“Wanneer ons met vakansie gaan, word vanselfsprekend aanvaar dat ék die honde sal versorg. Die drie brakke is my man en my seun s’n, maar as dit by vakansies kom, aanvaar hulle geen verantwoordelikheid nie en hulle sal eers wanneer ons wegtrek by die huis, hardop wonder wie na die honde omsien. As ek dit los, sal die arme honde daaronder ly. Hoe kan ek my man en seun lei om self eienaarskap te neem sodat ek nie ingedoen voel deur hul ongeërgdheid nie?
Kry twee weke vooraf jou man en seun bymekaar vir ’n mini-vergadering. Gesels oor die komende vakansie en vra hulle so terloops: “Gaan die honde saam met vakansie?” Die kans is goed dat hulle uit die veld geslaan sal wees omdat hulle bloot aanvaar dat jý, soos altyd, ’n ander plan gemaak het. In plaas daarvan om hulle bloot aan die genade oor te laat, lei hulle en gee elkeen ’n lysie.
Natuurlik is die moontlikheid vir die honde om saam met julle vakansie te gaan hou nie heeltemal verregaande nie. Sommige akkommodasie-webwerwe adverteer diere-vriendelike verblyf. Jy kan jou honde ook met ’n lugredery laat vlieg – kontak die redery waarvan julle gebruik gaan maak vir meer besonderhede.
As dit nie ’n opsie is nie, vertel jou man en seun van loseer-moontlikhede. Julle kan eerstens van ’n troeteldier-oppasser gebruik maak wat gereeld inkom om jul diere kos te gee en met hulle te gaan stap. As julle diere vir julle soos kinders is, is dit goed om in die omgewing rond te vra en eerder op aanbevelings te werk sodat jy weet die gekose persoon is betroubaar. Daar is kennels, wat jou hond die geleentheid gee om in sy eie “hotel” te bly (sommige instansies roem selfs daarop dat hul “honde-loseerders” nie in hokke bly nie, maar vrylik rondloop). Jou seun kan byvoorbeeld hierdie takie op hom neem. Vertel hom waar hy die nommers van moontlike diere-akkommodasie kan opspoor, maar moet dit nie vír hom doen nie.
Jy kan vir jou man vra om die hondekos te gaan koop en op te laai. Maak seker dit is die hondekos waaraan jul diere gewoond is en dat die versorger presies weet wanneer en hoeveel om die honde hiervan te gee.
Dit is nou ’n goeie tyd om die kwessie van mediese versekering vir jul diere met manlief aan te roer. Dit is nooit maklik om van ’n dier afskeid te neem nie en as jul mediese versekering vir jul diere in plek is, kan jul diere dadelik toegang kry tot die beste behandeling sonder dat fondse ’n probleem is of ’n duur honde-operasie jul vakansiefondse in die helfte sny! Mediese fonds- instansies vir diere het verskeie opsies om jul sak en behoeftes te pas.
Deur Annelize Steyn