Om in ’n hartstogtelike oomblik jou maat ’n oopmond-soen in die middel van Burnettstraat te gee, is dapper, vreesaanjaend, gevaarlik, gewaagd . . . en baie aanloklik. Terwyl sommige mense ’n doodsvrees het vir “public display of affection”, is dit vir ander daardie onweerstaanbare verbode vrug . . .
Enigeen wat Frankryk al besoek het, kan getuig dat dit seker dié mees romantiese stad ter wêreld is. Hier skroom paartjies nie om op straat te soen nie. In Suid-Afrika is dit minder algemeen. En juis omdat dit so . . . eh . . . ongehoord is, is dit soveel lekkerder wanneer dit wel gebeur! Maar soen is een ding. Seks is iets heel anders!
In ’n onlangse navorsingsverslag deur die seksspeelgoed-maatskappy Adam & Eve is 1 000 Amerikaners ondervra of hulle al seks in die openbaar gehad het en 52% van hulle het positief geantwoord. Hulle het hul top drie plekke gelys as ’n geparkeerde kar, die bos en die park.
As jy nog nooit seks op ’n openbare plek beproef het nie, dink hieroor . . . daar is ’n sekere adrenalien-inspuiting wat kom saam met die moontlikheid om “betrap” te word. Wanneer jy seksueel opgewek word, stel jou liggaam groot hoeveelhede dopamien en adrenalien vry. Miskien is dit hoekom ons só hou van verbode vrugte . . .
Dr Paul Dobransky, ’n sielkundige en outeur, verduidelik: “As jy kyk na ons twee kerninstinkte – oorlewing en voortplanting – kan jy opwekking in twee kategorieë verdeel: Gevaar-opwekking, wat jou roep tot bewapening of aksie, en seksuele opwekking, wat jou roep om voort te plant. Dit is twee sye van dieselfde muntstuk, maar die brein verstaan nie altyd die verskil nie en kan hulle maklik verwar.”
Seksuele ekshibisionisme is opwindend! As jou huwelik so ’n bietjie aan die vervelige kant is, kan dit ’n welkome verrassing wees. En kom ons wees eerlik . . . soms kan ’n mens net nie wag tot by die huis nie.
Hoewel dit gewoonlik as ’n in-die-hitte-van-die-oomblik-gebeurtenis geskied, verg seks in die openbaar tóg ’n sekere mate van beplanning. Hierna moet jy oplet:
- Perfekte tydsberekening! Die Botaniese Tuine op ’n Saterdagoggend? Nie ’n goeie idee nie (dink aan die oomblik wat jy ’n driejarige met ’n rooi suigstokkie oor die iris-bedding sien loer die oomblik wat jou bra oor manlief se enkels hang).
- Bespreek julle kleredrag. Of die oomblik in bogenoemde tuine wanneer daardie einste bloedrooi klein broekie op ’n boomtak beland soos ’n wapperende vlaggie wat sê: “Kom loer hier – 20 treë van die kiosk af, mag julle dalk net ’n National Geographic-toneel in Moeder Natuur besigtig!” As julle vir ’n daad in die natuur gaan, kies natuurlike kleure, maar moet julle eerder nie wend tot his and her jagdrag nie – julle mag dalk álles behalwe kamoefleer . . .
- Beperk julle onderklere. Op daardie noot, los die bloedrooi klein broekie met die linte terstond by die huis. Só ook die bra met sy 24 hakies. Julle wil doeltreffend beweeg, soos gesoute spioene, en nie sukkel om onderklere te verwyder nie – dit steel tyd!
- Hou dit veilig. Oorsee kan mense die bosse betrek, in donker stegies kafoefel en die nuwe bure se tuin namens hulle inwy . . . maar in Suid-Afrika kan jy dit bloot nie waag nie! Voor julle op jul venue van keuse besluit, maak seker julle is 100% veilig.
- Oefen “regop” posisies by die huis. Jip, jou rug teen die muur en jou bene om sy heupe! Kom ons verduidelik . . . in ’n veld met ’n miernes en ’n paar lelike steekvlieë wil jy nie op die grond neergevly word nie. En in ’n openbare badkamer is daar bloot nie plek hiervoor nie, so bemeester staande seks voor julle jul missie onderneem!
- Leer die A-Z van quickies. Dit is nie nou die tyd vir ’n gestreel, ’n gevry en ’n gekoer in mekaar se ore nie. Tyd is nié jul maat nie. Dit beteken dat julle die voorspel vóór die tyd moet afhandel. Doen dit deur vooraf te fluister wat julle met mekaar gaan aanvang. Hou die smeermiddel byderhand en sodra julle jul venue betrek het, maak dit ’n drive-through!
- Wees so stil soos ’n muis. As jy vokaal in die slaapkamer is, is dit nou die tyd om jouself te bedwing of manlief te vra om in die hitte van die oomblik sy hand voor jou mond te hou – ’n geskreeu in die aantrekhokkie gaan net die (reeds nuuskierige) assistent laat nader hardloop! Dis nou te sê as sy nie reeds met haar oor teen die deur staan nie . . .
- Beplan jul verskoning. Kom ons wees eerlik. Die kanse dat julle gevang gaan word, is góéd – dis immers hoekom julle dit doen. So maak gereed vir die ergste. Wat gaan julle sê as julle (letterlik!) met die broek op die knieë gevang word?
Seks in die openbaar kan bepland of semi-bepland geskied: Openbare seks met voorbedagte rade . . . of daarsonder. In die laaste geval gaan julle bloot oop en gereed wees, sóú só ’n geleentheid hom voordoen. In eersgenoemde situasie gaan julle dit beplan vir ’n rendezvous op die strand, by ’n konsert, in ’n fliekteater, in ’n groot afdelingswinkel se aantrekhokkie, op ’n trein of ’n vliegtuig, by jou werk, in die badkamer by ’n groot partytjie of waar ook al die behoefte julle beetpak. Die lewe is kort – raak kreatief en smul aan daardie verbode vrugte sonder om té veel oor die nagevolge daarvan te dink!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.thefrisky.ccom, www.nymag.com, www.girlschase.com.