Geen sukses in die lewe kom sonder ’n mate van beplanning nie. Om saam aan ’n toekoms te beplan, kan heelwat bydra tot die intimiteit wat tussen ’n paartjie heers . . .
“Ek en my man is albei baie laid-back mense. Ons is kunstenaars en glo nie in reëls of roetine nie, dus het ons altyd maar net toegelaat dat die lewe met ons ‘gebeur’,” vertel Marli en Stiaan (drie jaar getroud).
“In 2013 het ons ’n groot terugslag beleef toe ek onbepland swanger geraak en heelwat komplikasies met my swangerskap beleef het. Skielik moes ons ernstige besluite neem en ons het nie ’n plan in plek gehad nie. Ons het nie ’n mediese fonds gehad nie, bloot omdat ons nooit daaroor gepraat het nie en oornag was ons in ’n finansiële krisis gedompel.
“Die spanning was vreeslik en ons is deur ’n baie swaar tyd, maar dit was vir ons soos ’n wake-up call. Ons het besef dat ’n mens nie deur die lewe kan gaan sónder om voorsiening te maak vir sekere dinge nie. Sedertdien het ons minstens een keer per maand ’n ‘vergadering’ waartydens ons aan ons toekoms beplan. Ons hou dit lekker en gemaklik, met pizza, wyn en roomys. Dit het ons nader aan mekaar gebring en is nou ’n date waarna ons regtig uitsien!”
Hoekom moet ’n mens finansieel beplan?
Voordat ’n mens trou, is jou finansies redelik eenvoudig. Jy moet jou rekeninge betaal en ’n bietjie spaar, maar meestal geniet jy die vryheid om te spandeer! Wanneer ’n paartjie trou, lyk die situasie ietwat anders. En wanneer ‘n mens al jare lank getroud is, voel jy dikwels daar is soveel finansiële beplanning nodig, maar jy kry dit steeds nie reg nie! ’n Finansiële plan kan jou en jou maat help om jul toekomsdoelwitte saam te bereik.
Finansiële beplanning beteken dat julle moet kyk na hoe julle vandag oor die weg kan kom terwyl julle ook vir die toekoms beplan. Daar moet geld wees vir behoeftes, ’n spaarfonds en noodgevalle (in die geval van ’n siekte of ongeluk). Finansiële beplanning is dinamies en verander voortdurend. Julle gaan geduld nodig hê en waarskynlik konflik beleef. Boonop gaan julle jul situasie voortdurend moet hersien.
Praat oor jul rolverdeling
Wat jul persoonlike finansies betref, sal julle moet besluit wie die rekeninge betaal, watter bank gebruik gaan word en of die een die ander een vir geld sal moet vra en so meer. Besluit dit sáám. Luister na jou maat se behoeftes en argumente en neem dit in ag. Dit maak sin dat die persoon wat beter is met finansies daardie taak op sy/haar skouers neem.
Wees eerlik wanneer julle hierdie emosionele besluite neem. As dit vir jou moeilik is om iemand te “vra” vir geld en jou maat verwag dit van jou, sê só. As jy voel die “hoof van die huis” moet sekere verantwoordelikhede op hom neem, sê dit. As jy dinge onder die dekmantel gaan hou, gaan dit later na die oppervlak tree.
As julle groentjies is wat finansiële beplanning betref, sit een aand en bespreek die volgende vrae met mekaar:
- Wat is ons kort- en langtermyn-doelwitte?
- Wat wil ons elkeen bereik ten opsigte van ons loopbane?
- Wat is ons inkomste nou en wat wil ons hê moet dit oor tien jaar wees?
- Wat gaan ons maak ten opsigte van behuising? Wil ons koop of wil ons huur?
- Wat is ons beplanning ten opsigte van kinders en hoe beïnvloed dit ons finansies?
- Wil ons in ’n stadium ons eie besigheid begin en wat behels dit?
- Wat is ons planne vir aftrede?
- As iets moet gebeur, hoe word die een wat agterbly daardeur beïnvloed?
Voorkom konflik oor finansiële beplanning met behulp van die volgende wenke:
Omdat twee mense verskillend grootword ten opsigte van besteding, kan dit baie konflik veroorsaak. Jy leef dalk vir vandag, terwyl jou man ’n oordeelkundige bespaarder is (jy interpreteer dit as suinig en manlief dink jy is onverantwoordelik). Dit neem tyd om op dieselfde bladsy te kom en julle sal dalk jul perspektiewe ’n bietjie moet aanpas.
- Onthou altyd dat jy lief is vir jou maat – selfs al voel ’n finansiële gesprek net soos besigheid. Onthou om met mekaar te praat soos minnaars (selfs oor geld!) en dat jul geldgesprekke ’n uitvloeisel moet wees van jul liefdesgesprekke.
- Dink mooi oor “eenwording”. Leef julle regtig een lewe of hou julle steeds alles apart? Gesels met mekaar oor hoe julle jul geld en lewens bymekaar gaan bring. As julle steeds verkies om afsonderlike rekeninge te behou, maak seker julle voel eenders hieroor.
- Onthou om pret nie gelykstaande aan geld te maak nie. Doen moeite om pret te hê sonder om geld te bestee. Wat van ’n lekker fietsrit saam? ’n Tuisgemaakte ete? ’n Piekniek in die parkie? Maar onthou ook dat ’n sekere persentasie van jul begroting wel geniet moet word.
- Kry struktuur in jul huwelik wat jul finansies betref. Wie gaan verantwoordelik wees vir die rekeninge, en hoe om jul begroting te laat klop? Bewerk dit só dat julle albei jul talente in die finansiële afdeling van jul huwelik kan gebruik.
- Vier jul verskille. Een van julle is dalk ’n besteder en die ander een ’n bespaarder. Skep ’n begroting wat julle albei in staat stel daartoe om gelukkig te wees. Werk saam met jou maat se persoonlikheid – nie daarteen nie.
- As julle met ’n gesin begin, kom ’n hele nuwe stel onderwerpe op die tafel: Besluit wie gaan by die huis bly en wie gaan voltyds werk (en of julle albei voltyds gaan werk, in welke geval dagsorg ter sprake kom). Bespreek hoe julle jul finansies gaan bestuur. As vroulief by die huis bly, gaan manlief haar ’n “salaris” betaal?
- Dit is nou die perfekte tyd vir ’n testament en om te bepaal hoe jul kinders finansieel en emosioneel versorg sal word indien julle sterf. Dink oor beleggings, polisse en so meer, en maak ’n afspraak met ’n finansiële adviseur wat julle raad kan gee ten opsigte van toekomsbeplanning.
- Hou gereeld “geldvergaderings” om jul huidige finansiële situasie op te dateer en nuwe drome en doelwitte by jul plan te voeg. Gebruik hierdie tyd om kreatiewe oplossings vir probleme te bekom en genereer idees om jul toekoms te verbeter. Maar onthou ook dat dit bydra tot jul intimiteit – sien dit as ’n geleentheid om nóg nader aan mekaar te groei.
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.wife.org, www.getsmarteraboutmoney.ca, www.edis.ifas.ufl.edu.