Huwelike ervaar daagliks uitdagings. Swak kommunikasie, misverstande en uitgediende gewoontes gee soveel huwelike die doodskoot. Finansiële beplanning kan veral ook ‘n knelpunt wees…

Promosie

Ek beplan álles. Dit is in my aard en deel van my beroep. Ek word elke dag gekonfronteer met finansiële uitdagings wat druk plaas op kliënte se huwelike. Is dit makliker vir paartjies met baie geld om gelukkig te wees? Nie noodwendig nie. Ek glo  finansies kan ‘n uitdaging kan wees – beide in huwelike waar rykdom seëvier asook huwelike waar daar te min geld is.

  • André is gespanne omdat hulle kontantvloei beperk is. Jana het altyd gedroom van ‘n groot huis – afbetaal. Sy het gehoop om ‘n BMW te ry, jaarliks Maldives toe te gaan en gereeld te gaan uiteet. Sy troos haarself deur duur skoene te koop en verwyt André vir hul omstandighede. André weer voel pal skuldig omdat hy haar nie kan gee wat sy begeer nie.
  • Deidré kan soveel skoene koop as wat sy wil en daar staan inderdaad twaalf pare Jimmy Choo’s in haar inloopkas. Die vier sportmotors blink in die ruim garages van hul landgoed. Sy het drie huishulpe en ‘n sjef in diens, maar hulle is ook haar enigste geselskap want Johan is nóóit by die huis nie. Hy is altyd besig om ‘n nuwe besigheidstransaksie oorsee te beklink – of so glo sy. Hulle praat nie juis nie…

Ja, finansies is ʼn gedeelde verantwoordelikheid. Huwelikspare wat hul finansies openlik bespreek, staan ‘n groter kans op sukses as diégene wat nie weet wat in die beursie aangaan nie.  Die geheim van kommunikasie  , is om nie te wag tot die skuld-eisers voor jou deur staan voor jy begin gesels oor geldsake nie. Daar is bepaald twee fases in die huwelik waartydens hierdie onderwerp bespreek moet word: Vóór julle trou én terwyl julle getroud is. Dan is daar ook diegene wat geskei en weer getroud is wat beslis moet praat oor geld.

Práát – selfs terwyl slegs die verloofring aan jou vinger blink

Promosie

Enige voorhuwelikse berader sal jou aanraai om brandpunte te bespreek vóór julle voor die kansel staan. Die vrae wat julle moet vra is:

  • Watter bestaande skuld het ons? Gaan ons eers die skuld terug betaal voordat ons trou?
  • Gaan ons buite gemeenskap van goedere trou? Binne? Met aanwasbedeling? Sonder aanwasbedeling? Is my goed mý goed? Of gaan ons alles saamvoeg?
  • Hoe gaan ons vir die troue betaal? Wil ons met trouskuld sit as ons eers getroud is en die wittebrood verby is?
  • Waar gaan ons woon as ons getroud is? My huis of joune? Gaan ons beide die huise verkoop of een huis of gaan ons saam ʼn nuwe huis koop?
  • Gaan beide van ons werk?
  • Watter soort lewenstyl gaan ons leef? In watter soort huis gaan ons bly? Watter soort karre gaan ons ry? Op watter soort vakansies gaan ons? Hoe sosiaal gaan ons wees? Hoeveel kinders gaan ons hê? Gaan ons troeteldiere aanhou?
  • Watter soort lewensgehalte gaan ons nastreef? Gaan ons net genoeg werk om ons lewenstyl te onderhou sodat ons genoeg tyd het om te leef? Watter lewenservaringe wil ons saam deel?
  • Wat is ons afsonderlike drome en aspirasies?
  • Hoe gesond is ons finansiële situasie? Waarvoor het elkeen reeds beplan? Hoe gaan ons nuwe huwelik ons finansiële toekoms beïnvloed? (Ons ervaar dat paartjies finansieel van mekaar afhanklik raak wanneer hulle trou omdat hulle gesamentlike inkomste vir hulle ʼn beter lewenstyl kan finansier. Hier ontstaan die vraag egter: As een van ons sou sterf of selfs ongeskik sou raak weens ‘n siekte of ongeluk, sal die ander persoon dieselfde lewenstyl kan handhaaf? Sal jy in dieselfde huis kan aanbly en sal die kinders in dieselfde gehalte skole kan bly?
  • Dit is beslis nie romantiese onderwerpe nie, maar voordat julle trou moet jy en jou maat jul finansiële raadgewer sien om te gesels oor dood en ongeskiktheid. (Die realiteit is dat mediese ongeskiktheid of ‘n ernstige siekte soos kanker dikwels tot egskeiding lei – veral as daar nie kinders is nie. Baie mense sien nie kans vir die ander party se finansiële las nie).
  • En ja, dit is ver in die verskiet, maar julle móét gesels oor aftrede.

Almal het drome om in ʼn huisie by die see af te tree sonder enige kommer oor  finansies, maar min mense maak deur die loop van hulle lewe hiervoor voorsiening. As paartjies op ʼn jong ouderdom saam hieraan beplan en begin spaar, is die drome moontlik.

Praat gereeld ná jul troudag oor finansies:

  • Na jou troue, gesels gereeld oor die planne wat julle vóór die troudag gemaak het. Vra byvoorbeeld: Is ons nog op koers? Besig om die lewe te leef wat ons beplan het? Hier verwys ek na lewensgehalte en nie lewenstyl nie.
  • Beplanning is super-belangrik! Daar is te veel paartjies wat ontevrede is met hulle lewe, maar self nie werklik weet wat hul verwagtinge is nie. Kwantifiseer dit. Sê byvoorbeeld: Ons wil twee keer per jaar met vakansie gaan en drie langnaweke wegbreek.
  • Wanneer ons ons huwelike beplan is dit nie ʼn eenmalige plan wat vir altyd sal werk of dieselfde bly nie. Mense se omstandighede verander, maar dis belangrik om heeltyd jul planne daarvolgens op te dateer.

Dís hoe ek en my vrou dit doen:

  • In my huwelik het ons vooraf beplan hoe ons lewe gaan lyk. Die plan het egter al ʼn paar keer in die afgelope 13 jaar verander. Ons het eenmaal per jaar  ʼn doelbewuste dag vir beplanning.. Op dié dag bespreek ons ons planne vir ons huwelik, werk, huis, motors en vakansies vir daardie jaar asook ons vyfjaar doelwitte en aftreedrome.
  • Ons bespreek ons huwelik en vra mekaar uit wat die vorige jaar verkeerd geloop het. Ons hoe om dit in die jaar wat voorlê,  te vermy.. Ons gesels oor ons drome en besluit watter hiervan die komende jaar aangepak sal word. Ons trek die kalender nader en maak tyd vir ons aspirasies, vakansies en doelwitte vas.
  • As ons in die gesprek besluit dat ons tevrede is met die huis waarin ons bly, sal ons nie in daardie jaar na ander huise kyk nie. As ons besluit dat ons motors nog goed is vir die jaar, kyk ons nie na ander motors nie. Ons “verneuk” dus nie ons huis en motors in daardie jaar nie.
  • Ons bespreek elkeen se werksomstandighede en besluit of dit nog gesond is en of daar steeds genoeg tyd vir mekaar, ons kinders en ons onderskeie belangstellings is.
  • Ons kalender is altyd vooruit vir die jaar beplan. Ons besef dat dinge deur die jaar kan verander en maak dan aanpassings soos nodig. Daar is egter ʼn paar belangrike datums wat ons moeilik sal skuif of uitstel. Ons maak ook jaarliks beurte om reëlings te tref vir ons huweliksherdenking.
  • Deur deeglike beplanning is daar min slegte finansiële verrassings in ons jaar, indien ooit. Ons handhaaf ‘n goeie balans wat ons tyd vir onsself, die kinders, werk en ontspanning aan betref. Omdat ons baie belangstellings deel, geniet ons baie tyd saam!
  • Ons finansiële beplanning word ook jaarliks op datum gebring (soms kom daar ‘n nuwe huis, motor of pienkvoet by!) Hier kyk ons na al die ‘moeilike’ dinge: Afsterwe, mediese ongeskiktheid en voorsiening vir traumatiese voorvalle. Ons begroot ook vir vakansies, vyf jaar doelwitte en aftrede. En ja, dinge verander! So ook ons drome vir aftrede. Dan pas ons ons beplanning aan. Dit is heerlik om te weet dat ons langtermyn drome op koers is terwyl ons besig is met die dinge van die lewe – dit laat ons veilig voel.

TWEE VAN ONS TOPWENKE:

  • In ons beplanning en rolle kyk ons altyd wie die meeste kan doen en nie die minste nie.
  • Ons het ʼn “Good Memory” bottel met notas en ʼn pen in ons kuierarea. As iemand in ons gesin ʼn goeie ervaring gehad het die dag, skryf hul dit neer en sit die toegevoude nota in die bottel. Januarie maak ons al die jaar se briefies oop en lees dit vir mekaar.

Wanneer jy vir die tweede keer trou…

Ons almal weet dit: Trou jy ‘n tweede keer, is die druk op jou huwelik net soveel meer.Daar kom ‘n vrag bagasie saam: kinders, vooropgestelde idees, seer en deurmekaar finansies. Tweede huwelike kan egter baie suksesvol wees – mits jy daarvoor beplan.

  1. Identifiseer die bagasie en los dit op. Dis belangrik dat almal se finansiële verwagtinge aangehoor en aangespreek word.
  2. Praat oor die kroos. Sover dit die kinders aangaan, is daar baie om oor te gesels, soos reëls rondom die kinders se lewenswyse, dissipline en rolverdeling. Betrek die kinders by die besprekings.
  3. Sny die koek. Stel vas wie gaan watter bydrae tot die huishouding lewer en op watter manier dit gaan gebeur (hetsy die belegging finansieel, tydsgewys of emosioneel gaan wees).
  4. Beplan weereens jou doelwitte en jou drome. Net soos jy dit voorheen gedoen het – deeglik.
  5. Finansiële beplanning is noodsaaklik. Dikwels is aspekte soos onderhoud ter sprake en wanneer een persoon sterf, word meer as een huishouding dikwels geraak.
  6. Kyk na jul beplanning vir aftrede. Na ‘n egskeiding word ‘n mens se langtermyn-voorsiening hiervoor dikwels negatief geraak. Dan is dit nodig om die plan te hersien en te herbesin oor aftree-ouderdom en lewensgehalte.

Ek glo dat as ‘n mens vir die regte redes trou en jou huwelik en finansies beplan daar geen rede is hoekom ons nie ‘n gelukkige huwelik kan hê nie. Almal verdien ‘n wonderlike huwelik! Kies vriende wat ‘n positiewe invloed op jou huwelik het. Kies om elke dag met jou lewensmaat eerlik te wees. Praat! Sê as jy gelukkig of ongelukkig is of wanneer bekommernis jou opvreet. Kommunikasie bly die weg na ‘n suksesvolle huwelik.

As jy en jou maat jul finansies wil beplan, stuur vir Sanlam ‘n epos na prof@sanlam.co.za en maak die onderwerp van die epos “INTIEM” en Sanlam sal jou in kontak bring met ‘n finansiële adviseur.

Kliek hier en voltooi jou naam en kontakbesonderhede in die epos en stuur die epos! Sanlam sal so gou moontlik met jou in verbinding tree.

Kliek hier en lees DEEL 2 oor hoe om finansies binne  jou huwelik te beplan. Ons gaan gesels oor beginsels van begroting, besteding, lewensversekering, waarop om te bestee en waar om op te offer… en nog veel meer.

Artikel deur Martin Herbst