Toe julle pasgetroud was, het jy waarskynlik geglo julle kan op liefde en water oorleef. Dit was in die dae voordat ’n tenk vol petrol veel goedkoper as ’n besoek aan die haarsalon was en lank voordat jy en manlief se kredietkaart beste maatjies geword het…

Promosie

Shandi, ’n 38-jarige grafiese ontwerper, het vroeg in haar lewe iets geleer wat sy beskryf as ’n “kosbare les”: “Moet nooit vir jou man vertel wat jou Dior-maskara gekos het nie. Ook nie jou Chanel-handsak nie en ook nie die spa-dag waarmee jy en die girls julself bederf het nie. En as hy jou vrá, dan halveer jy,” lag sy met ’n slinkse “wysheid” wat ’n vrou eers ná ’n huwelik van bykans ’n dekade bekom.

Jy glimlag waarskynlik self by die wete dat jy Shandi se sentiment deel, maar kenners meen dat geheime oor finansies jou huwelik groot skade kan berokken. En dat wit leuentjies oor rand en sent (ja, selfs oor daardie strokie wat jy “verloor het”) nie in ’n Christen-huwelik tuishoort nie. Wees eerlik. Was jy nog altyd 100% eerlik met manlief oor jou geldsake? Of het jy al so nou en dan ’n plaas se prys vir ’n baadjie betaal, hom eendag “toevallig” te voorskyn gebring en sonder om te blik of te bloos verklaar: “Haai, ek het hierdie ou ding onder in my kas ontdek. Jarre laas gedra…” En daarmee saam agteraf die strokie in 600 000 stukkies geskeur en die etiket verbrand! Ja, jou geld is jou geld maar menige vrou moes al met ’n skok agterkom dat manlief dit nie gelate aanvaar wanneer die skoolfonds styg en jy met ’n vierde paar ingevoerde leerstewels by die huis aankom nie.

Het jy vir geld getrou?

Promosie

Paartjies argumenteer meer oor geld as oor seks. In ’n studie deur money.cnn.com is bevind dat 84% van mense meen geld veroorsaak spanning in hul verhouding en 13% sê hulle het al meermale per maand oor geld baklei. Die grootste oorsaak van konflik is blykbaar finansiële prioriteite. Hoekom speel geld dan so ’n groot rol? Genoeg daarvan kan nou wel nie smaak koop nie, maar dit kan wel gemak voorsien en jou vrywaar van ’n sekere hoeveelheid spanning.

Aan die ander kant kan dit juis die spanning veroorsaak! Navorsing het bevind dat selfs in huishoudings met twee inkomstes, geld en seks (of die tekort daaraan!) die grootste redes vir egskeidings is. Die 2008 Love and Money-navorsingsverslag deur Money Management International, het bevind dat 73% van vroue finansiële know-how hoër as aantreklikheid ag by die kies van ’n lewensmaat! Hoewel vroue weet geld kan nie liefde koop nie, is hulle baie bewus daarvan dat sodra armoede by die voordeur inkom, liefde by die agterdeur uitgaan.

So, trou vroue waarlik vir geld? In die boek Sy Behoeftes, Haar Behoeftes, skryf Willard F. Harley: “Annekdotes oor ’n vrou wat met ’n man trou vir sy geld is volop, maar my ervaring as berader het my geleer om hierdie neiging nie as ’n grap te beskou nie. ’n Vrou trou ’n man in der waarheid wel vir sy geld; ten minste, sy wil hê hy moet genoeg geld verdien om haar net so goed of beter te kan onderhou as haar pa toe sy nog onder sy dak was.” Miskien is dit ’n veralgemening maar Lika, ’n 36-jarige skoonheidstegnoloog, sê dat geld definitief ’n oorweging was toe haar man haar gevra het om te trou. “Dit was nooit vir my belangrik om met ’n oliemagnaat getroud te wees nie, maar ek het altyd gesê ek wil weet my man sal voorsien. Ek wil nie eendag in ’n situasie wees waar ek en my kinders uit die huis geskop word weens slegte skuld nie, so ek het ’n man met ambisie en dryfkrag gekies.”

Is retail therapy dalk ’n onding?

Dit wil tog voorkom asof vroue nie slegs met die hart dink wanneer hulle ’n lewensmaat kies nie en dat logiese denke deesdae tog ’n rol speel. Geld is ’n kwessie wat nie geïgnoreer kan word nie, maar omdat dit nie lekker is om hierdie saak aan te spreek nie, is kommunikasie ’n groot probleem wanneer dit by argumente oor finansies kom.

Is jy ’n ferm voorstander van retail therapy? Glo jy daar niks is wat ’n inkopietog nie kan beter maak nie? Corolyn Swift, ’n sielkundige by Wellesley College, sê sy sien passief-aggressiewe gedrag as ’n algemene probleemoplossingsmaatreël onder vroue wat magteloos voel. Dit is vroue wat sal sê: “Ja, my skat, met liefde,” en dan hul innerlike woede gaan projekteer deur reuse-bedrae op hul mans se kredietkaarte te laai! Sy vertel ook van ’n man wat dit só verwoord het: “Wanneer ons ’n argument oor geld het, gaan my vrou op ’n inkopietog. Dan kom ek oor my woede en probeer om rasioneel met haar te gesels en ek kry enigiets van ‘Geen opmaak-seks vir jóú nie!’ tot die silent treatment.” Hierdie paartjie gaan kwaad vir mekaar bed toe, slaap sleg en kan die volgende dag nie helder genoeg dink om die saak uit te redeneer nie. En so begin die bose siklus weer. Wanneer twee mense trou en hulle elk hul eie geldbestuurstyl (of wanbestuurstyl!) het, kan dit hewige implikasies vir ’n huwelik inhou. Maak seker dat julle vanuit die staanspoor openlik met mekaar oor jul geldsake kommunikeer om sodoende te verhinder dat ’n potensiële probleem sneeubal.

Wrok, blinde liefde en behoeftes

As jy vind dat jy pal met jou maat baklei oor die manier waarop hy geld bestee of wanneer jy self oorbestee om jou maat “terug te kry” wanneer jy kwaad is, is geld moontlik nie die hoofoorsaak van jul probleem nie. Dikwels is daar ’n onderliggende simptoom en geld word bloot ’n wapen waarmee jy jou maat beveg.

“Ons verhoudingsdinamiek en wrok word met geld uitgespeel,” verduidelik Jenn Berman, ’n huweliks- en gesinsterapeut. Dit is nie vreemd vir ’n vroue om kwaad te word vir haar maat en iets uit wraak te gaan koop nie. Ander paartjies word weer só verblind deur die liefde dat hulle geld bestee sonder om ’n begroting in ag te neem. Hulle gaan saam op uitspattige vakansies, koop vir mekaar duur geskenke of ’n huis wat hulle nie kan bekostig nie. Hulle beskou dit as ’n simbool vir hul liefde, maar intussen word hulle al dieper in ’n finansiële maalkolk ingesuig. Uiteindelik raak die geld op en moet die paartjie hul situasie konfronteer.

Die moderne neiging van vroue wat werk, het nog hedendaagse probleme teweeggebring. ’n Probleem wat hiermee gepaardgaan is die feit dat vroue wat broodwinners is, ongelukkig is met die stand van sake. Hulle voel misbruik en asof al die verantwoordelikheid op hul skouers rus. In baie sulke gevalle bly die man tuis – nog ’n situasie waarmee hulle nie noodwendig gemaklik voel nie omdat hulle voel hulle word “ingedoen” as ma’s.

Om sakevrou, eggenoot en ma te wees, is ’n swaar lading vir enigiemand en kan ernstige huweliks- en geldprobleme veroorsaak. Die vierde algemene probleem waarmee soveel paartjies worstel, is om “by te bly met die bure”. Mense word geoordeel volgens hul besittings en paartjies verkeer onder druk om bates te koop wat hulle nie kan bekostig nie. Die spanning van skuld kan egter ’n huwelik sink (webmd.com).

 Speel klaar met geldkonflik

Volgens Mitch Temple, skrywer van die boek Cash Clash: What’s Below the Surface, is finansiële konflik soos die piek van ’n ysberg. Baie paartjies beskou hul geldprobleme as die rede vir huwelikskonflik, terwyl die ware kwessie eintlik onder die oppervlak lê. Wat doen jy wanneer jy agterkom rand en sent blus jul vlam van passie?

  • Stel saam ’n kort- en langtermynbegroting op namate julle aan jul drome en doelwitte bou, verduidelik Dave Ramsey, outeur van die boek Total Money Makeover: A Proven Plan for Financial Fitness. “Om saam te begroot, sal kommunikasie in jou huwelik skep,” meen hy.
  • Elkeen het ’n sê. “Albei huweliksmaats moet volwasse insette lewer en albei moet na mekaar luister,” meen hy.
  • Werk saam om uit die skuld te kom en rykdom te bou. “Twee perde wat ’n wa trek, kan ’n groot vrag teen ’n bult optrek as hulle saam werk,” sê Dave. “Om van mekaar af weg te trek, sal bloot die wa in vuurhout omskep.”
  • Belê in jou huwelik. “Spandeer 15 uur per week saam/ Om jouself spesifieke tye te gee om weer in voeling met mekaar te kom, skuif enige kwessies soos geld opsy en hou die romanse aan die brand,” sê Willard.
  • Elke aksie het ’n reaksie. “Verstaan dat enige aksie wat jy in die huwelik neem, insluitend ’n aksie wat betrekking op jou finansies het, ’n impak op jou huweliksmaat het,” sê Willard. (goodhousekeeping.com)

Wanneer jou tong knoop

As dit vir jou moeilik is om geldsake met jou maat te bespreek, oorweeg hierdie wenke deur Gerri Willis, ’n rubriekskrywer vir CNN:

  • Moenie toelaat dat daar geheime tussen jou en jou maat is nie. Daar is baie paartjies wat maklik oor seks, godsdiens en kinders gesels, maar vir wie dit moeilik is om die kwessie van geld aan te spreek. ’n Studie deur Smart Money/Redbook, wat onder getroude paartjies gedoen is, het getoon dat 36% van mans en 40% van vroue al vir hul huweliksmaats gejok het oor wat hulle vir ’n item betaal het. Wees egter eerlik – oor jou salaris, skuld, lenings, erfporsies, spaarrekening en kredietstatus. Begin met klein gesprekke – nie wanneer julle op pad werk toe is of saans moeg by die huis kom nie. Lê klem op die lekker doelwitte – soos jou droom om te reis of om vir jou kind se tersiêre opleiding te betaal. Dit sal jou help om makliker te bespaar.
  • Skuif jou eie welsyn opsy. Al verdien jy die meeste en is die huis in jou naam, beteken dit nie noodwendig jy mag meer bestee en al die finansiële besluite neem nie. ’n Huwelik is ’n vennootskap. Jy mag dalk lang ure werk, maar manlief pas die kinders op, sny die gras en maak aandete sódat jy daardie ure kan werk. Werk saam en moet mekaar nie boelie nie.
  • Vir ’n jong paartjie kan ’n gedeelde rekening goed werk terwyl julle saam bates bymekaarmaak. Jeff Opdyke, outeur van Love and Money, noem dit finansiële intimiteit. ’n Paartjie wat ouer is wanneer hulle trou of ’n tweede huwelik betree, mag dalk afsonderlike rekeninge verkies. Dit is ook ’n goeie opsie as die een maat skuld het wat die ander een nie graag wil absorbeer nie. ’n Derde opsie is om ’n gedeelde rekening te hê vir sommige uitgawes en afsonderlike rekeninge vir individuele besteding.
  • Onthou dat die wind draai. Ná ’n huwelik van vyf of tien jaar, lyk jou bekommernisse oor geld waarskynlik heelwat anders as wat dit was toe julle met die paadjie afgestap het. Dit is hoekom julle jul oorkoepelende geldsake minstens een keer per jaar moet bespreek. Maak seker jul aftreeplanne kom ooreen en dat julle bewus is van mekaar se begeertes en doelwitte. Bespreek ook die ergste moontlike scenario’s. Wat as een van julle jul werk verloor? Of weer wil swot? Of ’n pos in ’n ander land kry?
  • Bespreek taai kwessies. Ja, daar is sekere onderwerpe waaroor niemand graag wil gesels nie, maar maak seker jy het ’n testament en lewensversekering (cnn.com).

My maat dink geld groei aan bome

Jy ken miskien daardie tye wanneer jou maag wil knoop. Daardie tye wanneer manlief jou konfronteer oor die broodnodige nuwe gordyne vir die huis of die nagroom wat amper soveel soos ’n nuwe skootrekenaar kos! Wanneer een maat ’n big spender is, kan dit reuse konflik tussen ’n paartjie veroorsaak. Sandra Lundberg skryf in die artikel Why Does My Spouse Spend so Much dat julle dit saam kan oorwin, mits julle die volgende in gedagte hou:

  • Verstaan dat julle vir dieselfde span kolf sover dit finansies aangaan

Dit is nie lekker om te hoor hoeveel jy mag bestee of hoe jy dit mag doen nie, omdat dit voel asof jou maat jou nie vertrou of respekteer nie. Gesels daarom oor jul oorkoepelende behoeftes – elke mens wil ’n sekere mate van sekuriteit en ’n sekere hoeveelheid vryheid hê. Jul verhouding is belangriker as jul rekeningbesonderhede. ’n Paartjie kan byvoorbeeld besluit dat ’n sekere hoeveelheid geld opsygeskuif word vir bederf eerder as om dit teenoor mekaar te probeer regverdig as ’n behoefte.

  • Verstaan die onderliggende redes hoekom jou maat oorbestee

Daar is baie onderliggende redes vir oorbesteding – ’n onvervulde kindertyd, ’n bevoorregte kindertyd, depressie, angs, die plesier van die jagtog. Alles het egter een ding in gemeen – ’n soeke na sekuriteit. Of dit bewustelik is of nie, ’n persoon wat geld uitgee, dink: “As ek dít kan hê, sal ek in die mode wees,” of “Ek sal aanvaar word,” of “Ek sal okay wees”. Om iets te koop, voorsien egter nie ware sekuriteit nie, so vra jouself hoekom jy die item koop en as dit is om van spanning of pyn te ontsnap, weerhou jouself.

  • Weet wat dinge kos en hoe gereeld dit aangekoop moet word

Mense gaan dikwels ’n huwelik met verskillende idees oor besparing en besteding binne. Gewoonlik het hulle vooropgestelde idees oor wat goed kos (ons weet die mans is konings hiermee). Baie huweliksberaders laat paartjies lyste opstel en merk wat hulle glo die items behoort te kos. Daarna vergelyk die paartjies hul notas.

  • Besef jy moet oorleef op minder as wat jy verdien

Om vanaf die een salaristjek na die volgende te leef, is vir niemand gemaklik nie. Die onsekerheid wat daarmee gepaard gaan, word versterk deur die vraag: Wat as ek my werk verloor? Miskien is die ware probleem nie jou maat se besteding nie, maar jul onvermoë om te begroot. (Complete Guide tot he First Five Years of Marriage deur Focus on the Family, Tyndale)

Wat sê die Woord?

Mitch Temple gee die volgende raad aan paartjies wat met geldprobleme worstel:

“Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om.” – Ef. 4:32

Soms is dit makliker om oor geld te argumenteer as om te erken jou gevoelens is seergemaak. Vra jouself of jy onopgeloste seer koester. As jou maat jou seergemaak het en dit steeds in jou bly talm, gaan jy alles deur die filter van daardie seer bly sien en waarskynlik oorreageer wanneer finansiële kwessies bespreek word. Moenie toelaat dat dit jou verhouding kelder nie. Skraap moed bymekaar om die seerkry te hanteer om só op ’n gesonde manier jul finansies te takel.

“Moenie tot die aand toe kwaad bly nie.” – Ef. 4:26

As jy bang is om oor geld te praat uit vrees dat jou maat sal ontdek jy het ’n verkeerde besluit gemaak, geld wanbestee of nie ’n rekening betaal het toe jy moes nie, is jy te bang om die waarheid te konfronteer. Oneerlikheid het altyd ’n negatiewe uitkoms. As jy ’n belangrike finansiële besluit geneem het sonder om met jou maat daaroor te praat, sal dit bykans nooit goed ontvang word nie. Oneerlikheid vernietig vertroue en as daardie vertroue eers geskend is, gaan jou maat jou nie sommer weer vertrou om toekomsbesluite te neem nie.

“Dit is wat julle moet doen: Praat die waarheid met mekaar.” – Sag. 8:16

Deur op ’n duidelike en liefdevolle manier met mekaar te kommunikeer en ontslae te raak van emosionele bagasie, kan jy en jou maat ’n gesonde grondslag lê waarop julle ’n finansiële toekoms kan bou.

So, hoewel ons weet hoeveel plesier jy daaruit put om daardie goue kaart te swipe wanneer manlief hom nie verwerdig om jou te antwoord op jou vraag oor die Seychelles nie, onthou dat dit jou nie op die lange duur gelukkig gaan maak nie. Veral nie as hy teen die einde van die maand sy state ontvang nie! Dit is swaar suster, ons weet die rande brand soms, maar gebruik liefs jou afslagbewyse en betaal daardie rekening af. ’n Gelukkige huwelik is… priceless!

 

‘Koop’ jou geluk met seks!

Navorsing toon dat geld en geluk nie veel met mekaar te doen het nie en dat seks mense gelukkiger maak as geld! Daar is talle mense wat beweer dat geld jou meer seks waarborg, maar geluksekonome verskil hewig hiervan. Nadat die data van die seksuele aktiwiteite en geluk van 16 000 mense ondersoek is, het die ekonoom David Blachflower van die Dartmouth College en Andrew Oswald van die University of Warwick in Engeland gerapporteer dat seks só sterk en positief in gelukkige situasies voorkom dat hulle skat ’n verhoging in seks vanaf een keer per maand na een keer per week, gelykstaande is aan die hoeveelheid geluk wat gegenereer word deur ’n bykomende $50 000 inkomste vir die gemiddelde Amerikaner! Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat geld wel ’n sekere hoeveelheid geluk meebring, maar nie soveel soos ekonome gedink het dit sou nie. In hul verslag Money, Sex and Happiness: An Empirical Study, word genoem dat geld nie meer gereelde seks beteken nie – daar is geen ooreenkoms tussen die voorkoms van seks en inkomste nie. Daar is wel gevind dat seks ’n groter effek het op die geluk van hoogs opgeleide – en waarskynlik ryker – mense as diegene met ’n laer vlak van opleiding. Die goeie nuus is egter dat die gelukkigste mense dié is wat die meeste seks kry en dat getroudes 30% meer bedpret as enkellopendes aangemeld het! “Om die waarheid te sê, die ekonome het bereken dat ’n langdurige huwelik gelykstaande is aan geluk wat gegenereer word deur ’n ekstra inkomste van $100 000 per jaar,” skryf Sid Kirchheimer op webmd.com. Dít terwyl egskeiding ’n vermindering in geluk ter waarde van $66 000 kan beteken… nóg ’n rede om jou huwelik hoog op die prys te stel!

In skrille kontras hiermee is ’n opname wat onder 600 individue gedoen is en wat meen dat ryk vroue seks meer as hul armer eweknieë geniet. Altesaam 84% van die vroue en 63% van die mans het gesê geld is gelyk aan ’n beter sekslewe. Maar hier is die catch – dit beteken nie jy gaan noodwendig ’n gelukkiger sekslewe met jou huweliksmaat hê nie, aangesien driekwart van die mans ’n sekslewe met ’n groter variëteit van seksmaats gerapporteer het! Vir hierdie mans was méér maats gelykstaande aan beter seks. Ons almal weet egter dat seksmaats buite jou huwelik net ongeluk bring en dat daar soms waarde lê in die kwaliteit- eerder as kwantiteit-beginsel wanneer dit by seks kom (hoewel kwaliteit sowel as kwantiteit natuurlik die ideaal is).

Ryk mense glo blykbaar dat hul skatte hulle toelaat om meer uitdagende en opwindende sekslewens te hê. Altesaam 72% van die vroue het gesê hulle het deel geword van die mile-high klub wat beteken dat hulle seks op ’n vliegtuig gehad het. Daarteenoor sê 33% van mans hulle is deel van dié eksklusiewe klub! Met bekostigbare Suid-Afrikaanse lugrederye is hierdie voorreg nie meer net die rykes beskore nie. Miskien kan ons gewone mense nou wel net nie so gereeld ons lidmaatskap opgradeer soos diegene wat privaatvliegtuie besit nie! Nog ’n troos is dat hierdie studie gedoen is onder 600 individue, terwyl die vorige studie wat die teenoorgestelde verklaar, 16 000 deelnemers gehad het! Wat ook belangrik is om na op te let, is dat meer as die helfte van die mense in die tweede studie minstens een keer geskei is en 44% van hulle weer getroud is.

Miskien kan geld seks koop, maar dit kan duidelik nie langdurige geluk koop nie. So verruil jou pennies eerder vir seks om ware geluk te kan bekostig! (articles.moneycentral.msn.com)