Jy glo jy is ’n seksueel bevryde milleniumvrou. En jy weet alles wat ’n Christen behoort te weet. Maar raak jy soms ongemaklik by die wete dat God óral teenwoordig is?

Promosie

Die dag het ’n gewone Sondag oortref. Vanoggend se kerkdiens het jou waarlik geïnspireer en jou skoonsussie het dit reggekry om nie aan tafel elke potensiële kompliment in ’n belediging te omskep nie. Jou rys het nie gebrand nie, jou eersteling het uit London gebel en jou jongste spruit se huiswerk is gedoen. Vandag kon jy werklik God se gees oral om jou voel – in die kombuis, aan tafel, selfs in die televisiekamer.

Maar nou is almal in die bed en manlief gee jou dáái kyk. Die een wat sê: “Wil jy regtig nou slááp?” En terwyl jy, ewe gretig, met jou oë na die plafon lê terwyl sy soene suidwaarts beweeg, tref dit jou: “God was heeldag by my. Dit beteken… uhm… o Koot. Wil ek regtig Sy gees in my slaapkamer voel? Dra dit Sy goedkeuring weg? Mag ons maar die orale ding doen? Mag ek dit regtig geniet? Jy is nie alleen nie. Ongeveer 200 miljoen paartjies oor die wêreld heen het daagliks seks en terwyl jy besig is om dié sin te lees, is die kans goed dat derduisende paartjies tans besig is daarmee. Hoekom? Want God het ons as seksuele wesens geskep en vir twee mense om hul liefde só aan mekaar te bewys, is so natuurlik soos bad, eet en slaap. Deur die eeue heen was daar egter filosowe wat dié uitdrukking van die liefde veroordeel het en aangesien die Christelike geloof dié een is wat wêreldwyd die grootste aanhang geniet, met die Bybel as die mees invloedryke boek ooit, is dit te verstane dat teorieë wyd verspreid is en gekleef het.

Wat sê God oor seks?

Promosie

Christene is steeds verward oor waar presies seksualiteit in hul lewens pas. Dit is ’n primitiewe, “stoute”, lekker spel wat ook daargestel is vir voortplanting. Met elkeen van hierdie terme as beskrywing van seksualiteit het sommige Christene ’n probleem. Kan iets wat so dierlik en onbeheersd lekker is, werklik tot God se verheerliking strek? Mag ek, ’n onderdanige, verfynde “goeie” vrou myself aan sulke ongeïnhibeerde gedrag oorgee? Sê God enigsins in sy Woord dat Hy die daad goedkeur?

Daar is ’n aantal verwarrende stellings in die Bybel waar mense gewaarsku word teen die ellende wat uit seks kan voortspruit, maar wanneer dit binne konteks gelees word, is dit glad nie van toepassing op die getroude Christen-paartjie nie. Spreuke 5:18 sê egter: “Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou.” As dít nie die leser toestemming gee om seks te geniet nie, wat doen? In 1 Korintiërs 7:3-6 beveel Paulus die man en vrou as’t ware om mekaar se behoeftes te vervul.

Hieroor sê dr. Renier Holtzhausen en prof. Hennie Stander in hul boek God makes Sex Great: “Seks is nie alleenlik om kinders te hê nie. God laat ons toe om seks te geniet terwyl ons liefde vir mekaar uitdruk en ons begeertes vervul. Paulus wys daarop dat die vennote in ’n huwelik gelyke verantwoordelikheid deel vir mekaar se seksuele vervulling.” Die Bybel praat dikwels oor paartjies wat seks geniet, maar omdat moderne vertalings die baie eksplisiete verwysings na die seksuele in die Bybel “versag” het, is van die oorspronklike betekenis al wegvertaal. “Ongelukkig het teoloë oor die eeue heen met allerhande reëls probeer om ’n demper op die mens se seksualiteit te plaas. Die gevolg was dat gelowiges dikwels met ’n klomp skuldgevoelens oor seks gesit het. Dit is beslis nie wat God met hierdie gawe aan ons bedoel het nie.” Ou Testamentiese stellings beïnvloed steeds vandag sommige Christene se denkwyse en gevolglik ook hul sekslewens. “Baie glo tot vandag toe dit is ‘onrein’ om semen in ’n mens se mond te kry of om seks te hê met ’n vrou wat menstrueer. Hulle dink dit is ongesond en onaanvaarbaar vir God,” sê dr. Renier en prof. Hennie.

Op Christianity Today se webtuiste skryf die outeur Philip Yancey in ’n artikel getiteld Holy Sex: “’n Verenigde uitkyk op die lewe neem aan dat dit God se wêreld is en ten spyte van die beskadigde toestand daarvan, bly leidrade van die oorspronklike ontwerp bestaan. Wanneer ek wellus ervaar, hoef ek nie in skaamte terug te deins asof iets onnatuurlik gebeur het nie. Ek moet eerder die begeerte volg tot by sy Bron, om God se oorspronklike bedoeling te leer verstaan.”

Jy mág maar ’n Wonderbra dra!

Lana is ’n 46-jarige huisvrou met muisvaal hare en ’n breëraambril. Sy is toegewyd in haar geloof en woon saam met haar man, Peter, en drie kinders in ’n middelklas-woongebied. Peter is suksesvol in sy werk. Lana is tevrede in haar pos as sekretaresse by ’n stabiele firma en hul kinders vaar goed op skool. Tog is Lana se oë half leeg en van passie is daar nie sprake nie. “Ek het in ’n predikantshuis grootgeword,” vertel Lana. “Daar is nooit oor seks gepraat nie en die reëls was streng.” Lana moes dikwels spot verduur oor die klere wat haar van kop tot tone bedek het wanneer sy wél toegelaat is om sosiale geleenthede by te woon. Haar pa het nooit reguit met haar daaroor gepraat nie, maar haar altyd laat verstaan dit is ’n sonde om ’n man in die versoeking te stel. Tot die dag wat sy die huis verlaat het, is Lana nie toegelaat om ’n sweempie grimering te dra nie en sy het nooit begin om daarmee te eksperimenteer nie. “Ek is soms jaloers op die vleiende, moderne klere wat my kollegas dra, maar ek kan myself nie sover kry om so iets aan te skaf nie. Dit is so kaal. Ek wil nie uitlokkend voorkom nie en dit vóél net nie reg nie…” Lana neem nooit inisiatief in die slaapkamer nie en sien dit as ’n vroulike plig wanneer sy wel tot seks instem.

Baie vroue dink dat om sexy te lyk, onkuis en ongoddelik is. Hulle meen hulle kan God net gelukkig maak deur onaantreklik te lyk en staaf hul argument deur 1 Petrus: 3-4 aan te haal. Dié verse moet egter binne konteks gelees word. Petrus spreek vroue aan wie se mans nie gelowig is nie en sê dat hulle hul mans nie gaan bekeer deur mooi te lyk nie maar deur sterker, innerlike eienskappe van die gees te hê. Vandag besef die gemiddelde vrou dat sy nie hoef te kies tussen innerlike en uiterlike skoonheid nie – sy kan albei hê. En sy weet ook dat om haar man te verlei, net kan bydra tot ’n gesonde, florerende huwelik. Spreuke 5:18-19 wat sê: “Laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees,” is goeie inspirasie hiervoor!

Die Bybel is plek-plek vir adults only…

God het nooit teen seks binne die huwelik gepraat nie. Om te wys hoe belangrik die viering daarvan eintlik is, het Hy toegelaat dat ’n hele boek in die Bybel aan die liefde tussen man en vrou gewy word. Waar teoloë vroeër probeer het om Hooglied te verduidelik asof dit hoofsaaklik gaan oor die liefde tussen God en die mens, verskil hedendaagse teoloë. “Hooglied is niks anders nie as ’n versameling liefdesliedere, of eerder erotiese liedere. God het egter toegelaat dat hierdie erotiese liedere in die Bybel opgeneem word en wys daarmee vir ons dat daar ook vir die seksuele plek is in die lewe van die gelowige,” sê dr. Renier en prof. Hennie. Onthou jy hoe jy as tiener gebloos en gegiggel het wanneer die dominee ’n teksvers uit Hooglied gelees het? Kenners sê dat die oorspronklike Hebreeuse teks in die Bybel selfs meer eksplisiet was as dít wat ons vandag lees. Die Bybel se woord vir “bed” in Hebreërs 13:4, is “koite”. Die woord beteken: “Saamkom om die manlike sperm in te plant”. In Hooglied 7:2 staan: “Jou naeltjie is ’n ronde kom waarin die kruiewyn nie ontbreek nie.” Volgens Renier en Hennie word daar beweer dat die woord “naeltjie” eintlik as vulva of vroulike geslagsdele vertaal kan word. Die kruiewyn kan twee betekenisse hê: dit kan dien as ’n simbool vir die seksuele plesier wat ’n vrou aan haar geliefde gee of die vogtigheid van die vroulike geslagsorgaan tydens seksuele opwekking.

In Hooglied 5:4 staan geskryf: “Maar die man wat ek liefhet, steek sy hand deur die opening, en my hart word onstuimig oor hom.” Volgens dr. Renier en prof. Hennie glo baie Bybelkenners hierdie vers het ook ’n dubbele betekenis. Die Hebreeuse woord vir hand het dikwels na die man se penis verwys. Só is daar verskeie voorbeelde van Bybelteks wat “versag” is. Moet ook nie dink dat om inisiatief in die slaapkamer te neem, onbybels en modern is nie. In Hooglied 7:10-11 maak die skrywer geen geheim van haar gevoelens en intensies met haar maat nie. Dit is duidelik dat God deur teks soos dié kommunikasie oor seks binne die huwelik aanmoedig.

Geniet jouself gate uit, sê God

Daar word gesê dat bykans 80-85% van probleme binne huwelike na seks herlei kan word. Die moeilikheid ontstaan dikwels wanneer ’n paartjie hulself liggaamlik of emosioneel van mekaar weerhou. Een oorsaak hiervan is skuldgevoel. “Veral Christene wat regtig ’n begeerte het om hulle aan God te wy, bly steeds worstel met die vraag hoe ’n mens hierdie instinktiewe gedrag kan versoen met iemand wat Christus regtig liefhet en wie se lewe volkome deur die Gees van God beheer word,” verduidelik prof. Hennie in sy boek Liefde met Passie. Hy sê egter ook: “Seks in die huwelik is soos die haarveer van ’n horlosie. Dit is ’n baie klein en fyn onderdeeltjie, tog is dit ’n essensiële deel van die horlosie. As daar iets met die haarveer skort, gaan die horlosie staan, al is die ander dele in ’n uitstekende werkende toestand. Dieselfde geld vir die huwelik.”

God gee aan ons die opdrag om met mekaar te trou, seks te hê en só liggaamlik een te word. Hy wil hê ons moet seks geniet, anders sou hy ons geslagsorgane nie met soveel senuweepunte geseën het nie. Dan sou seks bloot ’n meganiese aksie wees sonder die gevolglike ekstatiese reaksies wat daarmee gepaardgaan. Dink mooi daaroor: God het seks só ontwerp dat emosionele aansluiting bykans onvermydelik is. Die mens is die enigste spesie wat vir mekaar kan kyk en tydens seks ten volle liggaamskontak kan hê. En anders as die res van die diereryk, verkies ons spesie om dit in privaatheid te doen. Seks is die veiligste kalmeermiddel ter wêreld. Dit gee ons plesier, is goeie oefeninge vir ons liggame en stel endorfiene vry. Orgasmes is ’n verjongingskuur, seks verlig spanning en bied emosionele vervulling… sou God seks so gesond gemaak het as Hy nie wou gehad het ons moet dit gereeld en sonder voorbehoud geniet nie? Daar is byna geen negatiewe effek wanneer seks verantwoordelik, binne die huwelik en met albei partye se toestemming plaasvind nie. Dit ís egter nadelig wanneer dit nié binne God se meesterplan vir ons geskied nie.

Seks is soos kernenergie…

Mense sien God dikwels as ’n pretbederwer. In baie mense se oë is Christenskap beperkend en beklemmend. As jy gedink het God straf ons met reëls en dat Christene aan die kortste ent trek, maak jy ’n fout. God gee nie om as jy sexy, swart onderklere aantrek om jou maat mee te verlei nie. Nog minder lig Hy sy wenkbroue wanneer jy bestanddele uit die yskas as deel van die liefdespel wil gebruik. Hy het nie reëls oor speelgoed, orale seks of masturbasie nie… solank dit tot voordeel van jul albei strek en niemand ongelukkig maak nie. God het wel een belangrike reël: Seks hoort tussen huweliksmaats. Die feit dat die Bybel openhartig oor liggaamlike dinge praat, beteken nie dat jou man sy begeertes by die kantoor se “borste soos torings” mag gaan vervul nie! “Ons mag seks geniet maar binne die grense wat God daarvoor gestel het, omdat hierdie grense juis bedoel is om ons geluk te verseker.”

Prof. Hennie verduidelik: “Die Bybel is nie daarop uit om mense van plesier te ontneem nie. Maar elke mens moet weet dat seks byna soos kernenergie is. Aan die een kant kan dit gebruik word om elektrisiteit op te wek en lig en warmte in mense se lewens te bring. Aan die ander kant kan ’n mens kernkrag gebruik om ’n kernbom te bou en duisende miljoene mense se lewens vernietig. Dieselfde geld vir seks. Dit kan positief aangewend word om man en vrou in die huwelik volkome eenheid te laat beleef. Maar dit kan ook duisende lewens – jonk of ouer – geheel en al vernietig wanneer mense buite die huwelik daarmee omgaan.”

Yancey maak bykans dieselfde stelling wanneer hy sê: “Ongelukkig draai min mense na die kerk vir ’n perspektief op die ware betekenis van menslike seksualiteit, aangesien hulle die kerk as ’n vyand van seks sien. Dit behoort egter vanselfsprekend te wees hoekom die kerk so maklik aan die kant van onderdrukking, eerder as die viering van seksualiteit staan. Geen menslike verlange is meer kragtig en moeiliker beteuelbaar nie. Seks het genoeg vlambare krag om gewetens, beloftes, familieverbintenisse, geestelike toewyding en enigiets anders op sy weg te verskroei.”

Wanneer jy sonder jou man se wete saam met jou ou skoolliefde drankies ná werk gaan drink, speel jy dus met die kernenergie wat God aan jou toevertrou het. Yancey erken ook daar is tye wanneer hy voor wellus geswig het omdat die beeld van ’n naakte vrou hom soos ’n magneet trek. “Ek moet egter ook sê dat wanneer ek die versoeking weerstaan het en daardie seksuele energie in my huwelik gedeponeer het – ’n baie meer gekompliseerde en minder selfsugtige transaksie – die obsessiewe krag van seksualiteit verdof het. Die lug word skoon. Die huwelik word ’n skuilplek. My lewe met God bring onverwagse belonings…”

Soos die skrywers van God makes Sex Great sê: Seksualiteit is inderdaad soos ’n naelstring waardeur die liefde tussen ’n man en ’n vrou vloei. Maak van daardie vennootskap ’n liefdesdriehoek deur God by te voeg en jy leef binne sy meesterplan. Wéét jou seksdrang is deur God aan jou gegee. Jou passie is ’n hemelse geskenk en jul kernenergie kan jou huwelik verlig om dít voort te bring wat jy altyd geglo het die definisie van vurige, ware, onvoorwaardelike en ewige liefde is.