jou heupe kan vryelik beweeg, maar julle kan saam die pas bepaal. Jy kan hom met jou heupe of jou hande op syne wys as jy vinniger of stadiger wil beweeg.

In die eerste plek . . . is WOMAN ON TOP

As jy nie seker is nie, vra vir manlief, maar ons kan jou amper waarborg dat hy gaan saamstem! Dié posisie plaas jou in die bestuursitplek, waar jy die pas kan bepaal en vir hom die raaiwerk uit die situasie haal. Hy hoef nie meer te wonder nie – hy weet jy doen wat jy nodig het om seks te geniet. Boonop het hy sy hande vry om met jou lyf te speel (dit is nou tensy jy hulle bo sy kop vaspen met joune) en jou klitoris te stimuleer. Waarom is die manne so lief vir dié posisie? Hy het jou lyf in volle aansig, in volle glorie. Skakel dus die ligte aan! ’n Lekker afwisseling op dié enetjie is die “reverse cowgirl”, waar jy net omdraai en met jou rug (agterstewe) na hom toe draai.

Dit is nou wel die manne se top vyf-posisies, maar ons kan jou waarborg dat jy dié staatmakers ewe veel sal geniet. En indien een van hulle ’n uitdaging is, is daar heelwat variasies waarmee jy ’n aanpassing kan maak sodat elkeen van hierdie posisies ook vir jou nommerpas is!

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.yourtango.com, www.redbookmag.com, www.idiva.com.