Dit is woorde waarmee sprokies eindig – die hoop van elke paartjie. En tog is die hartseer realiteit dat die egskeidingsyfer onder kerkmense presies dieselfde as by die res van die bevolking is.

Promosie

Ek bevestig jaarliks heelwat paartjies in die huwelik, en met elke eerste ontmoeting vra ek wat hulle laat besluit het om die groot stap te neem. Die antwoorde eggo die sprokie: “Hy maak my só gelukkig” of “Sy verstaan my” of “Ons het dieselfde drome”. Die glimlagte is breed, die oë blink. Die bril waarmee hulle kyk, is verblindend rooskleurig. Die chemie wat bruis in ons are, is die natuur se slim manier om die voortbestaan van ons spesie te verseker. Ons kyk verby mekaar se uitdagings, foute en gebrokenheid. In dié fase doen ons niks wat die harmonie kan versteur nie. Ons vee oor verskille, ignoreer irritasies en vermy argumente. Ons is so gelukkig soos wat kan kom . . . elke dag is ’n wittebrood.

Tot op ’n dag

. . . . . . wanneer jy voel jou maat het oornag verander. Julle stry oor alles. Klein goed irriteer jou. Jy kan nie glo wat jy hoor en sien nie. Jy voel jou maat behoort jou gelukkig te maak, maar is net te hardkoppig om dit te doen. En só selfsugtig!

Promosie

Julle begin om te onderhandel. As jy dit doen, sal ek dat doen. Heen en weer. ’n Uitputtende wipplank wat niemand êrens bring nie. Julle verlang terug na die tyd toe alles maklik was. Hollywood help nie eintlik nie – dit laat jou dink dat daar iemand daar buite is wat jou net sal verstaan, en alles vanself sal laat werk.

Wat staan ons te doen?

In die brief aan die gemeentes in Korinte nooi Paulus ons: “Don’t be wishing you were some place else or with someone else. Where you are right now, is God’s place for you. Live and obey and love and believe right there. God, not your marital status, defines your life. Don’t think I’m being harder on you than on the others. I give this same counsel in all the churches.” – 1 Korintiërs 7:17 (The Message)

Dit waarna ons op soek is, is meermale daar waar ons nou is. Die spasie tussen jou en jou lewensmaat het die kapasiteit van geluk, transformasie en vervulling. Dié spasie kom egter nie vanself nie. Dit vra van my om ag te slaan op my innerlike wêreld, verantwoordelikheid te neem vir myself en in mekaar se wêrelde te gaan kuier.

Om ag te slaan op my innerlike wêreld

Elkeen van ons sit langs ons eie poel trane. Ons het almal iewers langs die pad seergekry – in ons kinderdae, in vorige verhoudings of deur slegte ervarings. Ons raak verlief op iemand omdat ons onbewustelik glo dat die ander een ons sal kan genees. Die magstryd is dan juis wanneer jy voel jou maat weet wat jy nodig het, maar kies om dit nie vir jou te gee nie. Om ag te slaan op jou innerlike wêreld, is om bewus te raak van jou eie seer en gebrokenheid. Ek let op my emosies – oor wat my kwaad, bang, hartseer en skaam maak.

Om verantwoordelikheid te neem vir myself

Om ’n volwassene te wees – ’n man – beteken om verantwoordelikheid vir ons eie lewens te neem. Dit is om dít waarvan ek bewus word raak te sien, te erken, as my eie te omarm en daarmee te werk. ’n Geestelike begeleier kan jou help om jou pyn in gebed na God te neem en jou leer om oor te gee aan God se veranderende werk in jou lewe. Om verantwoordelikheid te neem, is om te leef vanuit die wete dat geluk ’n inside job is.

Om in mekaar se wêrelde te gaan kuier

Ons verhoudings skuif wanneer ons verby ons ego’s beweeg en leef vanuit wie ons ten diepste is – God se geliefdes. Dit stel my in staat om in my maat se wêreld te gaan kuier, met die gereedskapkis en swaard gebêre.

Ons luister diep na mekaar, met die wete dat dit wat ons nou deel heel moontlik sy wortel in die verlede het. Ons vra vrae soos: “Wanneer in jou lewe het jy ook soos nou gevoel?” Ons het empatie. Ons hou die spasie tussen ons veilig, nie-veroordelend, aanvaardend en gevul met deernis. ’n Verhouding bied die kapasiteit waarin ons kan groei en transformeer as ons beide ag slaan op ons innerlike wêreld, ons verantwoordelikheid neem vir ons lewens en ons in mekaar se wêrelde gaan kuier.

Dis dan wanneer die sprokie plek maak vir ’n lewenslange avontuur van ontdekking, konneksie en intimiteit.

 

Deur Jacques Bornman, ’n leraar by die Mosaïek-gemeente waar hy die Skool van Gebed lei. Hy is getroud met Lizl, en jy sal hulle heel moontlik in een van Johannesburg se koffiewinkels vind.

Volg Jacques op Twitter by @ jacquesbornman of besoek sy blog by www.jacquesbornman.com.