Hoe maak jy om te keer dat jou en vroulief se timing heeltemal uit is? Ons vertel jou . . .

Promosie

Verbeel jou julle bed is ’n rugbyveld: Jy druk die bal onder jou arm vas, mik dié kant toe en daardie kant toe, sidestep twee All Blacks en lê oop doellyn toe om ’n pragdrie te druk. Die doelskop is lankal oor, dan kom jou vrou nog hygend aangesukkel om jou te ondersteun. Die million dollar question is: Was jy te vinnig of sy te stadig?

Vir dié van ons wat nie van rugby hou nie en nie die lingo verstaan nie, hier is die situasie: Jy ejakuleer gereeld lank voordat jou vrou ’n orgasme bereik het. Sy voel elke keer gekul en beskuldig jou van selfsugtigheid. Eintlik sal jy self nie omgee as die plesier ’n bietjie langer aanhou nie.

Vergeet van premature ejakulasie. Dis iets op sy eie. Jý moet net leer om soms eenkant toe te staan sodat die beeldskone dame aan jou sy ook die kans kry om ’n drie te druk. Daarvoor is ’n bietjie tegniek nodig.

Promosie

SO, WAT MAAK JY?

Ons looi hierdie probleempie van twee kante af. Jy moet eerstens weet hoe om jou vrou ’n orgasme te gee. ’n Vrou hóéf nie ’n klimaks te hê om seks te geniet nie, maar hoekom moet sy tevrede wees met ’n sny koek sonder versiersuiker? Sy maak staat op jou om haar (spreekwoordelik) aan die hand te neem en na die toppunt van ekstase te lei. Dit neem gewoonlik langer vir ’n vrou om ’n klimaks te bereik as vir mans, maar die idee is juis om mekaar se lywe behoorlik en tydsaam te geniet.

  1. Stap een is, natuurlik, voorspel. Gulsige oopmondsoene, jou tong wat die kontoere van haar lyf verken asof dit die eerste keer is dat jy ’n vrou sonder klere sien, skottelgoed was sonder dat sy jou moet vra. Ons is almal min of meer op hoogte van wat voorspel behels. Sorg dat sy heeltemal ontspanne is, dit sal haar kanse op ’n klimaks verbeter.
  1. Dan moet julle die ”regte” posisie vind. Ons beveel ’n variasie op die “doggie”-posisie aan: Laat haar plat op haar maag lê, met ’n kussing onder haar heupe. Lê dan bo-op haar, maar stut jouself op jou arms. Nog ’n staatmaker is die ”missionary”-posisie, maar laat haar bene op jou skouers rus sodat jy haar behoorlik kan penetreer. Maar die posisie wat gewaarborg is om haar twee weke later steeds met ’n stoute glimlaggie te laat rondloop, is om op ’n stoel te sit met haar op jou skoot, met haar gesig na jou toe – en om haar dan al die “werk” te laat doen en self te sorg dat sy ’n orgasme bereik. Vroue wéét wat vir hulle werk en wat nie, en dis goed om haar af en toe in beheer te plaas.
  1. Stap drie is om jou ejakulasie te vertraag. Volg dié maklike wenke:

– Haal stadiger asem tydens seks en fokus daarop om jou penis stadiger binne-in haar te laat beweeg.
– Fokus op die basis van jou penis en nie op die (gevoelige) punt nie.
– Daar is rome en smeermiddels beskikbaar wat jou penis minder sensitief sal maak.
– ’n Kondoom kan ook help om jou penis minder sensitief te maak. Daar is selfs kondome beskikbaar wat spesiaal vir dié doel ontwerp is.
– Onttrek jou penis met tussenposes en gebruik die “ruskansies” vir orale seks.
– ’n Ou, beproefde metode is om voor ejakulasie die basis van die penis 30 sekondes lank hard te druk.

Deur seks vir haar ook ’n hoogtepunt van die dag (of week) te maak, sal sy met heldeverering na jou kyk en nie meer aan seks dink as iets wat jóú plesier moet gee nie.

 

Deur JB Roux