Om verlief te raak is so maklik soos om uit ’n boom te val. Om vir ewig vir mekaar lief te bly, verg dikwels méér as net hare op die tande. Dit lyk in baie gevalle selfs onmoontlik . . .

Promosie

In deel een en twee van die DVD-reeks Staying in Love deur gewilde leraar en spreker Andy Stanley, vertel hy dat jy ’n plan (maak liefde ’n werkwoord) nodig het om lief te bly vir jou maat en dat jy God se liefde vir jou, as voorbeeld moet gebruik van hoe om onvoorwaardelik lief te hê. In deel drie, is die fokus op gevoelens. Waar kom al die gevoelens vandaan wat jou maat se woorde en dade in jou ontroer?

Van dolverlief na haat

Hier is ’n raaisel vir almal wat verlief is, al ooit verlief was en graag nog verlief wil raak. Hoe is dit moontlik dat twee mense voor ’n preekstoel kan staan en belowe dat hulle mekaar vir altyd sal liefhê en beloof dat hul maat die “enigste een” vir hul is tot die dood hulle skei en dan vyf of tien jaar later háát hulle mekaar? Om die waarheid te sê, hulle haat mekaar meer as wat hulle enige ander individu op aarde haat. Dit is net vreemd. Die mens vir wie jy eens jou diepste belofte gegee het, is die mens wat jy nou die meeste verag. Nou kan julle nie iets goeds van mekaar sê nie. Wanneer jy aan jou eksman of -vrou of eksmaat dink, is daar al hierdie woede wat opbou.

Promosie

Waarom is dit so dat wanneer jy twee mense ontmoet wat gaan skei, hulle sal sê dat hulle net nie meer lief is vir mekaar nie? En as jy hulle so ’n bietjie uitvra en sê: “Ek wed dat julle oor ’n jaar of so weer verlief gaan wees op iemand anders. Dink jy nie jy gaan weer verlief raak en trou nie?” Wat is dan hul antwoord? Party mense sal aanvanklik nee antwoord. Ander sal sê: “Ja, ek is oop daarvoor.” En dan sê jy presies dieselfde vir die maat. Hulle sal dalk erken: “Wel, ja uiteindelik ná daar ’n bietjie tyd verloop het.” Albei van hulle kan mekaar nie verdra nie, maar albei is oop vir die moontlikheid om weer op iemand anders verlief te raak.

Raak weer verlief op mekaar

Andy skerts dat hy ’n baie slim plan het. Waarom raak dié twee persone nie weer op mekáár verlief nie? Aangesien dit nogal gekompliseerd gaan wees om te skei, is dit net makliker en goedkoper om eerder weer op mekaar verlief te raak. Stel dit voor en die paartjie sal na jou kyk asof jy net nie verstaan nie. Dit is beslis nie so eenvoudig nie.

Aan die begin van die reeks is daar gevra of liefde “vir altyd” moontlik is en selfs al het iemand vir jou gesê dat dit onmoontlik is, sou jy dit in elk geval probeer het. Almal dink hulle is kandidate vir ewige liefde en glo dat daar iewers daarbuite een spesiale persoon is, as jy hom of haar net kan kry. Jy glo dat ewige liefde natuurlik moontlik is, ongeag jou verlede, agtergrond, bagasie en dit wat jy in die samelewing rondom jou sien. Daar is iets binne elke mens wat dit begeer.

Dit is nie genoeg om net visvangvriende te hê nie. Jy wil daardie één spesiale persoon hê saam met wie jy die lewe kan aanpak en dit geniet om sielsgenote te word. ’n Vlak van intimiteit wat verder as enigiets anders strek. Ons glo ons kan dit vind en dit kan vir ewig hou.

’n Stukkende hart en swaar bagasie

Dit sou makliker gewees het as mense in verhoudings ingegaan het met ’n vol en gesonde hart. As daar in jou verlede net wonderlike verhoudings was, sou jy mos geen bagasie gehad het nie. As dit só was, was al wat julle moes doen om mekaar eerste te stel.

Maar paartjies gaan gewoonlik nie in verhoudings in met daardie tipe verlede nie. Ons noem dit bagasie. Ons almal is eintlik effens verinneweer. Jou pa en jou ma het nie na al jou wedstryde toe gekom nie en soms het jou pa miskien glad nie eens huistoe gekom nie. Jou ma het haar verlede gehad en daar was dalk dwelms, alkohol, mishandeling, geldprobleme ens. betrokke. Dalk het jou jonger broer al die aandag gekry en jy was die goue kind, maar is geïgnoreer. Jy kom dus in ’n romantiese verhouding in en jou hart is nie altyd in ’n goeie toestand nie.

Meneer en mevrou Beker

’n Mens kan dit vergelyk met die beeld van twee koffiebekers: Meneer en mevrou Beker. Meneer Beker is vol blou kraletjies en mevrou Beker is vol pienk kraletjies. Toe hulle aanvanklik mekaar ontmoet het, was hulle baie versigtig rondom mekaar. Hy wou haar hart wen en sy wou sy toegeneentheid wen. Net ’n maand na hul troue stamp hulle skielik teen mekaar en daar val van beide se kraletjies uit. Daar het nou skielik goed uitgekom wat hulle nog nooit voorheen by mekaar gesien het nie en elkeen wonder: Waar kom dít nou skielik vandaan? “Ek het nie geweet jy het woede-probleme nie,” sê die een. “Ek het dit nie gehad totdat jy aan my gestamp het nie,” sê die ander.

Meneer Beker dink die rede waarom blou kraletjies uit hom spat, is omdat sy vrou heeltyd aan hom stamp. Mevrou Beker dink dieselfde. Die eintlike rede waarom dit gebeur, is omdat al daardie goed binne elkeen van hulle is. Jy weet net nie wat alles binne jou is, totdat jy gestamp word nie.

Die meeste van ons kry nie so ’n groot stamp voordat ons nie in ’n romantiese verhouding beland nie. Daar is iets omtrent ’n romantiese verhouding wat die béste, maar ook die slegste in mekaar na vore bring. Dit is waarom twee huweliksmaats so kwaad kan word vir mekaar. Daardie kraletjies kom uit, want dit is daarbinne jou. Jy blameer altyd die een vir wie jy die liefste is.

Kyk na wat binne jou is

Julle sal moet leer om aandag te gee aan dit wat binne elkeen van julle is. Spreuke 4:23 sê: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Pas dit op wat vir jou waardevol is. Al hierdie dinge kom gewoonlik uit in die verhouding wat vir jou die belangrikste is. Wanneer jy in ’n volgende verhouding beland, sal die kraletjies wéér uitkom. Jy gaan later dink: Ek was nou al in ’n verhouding met vier vroue wat dieselfde probleem oor en oor en oor het.

In ’n verhouding verwag jy om ’n sekere manier te voel. Jy wil mooi, waardevol, gewaardeerd voel. Aan die begin van jul verhouding is dit presies daardie gevoelens wat julle na mekaar toe aangetrek het, daardie spesiale manier hoe die ander persoon jou laat voel het. Julle het toe daardie emosie geskep en nou wil julle dit lewendig hou. Jy is dikwels afhanklik van jou maat om jou hierdie spesifieke dinge te laat voel.

Monitor jou eie hart 

As jy net met goeie herinneringe in die huwelik gekom het, was die toestand van jou hart waarskynlik gesond. Maar as jy nog nooit gewaardeerd gevoel het nie, is dit moeiliker vir jou. Maak nie saak met wie jy in ’n verhouding is nie, jy gaan nooit goed genoeg voel nie.

Die probleem is dat jy jou maat se gedrag met ’n arendsoog monitor, maar nie die toestand van jou eie hart nie. Hierdie goed wat binne elkeen is, gaan altyd uitkom. ’n Mens sê altyd dat jy moet dink voordat jy praat, probeer om te stop en te dink oor hoe jy voel, voordat jy praat. Vir vroue is dit dalk makliker as vir mans. Mans sal dikwels net sê dat hulle gefrustreerd of kwaad voel. Probeer om jou emosies te beskryf.

Sê duidelik dit voel vir jou asof jou maat jou nie lief het nie, jy voel soos ’n mislukking, jy voel oud, simpel, eensaam, verstoot, buite beheer, bang, verkul, dit voel asof daar op jou gepik word, jy voel jaloers, onseker, asof jy nie met respek behandel word nie. Sê dit hardop, al is dit aanvanklik net eers vir jouself. Dink daaroor. Waarom laat voel ’n ander persoon se sukses jou soos ’n mislukking? Onderskei tussen dit wat jou maat sê en dit wat jy voel, want dit dryf ’n wig tussen julle in.

Ondersteun mekaar

Wanneer jou maat iets sê soos: “Ek voel asof jy my nie waardeer nie.” Moenie nog iets sê nie. In plaas daarvan om te sê: “Jy moenie so voel nie. Ek is jammer dat jy so voel.” Sê eerder: “Ek is só bly dat jy dit met my gedeel het.” Gesonde mense sal dan daarmee ophou om dit te sê wat sy maat so laat voel. Moenie jou maat maan om “volwasse” te raak of vir hom of haar sê dat hy of sy dit maar net moet hanteer nie. Gee aandag aan die gevoelens van jou eie hart, jy gee immers gereeld aandag aan jou maat se gedrag. Sê hardop vir jouself hoe jy voel. Dit is dikwels nie net ’n huweliks- of verhoudingsprobleem nie, maar eerder gevoelens wat al lankal binne jou was en net in die huwelik of verhouding na vore getree het. Die uitdaging is om dit reg te kry, want ons lééf vanuit dit wat uit ons hart vloei.

Indien jy DEEL 1 gemis het KLIEK HIER.

Indien jy DEEL 2 gemis het KLIEK HIER.

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!