Elke aspek van die huwelik verg harde werk. Finansies is nie iets waaroor almal graag praat nie, maar begroting en beplanning is noodsaaklik om onnodige spanning in die huwelik te voorkom.
Die belangrikste ding wat ons geleer het in ons huwelik van 13 jaar is om as lewensmaats saam ons uitgawes te beplan.
Soos wat ons ouer word, groei ons inkomste, maar ons uitgawes groei gewoonlik vinniger, en wanneer die uitgawes die inkomste begin verbysteek, is dit maklik om in ’n skuldslaggat te trap.
As julle begroot vir ’n spesifieke uitgawe is dit belangrik om ook vir addisionele koste wat met ’n transaksie gepaardgaan, te begroot. ’n Voorbeeld hiervan is die koop van ’n eiendom.
Baie paartjies huur vir ’n tydperk en besluit dan om ’n huis te koop.
Wanneer ’n mens ’n huis huur, is die erfbelasting, heffing, gebouversekering en lewensversekering nié deel van die maandelikse huur nie, omdat dit die eienaar van die huis se verantwoordelikheid is. Dit is maklik om hierdie ekstra uitgawes weg te laat uit ’n begroting, en dan duurder te koop as wat die begroting toelaat.
Binne ’n huwelik is dit soms maklik om ons lewensmaat te blameer wanneer die begroting nie klop nie. Dis net hier waar die spanning begin.
Die eerste stap is om vas te stel waarheen jou inkomste gaan. Hou vir drie maande ’n lysie by van elke uitgawe, hoe gering dit ook mag wees. Daar is talle toeps wat afgelaai kan word om uitgawes te monitor sodat dit nog makliker is om op hoogte van transaksies te bly. Jy sal vinnig kan sien wat jou spandeerpatroon is en waar daar ’n onnodige uitvloei van geld is.
Gebruik ’n sigblad om jou begroting op te stel. Onderskei tussen vaste maandelikse uitgawes soos huur of ’n verband, elektrisiteit en heffings, skoolgeld, en noodsaaklike uitgawes soos byvoorbeeld kruideniersware en brandstof. Nou kan jy sien hoeveel van jou inkomste daar oor is vir belegging, spaar en toedeling aan vermaak en ontspanning. Deur visueel tred te hou met inkomste en uitgawes laat jou toe om jou geldsake doeltreffend te bestuur.
Spaar doelgerig vir luukses
Behalwe dat ’n begroting maandeliks bygehou moet word, is daar ook ’n paar riglyne wat jy kan volg om jou geld vir jou te laat werk. Kyk hoe julle die balans kan vind tussen noodsaaklike uitgawes en om te spaar vir onvoorsiene uitgawes.
Maak ’n lysie van jou drome en weet wat dit gaan kos om hierdie doelwitte te bereik. Ons begroting is ingestel op lewensgehalte eerder as op lewenstyl. Met ander woorde, ons begroot eerste vir die items wat nou ’n invloed op ons lewe kan hê en dan vir die lewenstylitems. Ons hou daarvan om vir ons lewensgehalte-items te spaar. Om as gesin saam vakansie te hou, is eerste op ons lysie van drome en ons spaar deur die jaar om dit ’n werkliheid te maak. Ons het in die verlede gevind dat ons baie makliker geld spandeer wat nié aan ons behoort nie. As ons met ons eie spaargeld vakansie hou, is ons meer geneig om na winskopies te soek.
Tel die ooievaar se sente
Volgens navorsing beloop die basiese koste verbonde aan die versorging van ’n baba tans ongeveer R7 000 per maand.
Vir baie paartjies is die impak nog groter wanneer daar vir onbetaalde kraamverlof voorsiening gemaak moet word. Daardie vier maande sonder betaling kan ’n begroting goed omkrap.
Wanneer omstandighede verander, moet die begroting daarmee tred hou. Miskien word ’n droom ’n bietjie uitgestel of word daar verder gesny aan uitgawes. Die belangrikste is om steeds by ’n werkbare begroting te hou en saam oplossings te vind.
In ons begroting maak ons eers voorsiening vir die bogenoemde en met dit wat oor is, befonds ons ons lewenstyl. Met elke jaar se verhoging in inkomste verhoog ons eers ons voorsiening vir bogenoemde en daarna verhoog ons ons lewenstyl.
Vergeet van buurman Jones
In vandag se samelewing is dit die norm om te kompeteer met ons vriende, kollegas en familie oor wie die beste vaar wat finansies betref. Ons gebruik lewenstylitems as maatstaf. Dit is ongelukkig ’n baie gevaarlike spel wat lei tot baie onmin in huwelike.
In jou vriendekring sien jy vir André en Yolanda wat elke jaar nuwe motors ry, elke maand nuwe meubels het en gereeld na eksotiese bestemmings reis. Jy weet egter dat hulle min of meer dieselfde verdien as jy en jou lewensmaat, en kan nie verstaan hoe hulle dit doen nie. As hulle dit kan doen, kan julle mos ook.
My advies is dat getroude paartjies die lewe moet leef wat hulle kan bekostig. Dit is goed om ’n balans te vind tussen die lewe wat ’n mens nou wil leef en die lewe wat jy eendag ná aftrede wil leef.
Verder moet ’n mens dink oor jou nalatenskap. Gesonde finansiële beplanning kan jou gesin beskerm in die geval van jou afsterwe of mediese ongeskiktheid en sal verseker dat jou nalatenskap een sal wees van integriteit en trots op die lewe wat jy geleef het.
As jy en jou maat jul finansies wil beplan, vul die vorm in en ons help jou:
Lees volgende maand DEEL 3 om uit te vind hoe mans en vrouens finansiële beplanning anders benader; hoe jy plek maak in jou begroting vir jou drome … en nog veel meer.
Het jy DEEL 1 misgeloop? Oop kommunikasie oor begroting, lewenstyl en lewensgehalte kan jou huwelik ryk maak! Lees die artikel hier …
Artikel deur Martin Herbst