Oop huwelike is woorde wat mens al hoe meer hoor. Oop huwelike spruit uit die beginsel dat ’n getroude man en vrou mekaar toelaat om met ander mense seks te hê, terwyl hulle steeds getroud bly. INTIEM het met ’n leser oor haar ervaring van ’n oop huwelik gepraat.

Anita (35) vertel sy en haar man was ’n paar jaar gelede in ’n oop huwelik. “Ons is al 14 jaar saam en het twee kinders. My man het eendag vir my gesê die idee dat ek met ander persone, behalwe hom, seks het, is vir hom ’n turn-on. Ons het besluit om ’n oop huwelik te probeer.”

Aan die begin het hulle baie reëls neergelê waarby hulle moes hou. “Ek mag byvoorbeeld nie saam met enige man in ons vriendekring geslaap het nie. In die begin was my man baie jaloers. Hoewel hy dit as ’n turn-on gesien het, het hy dit ook as ’n bedreiging gesien.

“Hy was baie weg en ek het hope aandag van ander mans gekry – en dit geniet. My man wou elke detail van die begin tot die einde weet. Dit het my ongemaklik laat voel. Ek moet bieg die paar kere wat hy ’n ander vrou gekry het, was ek bietjie jaloers en het dit my ook bedreig laat voel.”

Promosie

Dit was nie vir hulle maklik om mense wat belangstel in oop huwelike te ontmoet nie. “Jy ontmoet nie sulke mense sommer op enige plek nie. My man het voorgestel dat ons ’n webtuiste probeer. Dis waar ek drie van die mans met wie ek ingestem het om mee kennis te maak, gevind het. Ek het eers vir drie maande met die eerste man oor die Internet gepraat voor ek ingestem het om hom te ontmoet. Ek het altyd verkies om vir die enkel-mans te gaan. Ek het ook aangedring op hulle Facebook-besonderhede sodat ek kon gaan kyk hoe hulle lyk.

“Dit het oor ego en my fantasieë gegaan. Ek het gehou daarvan om vir iemand te gaan wat mooi is of ’n mooi lyf het. Ek was altyd eerlik oor wat ek verwag het. So as ons ontmoet het en daar was nie ’n konneksie tussen ons nie, het ons weggeloop sonder kwade gevoelens.”

Sy en die mans het in openbare plekke ontmoet. Sommige kere was dit by ’n lodge met ’n restaurant, waar daar ook kamers beskikbaar was. “Ek het altyd die tyd, plek en reëlings self getref.”

Anita reken as die buitewêreld weet hoeveel oop huwelike daar is, sal mense verbaas wees. “Mense doen eerder dinge agteraf as om eerlik te wees. Maar as jy in hierdie opsig eerlik is, word jy veroordeel.”

Sy erken met een van die verhoudings het haar en die man se gevoelens meer intens begin raak. “Hy het gesê hy is lief vir my en dít gooi mens bietjie omver – omdat jy nie weet of dit in die oomblik gesê word en of dit net die idee is wat die persoon van jou het nie. Of die idee wat die persoon van julle fantasie het nie.”

As Anita nou terugkyk, sien sy dit het baie druk op haar en haar man se verhouding geplaas. “Soveel het intussen gebeur. Ons het nie meer ’n oop huwelik nie. Ek en my man se verhouding het deur ander dinge gegaan en dit het net ekstra spanning op ons huwelik geplaas.

“Dis waarom ons besluit het om dit te stop. Dinge raak tog ingewikkeld en emosioneel. Dit was heerlik om al die aandag van ’n ander man te kry, veral op my ouderdom en na twee kinders! Dis lekker om te hoor jy is nog hot – al is dit net vir een ding.”

Sy en haar man het besef hulle huwelik is vir hulle belangrik en hulle kinders is hulle eerste prioriteit. “Daar was niemand om ons te vertel hoe om te werk te gaan nie. Waarvoor ons byvoorbeeld moet oppas nie. Dit het baie trust issues na vore gebring. Van ons altwee se kant af. Ek het maar baie geheimpies gehou om hom nie seer te maak nie. Ek kon my fantasieë en my werklike lewe van mekaar skei. My man kon dit nie verstaan nie.”

Anita waarsku dat jou maat baie jaloesie en bedreiging kan ervaar in ’n oop huwelik. “Dis moeilik genoeg om een persoon die hele tyd gelukkig te hou. Om so ’n fantasie aan die gang te hou, is baie werk én stresvol.”

In die meeste gevalle kan ’n oop huwelik volgens haar glad nie werk nie. “Vir my en my huwelik kan dit nie werk nie. Die lewe is gekompliseerd genoeg en vir my het dit net te veel ekstra frustrasie meegebring. Ons was baie agterdogtig oor mekaar. Ons wou heeltyd op mekaar se telefone kyk, waar ons dit nooit voorheen gedoen het nie. Daar word nog steeds gevra of ons agteraf met ander mense geselsies aanknoop. Dit het die vertroue tussen ons geskend.”

Wat sê die kenners hieroor?

Elmari Mulder Craig, ’n seksuoloog en huweliksberader, sê oop huwelike moet eerstens gedefinieer word. Vir verskillende mense kan dit verskillende goed beteken.

“Mens moet realisties wees en besef daar is wel mense vir wie sulke verhoudings werk. As jy ’n Christen is, gaan dit moontlik buite jou geloofsoortuiging val. As twee mense regtig sê hulle is okay met ’n oop verhouding – hetsy dit insluit swinging, threesomes, seks met ander mense, terwyl jou man kyk of wat ookal – dan het hulle ’n ander definisie en verwagting van verhoudings.

“Baie mense sê ’n oop verhouding het hulle sekslewe verbeter, maar dit is gewoonlik van korte duur. Wantroue sluip bykans altyd in. Ek weet nie hoe mens redeneer dat jy seks het net om seks te hê nie. Die kans dat jy emosioneel by ’n ander persoon kan betrokke raak, is altyd daar. Sommige mense kry dit reg om eenmalig met iemand anders seks te hê, maar meestal vorm daar tog emosionele verbintenisse.”

Elmari sê wanneer jy seks het met iemand anders, ruil julle energie uit. “Jou energie plak vas aan die ander persoon en syne aan jou. As jy by die huis kom, is jou gedagtes en energie nog by wat gebeur het. Dan is jou aandag nie by jou huis of jou huweliksmaat nie.”

Seks is ’n sielskonneksie. “Seks is heilig in die huwelik. Ongelukkig lewe ons in ’n era waar ons kitsoplossings soek. Dit spoel ook oor na die lewensmaats wat ons het. As ons nie meer gelukkig of bevredig is nie, soek ons dit op ’n ander plek.”

Sy sê paartjies moet introspeksie doen oor hoekom hulle ’n oop huwelik wil hê. “As jy met iemand anders wil seks hê, beteken dit waarskynlik dat jy behoeftes het wat nie in jou huwelik bevredig word nie of dat julle iets moet doen om die opwinding en vonk in julle sekslewe terug te sit.

“Wanneer jy buite jou huwelik na die bevrediging gaan soek, is daar altyd ’n prys om te betaal. Ek sien baie dat die een party later voel sy was emosioneel afgepers. Want as jou man wil kyk hoe jy seks het met iemand anders, beteken dit mos jyself is nie spesiaal genoeg nie. Dit is baie keer ’n illusie. Jy dink dit gaan opwindend wees. Maar dit is van korte duur.”

Wanneer wantroue in jou huwelik intree, kan dit tot egskeiding lei. En dit spoel weer oor na jou kinders. “Al weet jou kinders nie wat aan die gang is nie, voel hulle gou aan as iets nie reg is nie. Dit veroorsaak ongelukkigheid en laat hulle onveilig voel.”

Klem moet ook gelê word op die kans om seksueel-oordraagbare siektes op te doen. “Deesdae is dit soveel meer as MIV/vigs waarvoor mens moet bang wees. Daar is soveel ander siektes, soos hepatitis C of die HP-virus, wat jou kans om kanker te kry, verhoog. Om ’n oop huwelik te hê, kom daarop neer dat jy met hoë-risiko gedrag besig is.”

’n Bybelse perspektief

Pastoor Chris Morey sê uit ’n Christelike oogpunt, pleeg mense wat in ’n oop huwelik is, owerspel. “As jy met iemand ’n seksuele verhouding het, vorm daar in die geestelike realm sielsbande. Jy maak dan ’n deur vir Satan oop en neem die intimiteit uit jou huwelik. Die wêreld sal nie altyd saamstem nie en sal reken dit kan jou sekslewe aanhelp, maar uit ’n geestelike oogpunt kan dit nooit werk nie.”

Hy verwys na dié keer toe die Korintiërs aan Paulus gesê het as jy met iemand anders seksueel verkeer, is dit jou liggaam en nie jou gees wat sondig nie. “Maar Paulus sê wanneer jy seksuele omgang met iemand het, jy een word met die persoon. Jou liggaam is ’n tempel van die Heilige Gees. Die Here sê jy sal trou met ’n vrou en julle sal een word. Sielsbande wat vorm wanneer jy met iemand anders seks het, kan manifesteer in jou eie lewe. Dié bande moet gebreek word.”

Ondersoek dus eerstens die rede waarom jy en jou maat die behoefte het om ’n “oop huwelik” te hê. As julle ongelukkig is met die status quo in jul huwelik, is daar soveel ander maniere om die saak op te los. Die Here het soveel meer vir julle in gedagte as ’n huwelik wat “goedkoop” gemaak word deur los, fisieke ervarings, en ’n “oop huwelik” het bykans áltyd nagevolge. Dit is nét nie die moeite werd nie…

Artikel deur Jana Engelbrecht