Dink terug aan die lekkerste tye wat jy en jou maat saam beleef het! Dalk was dit ‘n spesiale belewenis tydens Jool die tyd toe julle studente was. Miskien die eerste keer wat julle saam gebungee jump het. En dalk ‘n chip&dip aand by die huis wat in ‘n histeriese gegiggel geeïndig het. Alle herinneringe is nie herleefbaar nie. Maar trek volle voordeel uit jul mooiste tye saam!

Promosie

“Ek sal nooit die aand vergeet toe ek en my man, Diaan, die waarde van spanwerk wérklik ontdek het nie,” vertel ‘n vriendin nou-die-dag. “Ons was in ons twintigs en ons baba was so drie maande oud. Ons het geen idee gehad wát ons doen nie, maar ons het in ons hulpeloosheid bly spartel. Een oggend, drie-uur, toe klein André onbedaarlik begin huil het, was ons raadop. Diaan het bottels gemaak, ek het stropies gegee, maar niks wou werk nie. Tot hy uit desperaatheid ‘The Wheels on the Bus’ vir ons kind begin sing het. Daar was stilte en verbasing op ons kind se gesig – solank die sang en gesigsuitdrukkings en handgebare (deur die uwe) voortgeduur het. André het vir ons gestaar, maar die oomblik wanneer ons opgehou het, weer begin skreeu. So, dié petalje het omtrent 20 minute lank aangehou (dit klink dalk nie lank nie, maar glo my, dit voel soos ‘n ewigheid as jy die performer is!). Eindelik het sy oë toegeval en het ek en Diaan op die mat neergesak. Uitgeput. Tot ons onbedaarlik begin giggel het. Ek weet nie wat dit was nie – dalk die gedagte aan ons wat soos hansworse voor ‘n baba rondgespring het, en dalk net uiterse moegheid, maar die trane het letterlik geloop! Ons was in elk geval wawyd wakker en het besluit om ‘n bak roomys oop te maak en net daar te verorber, terwyl ons gesit en gesels het. Dit is een van my kosbaarste herinneringe ooit. Ek het selde in my lewe só na aan Diaan gevoel soos daardie aand. Ek dink dit was vir ons albei ‘n besef dat ons sáám enige storm en uitdaging kan trotseer.”

Herinneringe soos dié kan nie herleef word nie. Jy gaan nooit weer daardie perfekte oomblik hê nie – wel, nie onder presies daardie omstandighede nie. Dit beteken egter nie dat jy nie dieselfde gevóél weer kan hê nie… Wanneer julle in die voorspelbare ritme van ‘n huwelik verval het en julle ken elke moesie op mekaar se lywe, raak dit moeilik om weer die skoenlapper-gevoel te beleef. En met rede. Maar niks verhoed julle om pret-herinneringe te herskep nie.

Herskep een van jul vroeë afsprake
Was dit ‘n ou Afrikaanse fliek in die inryteater? Het julle voor die tyd by die road house gestop vir ‘n pienk melkskommel? Daardie inry en road house bestaan dalk nie meer nie. Maar as jy nêrens ‘n inryteater kan opspoor nie, skep jul eie een. Leen of huur ‘n truprojektor en skyn die beeld op een van jul buitemure. Gooi ‘n kombers op die gras, maak jul eie pienk melkskommel en kyk of julle dieselfde fliek van destyds kan opspoor. Was jul eerste afspraak in ‘n disko? Herleef dit met ‘n disko-bal en musiek uit die tagtigs, in jul eie slaapkamer. Dalk het julle gaan rave? Wat ook al jul eerste afspraak behels het, maak ‘n pret-geleentheid daarvan en herskep dit in die hede.

Promosie

Bêre fisieke aandenkings van goeie tye
Dit is so maklik om in die hede vasgeval te raak en al die mooi hoogtepunte uit jul verlede raak kort-voor-lank net vae herinneringe. Maar vir herinneringe om aan te hou leef, moet jy hulle gereeld afstof. Doen dit deur ‘n herinnerings-boks te skep. Ons besef almal is nie ewe sentimenteel nie. Maar as jy iewers in jou huis ‘n ruimte kan skep vir daardie eerste fliek kaartjies, die droë blom, die hospitaal bandjies van jul kinders se geboortes en die confetti van jul troudag… sal dit snellers word wat julle sal help om daardie eerste herinneringe te herleef. Maak gereeld daardie boks vol herinneringe oop. ‘n Goeie dag om dit te doen is jaarliks, op jul huweliksherdenking. Pak die boks uit en gesels oor al daardie geleenthede… probeer soveel moontlik herinneringe uitryg. Jy het dalk vergeet van die oom wat te veel te drinke gehad het en kaalbas om die onthaal saal gehardloop het, maar jou maat het nie (of jy het dalk nooit daarvan geweet nie!) Deel al jul herinnerine met mekaar. Só skep julle nuwe herinneringe vir mekaar en bly jul oues voortleef.

Dagdroom gereeld genoeg
Laat jouself toe om gereeld te dagdroom. Van kleins af word ons hierteen gewaarsku en het ons pakslae gekry, sou ons dit dúrf waag om ons gedagtes te laat dwaal. Maar as grootmense het ons dit nodig. Neem jouself terug na ‘n tyd toe daar nie soveel druk op julle was nie. ‘n Tyd toe jy dolverlief was op jou maat vir die unieke eienskappe wat jy so bewonder het. “Dagdroom en raak verlore in die herinnering van daardie eerste afsprake om jouself te herinner dat jou maat steeds daardie persoon is. Om te stop om te onthou wat julle by mekaar gebring het en te kyk na die lewe wat julle saam gebou het, is verskriklik belangrik, sê verhoudingsterapeut Jill Vermeire op redbookmag.com. “Waardering kan ‘n wonderlike seks-opkikker wees.” Ons vergeet dikwels wie ons was, wie ons maats was en hoe die dinamiek van ons verhouding gelyk het. Sy stel voor dat ‘n mens jou vriende vra wat jy destyds oor jou maat gesê het toe julle net begin uitgaan het om jou geheue te verfris.

Moenie verwag dat die vlinders-in-die-maag gevoel gaan terugkeer nie. Destyds het jou hormone ‘n baie groot rol gespeel en intussen het julle liefde verdiep om plek te maak vir ‘n heel ander liefde as daardie eerste ‘verliefde’ gevoel. Geniet en waardeer dit wat julle nou het. Fokus op positiewe gedagtes en positiewe woorde. Soms hou ‘n mens nie baie van jou maat nie, maar jou innerlike dialoog speel ‘n groot rol as dit kom by jou gevoelens jeens die een met wie jy ‘n lewe deel. Dink mooi oor wat jy jouself vertel en bly positief en empaties… dit wat julle nou het is dalk nie dieselfde as destyds nie, maar dit beteken nie dit is slégter nie – net anders.