Vra enigeen met ’n kop vir besigheid wat ‘n onontbeerlike stap is voor jy jou eie onderneming begin en hy/sy sal antwoord: ’n Sakeplan!

Sonder ’n sakeplan maak jou onderneming nie sin nie en raak dag-tot-dag take vaag en lukraak. Jy het ’n plan nodig om die bestuur van jou onderneming so doeltreffend as moontlik te laat verloop. Skribbel jou gedagtes op papier en jy sal jou onderneming beter verstaan om te kan besluit watter rigting dit in watter stadium moet inslaan. Dieselfde met jou huwelik – ’n huwelik is die bestuur van jul lewe saam! Julle voeg jul lewens by mekaar, omdat julle voel dat julle beter as ’n vennootskap kan funksioneer.

Jy wil jou huweliks-onderneming beter verstaan om langtermyn sukses te verseker. Daarom moet julle ’n gedeelde visie hê, asook vaardighede wat mekaar komplementeer en langtermyn doelwitte wat ooreenstem. As julle ’n sakeplan vir jul huwelik het en dit gereeld hersien, maak dit die neem van groot besluite soveel makliker. Dit help ook om in voeling te bly met jou huwelik sodat jy dadelik kan agterkom wanneer daar weg van jul doelwitte af beweeg word.

Joy Nordenstrom, stigter van Joy of Romance, bespreek hierdie konsep op ’n baie kreatiewe manier wanneer sy die “we-ness” (“ons-heid”) besigheid van die huwelik of ’n langtermyn-verhouding op loveandlifetoolbox.com aanspreek. Dit is geïnspireer deur ’n Harvard-studie wat wys dat die sleutel tot geluk en bevrediging in die lewe, liefde is. Volgens Joy skep julle ’n “ons-heid” die dag wanneer julle voor al die getuies julle beloftes aflê. Net soos entrepreneurs wat saam ’n onderneming begin.

STAP 1: Hoekom ’n “onderneming”?

Hoekom sou julle die besluit neem om te trou? Wat kry julle twee uit die “onderneming”? Sekuriteit? Liefde? Seks? Finansiële steun? Romanse? ’n Maat om mee te gesels? ’n Kombinasie hiervan? Vra mekaar wat julle sien as die grootste voordeel van jul onderneming. Sit nou by ’n tafel met ’n lekker bottel wyn, twee glase, pen en papier of ’n iPad en drukker, en stel jul sakeplan saam.

STAP 2: Praat oor jul visie en missie

Dink aan die gedeelde visie wat julle vir jul huwelik het. Watter doelwitte wil julle graag bereik? Tot hoe ’n mate wil julle as individue funksioneer en hoeveel tyd wil julle saam deurbring? As julle nie ’n duidelike idee het wat jul “onderneming” behels nie, is jul kans op moeilikheid groot. Net soos wat ’n mens vooropgestelde idees het voor jy met ’n onderneming begin, só werk dit ook met ’n huwelik. Jou idees en jou maat s’n kom dalk nie ooreen nie (watter rolle vertolk wie?). Vra dus nou oop vrae – hoe moet jul huwelik lyk, klink en wees?

STAP 3: Verdere beplanning behels . . .

Kyk na die huwelike van vriende wat julle beny. Ná julle jul navorsing gedoen het, besluit of julle dit deel van jul visie wil maak. Kyk maandeliks na jul plan en hoe dit groei. Kyk na jul komplementêre eienskappe. Waar sien julle die moontlikheid van koppe stamp en waar kan julle mekaar só goed aanvul dat dit tot voordeel van die “onderneming” strek? Praat ook oor praktiese langtermyndoelwitte, soos kinders en leefstyl. Hier moet jou huweliksdoelwitte, missie, visie en doel dus nou op papier neergeskryf word.

STAP 4: Let the games begin

Die aanvangsfase is ’n heerlike tyd! As julle besig was om ’n sake-onderneming te begin, sou dít die tyd wees waarin julle al die lekkertes deurwerk. As julle pas getroud is, word dit gerugsteun deur goeie chemie soos dopamien, endorfien, norepineprhine en phenylethylamine – ’n kragtige kelkie wat jou help om herinneringe meer duidelik te onthou, meen Joy. Dit is nou die tyd om kreatief en optimisties te dink! Stel sommer nou ’n jaarplan saam vir gereelde date nights en beplan saam aan jul tydsbesteding.

STAP 5: Bou jul handelsmerk

Wat wil jy hê moet ander mense sien wanneer hulle na jul huwelik kyk? Om dít vas te stel, moet julle kyk na julle elkeen as individue en as ’n paartjie saam. Praat julle dieselfde liefdestaal? Hoe lyk julle elkeen se persoonlikhede? Ekstrovert of introvert? Hoe ontspan julle? Watter rituele het julle om jul huwelik aan die gang te hou? As julle agterkom dat sekere karaktertrekke in die pad staan daarvan dat julle jul missie berei, kyk hoe julle dit kan aanpas. So nie, gaan julle moet vrede maak dat dit deel is van daardie 69% kwessies! Stem saam om te verskil.

STAP 6: Hou die boeke op datum

Dokumenteer die goeie tye – neem foto’s, neem selfies en bou saam aan albums. Hou dagboek en skryf kaartjies om hierdie tye te onthou. Dit sal baie waardevol wees wanneer julle ’n onmoontlike struikelblok teëkom (en hiervan gaan daar baie wees!). Terloops, navorsing deur die huweliksnavorser, John Gottman, toon dat 69% van alle huwelikskwessies by ’n paartjie bly deur hul leeftyd saam. Soek ook ’n goeie huweliksmentor, iemand wat julle verantwoordbaar hou vir julle aksies en dade. Dit kan ’n geestelike leier of ander paartjie wees wat julle op koers kan hou.

STAP 7: Influksiefase en kontrole

Dit is die fase waarin julle ’n bietjie gaan stilstaan en kyk waar julle die spyker op die kop slaan en waar julle nog ’n bietjie sal moet woeker. Hou jul huweliksgeluk hoog deur opwinding voorop te stel, julself mooi op te pas en tyd te maak vir mekaar. Stel grense indien nodig. Dit is belangrik om te weet waar jou huwelik se grense is wat deur elkeen van julle gerespekteer moet word.

STAP 8: Groei en uitbreiding

Dit is wanneer julle (letterlik) uitbrei deur jul gesinnetjie groter te maak, in ’n groter huis in te trek, ’n nuwe werk te aanvaar, of enige groot stap om jul “onderneming” uit te bou. Dit is ’n gevaarlike tyd, omdat dit is wanneer julle in ’n roetine kan verval, gewoond kan raak aan mekaar of bloot net te moeg raak om aan mekaar aandag te gee. Verhoudings wat floreer “oorleef” nie net nie, maar word daadwerklik aan gewerk. Deur sommer vooraf ernstige knelpunte op te los, buffer julle jul huwelik in ’n mate teen moeilikheid wanneer die kinders eers daar is.

STAP 9: Onthou van spanbou-geleenthede

Dis belangrik om dikwels “konferensies” te hou vir jul huwelik – verkieslik by plekke buite die huis (kantoor). Só herlaai julle jul batterye, blaas vonk in jul huwelik en kry kans om aanpassings te maak. Joy beveel die volgende suksesresep aan: Vyf ure per week, een naweek per kwartaal en een week per jaar net vir julle twee!

STAP 10: Die stabiele groeifase

Onthou, daar gaan ’n tyd kom wanneer die opwinding verby is. Die onderneming is besig om te stabiliseer en daar is nie juis nuwe dinge in die pyplyn nie. Waak daarteen om in jul huwelik te stagneer en probeer om voortdurend te groei. Gesels oor nuwe dinge (daarvoor het julle nodig om nuwe dinge te beleef!). Bestudeer die kompetisie (ander paartjies) en maak gebruik van afrigters of konsultante (beraders en huwelikskenners) indien nodig. Gedurende hierdie fase is dit belangrik om seker te maak julle “ons-heid” bly in plek.

Ten slotte is nuwe beleggings noodsaaklik. Vra jouself elke dag hoe jy jou lewe met jou maat kan beter maak. Lees ’n huweliksartikel, doen ’n aanlyn-verhoudingstoets, gee jou maat ’n kompliment, vra jou maat ’n interessante vraag. Sorg dat julle elke dag iets opwindend en spontaan doen. Kweek ’n passie vir jou “onderneming”, waardeer jou maat en jul “ons-heid” sal bly floreer binne ’n winsgewende huwelik!

Nog ’n paar wenke

  • Laat evalueer jouself en jou maat. Daar is verskeie kenners wat aanlyn persoonlikheid- en talenttoetse doen (bv. Strengthfinder en Marriage Capsule se LOFS temperamenttoets) waarmee jy jou en jou maat se sterk/swakker eienskappe kan vasstel en kan bepaal hoe elkeen in die “onderneming” optimaal gebruik kan word. Jy sal dit in jou onderneming doen, hoekom nie in jou huwelik nie?
  • Sodra julle weet hoe jul persoonlikheidsprofiele lyk, maak seker julle wend dit aan tot voordeel van die “onderneming” (huwelik). As jy die handige een in die huis is, hanteer jy die DIY, terwyl jy jou maat (wat meer kreatief is) meer vryheid gee om die dekor in die huis te behartig.
  • Moenie met mekaar kompeteer nie. Julle is deel van dieselfde “onderneming”, julle is in dieselfde span. Onthou dit elke keer wanneer ’n konfliksituasie opduik. Julle doel is om dit op te los ter wille van die huwelik en nie sodat een van julle as wenner uit die stryd kan tree nie.
  • Bespreek jul kommunikasiestrategie. Soveel goeie ondernemings ly onder swak kommunikasie wanneer ’n onderneming nie daardie afdeling onder die knie het nie. Konflikhantering is ook ’n onderafdeling hiervan. Bespreek hoe, wanneer en waar julle jul konflik gaan oplos vir optimale doeltreffendheid!
  • Wanneer julle werk aan jul beplanningsfase, onthou ook om ’n nalatenskap (legacy) te definieer. Ons praat nie hier van ’n monetêre nalatenskap nie, maar van watter nalatenskap julle vir jul kinders los deur ’n goeie huwelik te bou.

***

Wil jy seker maak dat jou huwelik hou? Wil jy vir jou kinders ‘n goeie voorbeeld wees van ‘n gelukkige en gesonde huwelik?

Is jy gereed om in jou huwelik te belê?

Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!