Manlief het al ál jou moves gesien en jy is raadop oor hoe om jul sekslewe ’n bietjie meer opwindend te maak. Speelgoed werk nie vir hom nie, en jy dink ’n romantiese ete met wyn en oesters is al afgesaag. Hoe nou gemaak? Pluk jou haas uit die hoed – belly dance vir hom!

Promosie

Belly dancing klink dalk vir jou soos ’n obskure dans in ’n klein Turkse agterstraat-restaurantjie, maar dit is allermins die geval! Belly dancing is jou troefkaart vir wanneer Manlief voor die sportkanaal vasgenael sit, en dink dat bedpret tot na die finale telling op die telbord kan wag (en as sy span natuurlik gewen het!). Om te belly dance is om met jouself gemaklik te wees, en die kuns van sensuele vrouwees te bemeester. Dit is as’t ware ’n kunsvorm met baie meer voordele as net om die passie in jou huwelik terug te sit. Dit is ’n dans wat deur die jare al vervolmaak is, want belly dancing word al immers vir duisende jare beoefen.

’n Kleurryke geskiedenis
Tegnies is die naam belly dance (Arabies: raqs sharqi) streng gesproke verkeerd, omdat dit per slot van rekening nie nét jou belly is wat dans nie, maar jou hele lyf. Nietemin word daar na belly dance ook as die oriental dance of folk dance verwys – afhangende van waar in die wêreld jy jou bevind. Daar is egter baie argumente oor presies waar en wanneer die dans ontstaan het. Een teorie is dat vroue in Indië, Iran en Noord-Afrika vir mekaar gedans het om geboorte te demonstreer en dit makliker te maak.

Volgens Karol Henderson Harding, ook bekend as The Joyful Dancer, toon die geskiedenis dat die dans duisende jare gelede in die Midde-Ooste en die nabygeleë lande (antieke Griekeland, Masedonië, Egipte, ensovoorts) ontwikkel het van ’n godsdienstige dans wat in tempels uitgevoer is, tot ’n erotiese, sekulêre dans, en later ’n professionele dansvorm vir vermaaklikheidsdoeleindes. Daar word geglo dat Napoleon die eerste Westerse kontak met díé tipe dans gehad het toe hy in 1789 Egipte binnegeval, en sy troepe die sigeuners (gypsies) daar raakgeloop het. In die 18de en 19de eeu het belly dance nog bekender geword as gevolg van die romantiese beweging toe Oosterse kunstenaars díé tipe dans in hul kunswerke oor die Ottoman Koninkryk uitgebeeld het.

Promosie

Vandag is daar in die Westerse wêreld om elke hoek en draai ’n belly dance-skool, en jonk en oud, groot en klein probeer almal om dié kuns te bemeester. Maar waarom nou die groot bohaai oor hoe goed jy jou middel kan skud, wonder jy dalk?

Dans jou hart uit – dis goed vir jou . . . en vir Manlief!
Marina Basson, professionele belly dancer en instruktrise by ’n bekende belly dance-skool in die Vaaldriehoek, meen dat belly dancing se voordele baie verder as ’n verleidingstegniek strek – gesondheidsvoordele en emosionele groei is ook bo-aan die lys.

Sy meen baie mense dink dit is net jou maag wat oefening kry, maar inderwaarheid is belly dancing intramaskulêr – jou ander spiere oefen ook. “Jy sal nooit ‘gespierd’ word van belly dancing nie, maar jy sal jou vroulike rondings verbeter. Jou heupe, boude en magie sal byvoorbeeld meer beklemtoon word. Dit doen ook wonders vir jou bekkenspiere (daardie spiere wat jy oefen as jy gereeld jou kegeloefeninge doen), en as jou lyf ferm is en goed voel, sal jy ook goed voel.” Verder sê sy dat dit jou lyf baie soepel maak, dit help met geboorte (waarvoor sterk bekkenspiere nodig is), dit help met rugpyn en ook om spanning in jou spiere te verlig.

Junelle van As (26) van Kyalami, wat ongeveer vier maande gelede met belly dance-klasse begin het, verduidelik die fisiese voordele soos volg: “Dit is bietjie ’n verandering van elke dag se gym of aerobics wat ’n mens doen. Wat dit aanhelp, is dat dit regtig nie voel of jy oefen nie. Wat ook lekker is, is dat jy nie noodwendig dit in ‘gym-klere’ hoef te doen nie. Jy dra lang, los rompe met T-hemde en kleurvolle gordels”. Wanneer dit by emosionele groei kom, is dit veral jou selfbeeld wat verbeter wanneer jy belly dance. Niemand is te oud, te vet, of te lelik om te begin nie. Marina vertel dat baie van haar studente uit gebroke huwelike kom en deur sielkundiges na haar toe gestuur word om hul selfbeeld weer op te bou.

“Jy hoef nie soos ’n plank te lyk, of so maer soos ’n model te wees om te dans nie. Dames met ’n voller of ronde figuur moet net besef dat dit juis dáárdie bates is wat jou mooi maak wanneer jy belly dance. Dit gaan nie oor hoe jy lyk nie, maar oor die sensualiteit van die dans,” sê Marina. “Jy leer om jouself lief te hê en die dans van binne af te ervaar.”

Elmari Craig, ’n Christen-seksuoloog van Pretoria, meen ook dat belly dancing jou leer om “in kontak met jouself te kom en gemaklik met jou lyf te raak. Dit bou jou selfvertroue, omdat ons nie altyd weet hoe om ons heupe te swaai nie. Dit verbeter jou energievlakke en leer jou die regte tegnieke, sodat jy nog iets by jou seksuele repertoire kan voeg”.

En wanneer jy uiteindelik daardie eerste stap neem en vir Manlief ’n move of twee doen, wat sal sy reaksie wees? Marina vertel haar man, ’n “stoere, Afrikaanse boertjie”, het self eers gedink dat dit ‘n klomp nonsens is, maar vandat hy besef waaroor die dans werklik gaan – dat dit ’n sensuele, en nie ’n tacky, seksuele dans is nie – is hy haar grootste bemarker. “Hy woon al my kompetisies by en vertel vir almal sy vrou is ’n belly dancer – iets wat hy nooit voorheen sou doen nie.” Sy sê verder dat enige man dit onweerstaanbaar sal vind en “jy sal sommer in sy oë die ‘kom-bed-toe’-boodskap lees”.

Wees beter voorbereid: in die begin sal dit maar hakerig gaan, omdat jy eers moet leer, en jou liggaam eers daaraan gewoond moet raak. Wees egter gerus dat Manlief uit jou hande sal eet as jy eers vir hom ‘daai kyk’ gee en jou heupe begin wikkel.

Kry dít
’n Belly dance-kostuum word ’n bedlah (Arabies vir ‘pak’) genoem, en oor díé uitrustings kan ’n hele artikel geskryf word. Dit bestaan gewoonlik uit ’n bra, ’n gordel (hip scarf) met klokkies of krale, en ’n romp. Só ’n uitrusting kan jou ’n paar duisend rand kos, maar Marina sê jy het dit nie nodig nie. “Jy kan enige romp aantrek waarin jy gemaklik is, en enige bostuk wat jou vroulik laat voel, maar dit is wel belangrik om ’n hip scarf aan te sit, omdat die klokkies dit net soveel meer verleidelik vir Manlief sal maak.

Dit gaan oor hoe jy van binne af voel, en jou klere sal jou nie beter of slegter laat voel nie.” Natuurlik is jy welkom om onderklere te dra, maar as jy ’n bietjie meer waagmoed het, voer die dans sonder enige onderklere uit – dink maar net aan Manlief se verbasing!

As jy jou uitrusting reg het, is dit tyd vir musiek. Arabiese musiek, tekenend van sekere ritmes, is ’n móét.

Dié tipe musiek is nie vrylik in Suid-Afrika beskikbaar nie, en volgens Marina is dit die beste om dit van die internet af te koop. Jy jan natuurlik ook met ’n slang, simbale, swaarde, tamboeryne of vuur dans, maar los dit eerder vir die professionele dansers – jy wil Manlief nie hééltemal die skrik op die lyf jaag nie! Wat jy wel kan aanskaf, is ’n deurskynende veil (serp). Vou jouself daarin toe en haal dit stadig en verleidelik af terwyl jy jou bewegings uitvoer.

Oefen, oefen, oefen!
Belly dancing is die maklikste dansvorm vir beginners, of vir mense wat nog nooit gedans het nie, en, hoewel baie mense dink dat die bewegings ingewikkeld is, is dit eintlik baie natuurlik en behoort jy dit maklik te kan bemeester (hubpages.com). By die meeste bewegings gaan dit oor die beklemtoning van ’n sekere liggaamsdeel – skouers, heupe, bors, maag, ensovoorts.

Vir Junelle is een van die lekkerste dinge van belly dancing wanneer jy besef hoe baie jy in ’n kort tydjie leer. “Die een week dink jy dit is onmoontlik om van die bewegings uit te voer, maar voordat jy jou oë uitvee, het jou lyf geleer om op ’n sekere manier te beweeg, en kom dit as tweede natuur. Na ’n ruk doen jy al die moves sonder om eers daaroor te dink. Jy kom ook baie vinnig agter dat sekere van jou liggaamsdele meer toned lyk en aansienlik sterker is as wat dit was.”

Om te begin, sorg dat jy die volgende gereed het:
• Genoeg spasie
• ’n Spieël (opsioneel)
• Jou uitrusting, musiek en serp
• Genoeg privaatheid totdat jy voel jy is gereed vir ’n gehoor (Manlief, met ander woorde!)

Probeer die volgende bewegings en roetine wat Marina voorstel:
Pelvic circle – Gebruik jou bekken (hou jou bolyf stil) en draai jou heupe in ’n sirkel verby jou voete. Die beweging moet vloei en die sirkel moet klein en netjies wees.
Figure eight – Gebruik jou heupe en maak ’n sirkel na links – van agter na voor – twist jou heup asof jy deur jou naeltjie sny, en beweeg die regterheup om dan ’n sirkel van agter na voor te maak. Herhaal die beweging van kant tot kant in ’n vloeiende beweging en hou dit sensueel.
Hip bump – Snap jou heupe na die buitekant asof jy jou kardeur toeslaan wanneer jou hande vol is. Dis ’n skerp beweging en perfek om saam met tromritmes te doen.
Shimmy – Staan met jou lyf regop en jou knieë effens gebuig. Buig en strek jou knieë op ’n ritmiese manier sodat jou lyf vibreer.
Snake arms – begin deur jou linkerelmboog op te lig, en beweeg deur na jou linkergewrig, en dan jou handpalm, en bring dan die beweging af (jou palm moet die heeltyd boontoe gebuig wees asof jy besig is om met jou hand te verf). Die beweging moet ’n golf van arm na arm wees.

Roetine:
• 4 x snake arms (albei kante)
• Loop vorentoe vir 4 tellings
• 4 x hip bumps (links, regs, links, regs)
• Beweeg dan in ’n 6-telling shimmy in
• Tree kant toe vir 3 tellings
• 2 x figure eights (links, regs, links, regs)
• 2 x snake arms (albei kante)
• 4 x pelvic circles
• Loop vorentoe vir 5 tellings

Maar mág ek maar?
Jy het nou alles wat jy nodig het om te begin, maar jy wonder: mag ek as Christen-vrou maar belly dance? Díé dansvorm het oor die jare so ontwikkel dat dit nie meer net vir sekere ‘geloofsrituele’ gebruik word nie. Wanneer dit by klassieke belly dance-style kom, meen Marina dat dit deur vroue “met ’n passie vir sensuele dansvorme, gesondheid en fiksheid’’ gedoen word. “Enigiemand kan iets uit verband ruk, en daarom is dit belangrik dat ’n gekwalifiseerde belly dance-instruktrise, wat die dans presies verstaan, vir die publiek verduidelik waaroor dit gaan.’’

Elmari beaam dit ook wanneer sy sê dat ’n mens ’n duiwel uit elke bos kan skop. Sy meen egter dat die “intensie waarmee jy dit doen – vir jouself, vir jou huwelik en om jou sekslewe interessant te maak – die belangrikste is, en daarom mag jy dit maar doen”.

As jy nog nie die moed het om dit vir jou sekslewe te doen nie, doen dit saam met jou vriendinne vir jouself. “Dit is ’n lekker uitstappie een of twee keer ’n week vir ’n klomp vroue wat net saam wil lag en leer. Jy ontmoet ook baie mense, so jy hoef nie eers ’n groep bymekaar te kry nie. Dit is regtig soveel pret. En dit is die een tyd in die week wat ek nie aan my stres en my werk dink nie. Jy lag so baie dat jy nie tyd het om jou te bekommer nie. Al doen jy dit net daarom, is dit die moeite werd. Daarby is dit goeie oefening en ’n ‘social network’ wat nie op die internet is nie!” sê Junelle.

Belly dancing is ’n bemagtigende dans en nie vulgêr of afskuwelik nie,” verduidelik Marina. “As jy bang of skrikkerig is om te begin, sê vir jouself: ‘Van vandag af begin ek my vroulikheid omarm’, en as jy eers begin het, sal jy spyt wees oor dit wat jy sover misgeloop het!”

*Met dank aan Marina Basson.www.cairomoonbellydance.co.za
Artikel deur Hesca Joubert

Addisionele bronne:
http://joyfuldancer.home.comcast.net; http://
en.wikipedia.org/wiki/Belly_dance; www.wonderhowto.
com