Onthou jy daardie dae toe Manlief nog sy hande van agter om jou middellyf gegooi het en jy daardie maagdraai-gevoel gekry het? Toe hy met ’n soen op die pols jou polsslag kon versnel? Nie? Dan is dit beslis tyd om iets daaraan te doen.

Promosie

Weeg jou keuses teen mekaar op. Jy kan óf vanaand na ’n heruitsending van die een of ander reeks op die een of ander kanaal kyk, óf jy kan heuning van jou Simson se lieste aflek! Daar is skottelgoed om te was, maar ook ’n Franse broekie met baie min lap om aan te pas .. Jy kan back-up‘s vir jou rekenaar maak, of jy kan op die groove van Katie Melua vry. Die keuses is voor die hand liggend! Of nie?

“Vra eers vir my of ek ’n wulpse tierwyfie is, pasgetroud en reg om my man te verorber, en of ek ’n ma-van-drie is met tyd wat my jaag, ’n skoonma-wat-inbly en ’n man-wat-uitbly,” dink jy miskien sinies.

En ja, ons begryp waar jou ingesteldheid vandaan kom. Dit is ’n 21ste eeu-ding, ’n mikrogolf-generasie-ding, ‘n vroue-ding, maar het jy al daaraan gedink dat as jy ’n kopskuif kan maak en elke dag ’n halfuur kan inruim, jy dalk weer soos daardie tierwyfie kan begin voel? Dat jou kinders gaan floreer met ’n van-voor-af-verliefde pa en ma, dat jou skoonma dalk elders gaan blyplek soek, omdat die muur tussen haar en julle kamer papierdun is … en dat jou man meer gaan ínbly?

Promosie

Ons weet dit is nie maklik om daardie kopskuif te maak nie, en dat seks net addisionele druk op jou reeds gespanne sisteem laai, maar onthou vir ’n slag hoekom God vir ons dié pasellatjie gegee het. Definitief nie net vir voortplanting nie … maar vir jou en jou man se genot! Hoe doen jy dit? Ons verfris jou geheue.

Maak daarvan Aquafresh-oomblikke!

Nee, ons praat nie van tande borsel voor seks nie (hoewel dít altyd ’n goeie idée is). Wat ons bedoel, is dat jy dit moet vars hou. As jou sekslewe meer uit roetine as uit enigiets anders bestaan, is dit goed om te weet dat élke paartjie nou en dan ‘iets nuuts’ (let wel: nie íémand nuuts nie!) ook nodig het. Herhaling is goed – wanneer jy Frans leer, of vlinderslag oefen. Dit kan egter ’n nare effek op jou sekslewe hê! Seksuele eksperimentering hoef nie boeie, leerstewels en ’n sweep te behels nie. Deur net effens van jul normale spyskaart af te wyk, kan ’n wonderlike effek op julle hê.

Orgasme … watter orgasme?

Hoewel daar sommige mense is wat beweer dat ’n orgasme die A-Z van seks is, moet jy besef dat die hele alfabet tussen A en Z lê! Fokus op die reis, in plaas van op die eindbestemming, en maak daarvan ’n lekker lang, uitgerekte een. Wie het nog nie van die paartjie gehoor nie wat só graag kinders wou hê, maar met vrugbaarheidsprobleme gesukkel het en wat eindelik ’n kindjie aangeneem het. Wat gebeur toe? Die vrou het swanger geraak.

Mense plaas dikwels te veel druk op hulself en hul maats om ’n orgasme te bereik en die oomblik wanneer hulle daarvan vergeet, gebeur dit vanself.

Bly fiks, sterk, soepel …

Navorsing het ’n direkte verband tussen fisieke onaktiwiteit en ’n tekort aan krag ontdek. Oefening kan dus jou kragte verhoog en jou sekslewe verbeter. As jy entoesiasties oor jou sekslewe is, moet jy kardio-oefening doen. Hardloop, draf, swem, stap … Vir stamina moet jy jou lyf kondisioneer. Daag jou spiere met gewigte uit.

En dan is daar natuurlik soepelheid – enige lewenslustige sekskatjie se droom! As jy soepel is, kan jy enige posisie met die minimum moeite aanpak. Strek na elke oefensessie en beoefen joga. Dit kan jou help ontspan en jou in die bui kry. Seks en oefening verminder stres, so doen albei – dit behoort jou ontspanne en gelukkig te laat. (www.excercise.about.com)

Moenie stil raak nie . . .

Onthou, kommunikasie bring twee mense nader aan mekaar. En sodra twee mense nader aan mekaar is, voel hulle meer intiem. Dit opsigself maak seks sóveel beter, en dit is hierdie tipe seks wat ’n paartjie nog nader aan mekaar bring. Dus, ’n heerlike kringloop!

Die kommunikasie kan oraal of simbolies wees, maar maak seker jou maat weet waarvan jy hou, waarvan jy nié hou nie, wat jy graag wil hê en hoe spesiaal hy vir jou is. (www.ayushveda.com). Moet net nooit van seks ’n gekompliseerde oefening maak nie. As jou maat nie wil praat nie, moet hom nie dwing nie. Onthou, dit moet vir julle albei spontaan en lekker wees.

Gebruik jul hande …

Moet nooit die krag van massering onderskat nie. Sensuele aanraking is een van die mees ontspanne en sexy dinge wat jy vir jou maat kan doen. Omdat ons lywe dikwels baie spanning in ’n spesifieke area het, bedreig dit ons energie-vloei – en dit sluit seksuele energie-vloei in. ’n Ontspanne, sensuele massering deur jou maat kan jou lyf vir intense orgasmes en beter seks ontsluit. Dieselfde geld vir hom.

Die verskil tussen ’n ontspanne massering en ’n sensuele massering is die manier waarop jy jou maat aanraak – jy wil hom nie té veel laat ontspan nie, anders begin hy snork, en dan is al jou plannetjies daarmee heen! Raak hom dus ferm aan, maar wissel dit met veeragtige bewegings af.

Kamera, ligte, aksie!

Jy is miskien nou nie ’n Anna-Mart, of ’n Meryl in murg en been nie, maar as jy nog altyd van die silwerdoek gedroom het, is dit nóú jou kans. Vir sommige mense kom toneelspel makliker as vir ander. Gelukkig hoef jy nie ’n rol los te slaan nie, jy het reeds een: die een van supervrou/superma/super-eggenoot en daarom super-multitasker! Om soms jou gewone persoonlikheid agterweë te laat, is egter nie ’n slegte idee nie.

Rolspel laat paartjies toe om pret te hê en anders op te tree. Dit laat seks anders voel. Trek dus ’n pruik nader, skaf vir jou ’n paar vals wimpers aan, kry ’n sexy uitrusting en werk aan jou aksent!

Trek ’n pak kaarte nader …

Om laf te wees, is soms lekker! So, trek ’n kaarte nader en speel strip poker. Dit voel dalk so ’n bietjie kinderagtig, maar sodra jy en Manlief kaal is, begin die pret éérs. As jy verloor, kan Manlief kies wat jy vir hom moet doen. Julle moet mekaar slegs een minuut toelaat om daardie aksie uit te voer en die verloorder stap dus ook as ’n wenner uit die situasie!

Daar is verskeie speletjies wat julle kan geniet, en die lekkerte is dat julle dalk dinge gaan doen wat julle nog nooit vantevore probeer het nie.

Wat van ’n nuutjie?

Julle glo waarskynlik in ’n paar posisies wat vir julle soos ’n bom werk, maar wie sê daar is nie nóg lekkerder posisies nie? Daarom – kies die tyd reg en wikkel bietjie julle ledemate in allerlei vreemde kinkels in. Julle hoef dit ook nie uit die boek na te doen nie. Sodra ’n mens die plek verander (met ander woorde julle stoutgeit uit die slaapkamer neem), verander die posisies dikwels na gelang daarvan. Vry op die bank soos twee stoute tieners, of agter in jou kar – seks hoef nooit vervelig te wees nie.
(www.askmen.com)

Kry jou fokus reg!

Vergeet van die drie bondels wasgoed, die voorlegging, en jou selfoon se vibrasies. “Die meeste vroue se breine reis na ’n miljoen verskillende plekke – selfs gedurende seks,” sê joga-instrukteur en skrywer, Ellen Barrett.

Jy moet leer om jou aandag op die oomblik te fokus, sodat dit jou kan help om die fisieke en emosionele sensasies van seks te ervaar. Voorspel is altyd ’n goeie idée, maar té veel voorspel en jy kan in jou kop begin trippel, of jou oor jou to do-lysie vir die dag begin kwel. Hou uitgerekte voorspelsessies dus vir wanneer julle regtig tyd het, en maak van seks op ander tye quickies – dikwels is die voorspel van hierdie sessies so vurig dat jy nie gaan kans kry om jou oor tyd te bekommer nie.

Moet egter nooit die krag van voorspel onderskat nie. Uitgerekte passie is noodsaaklik vir goeie seks. Leer om af te skakel.

Wanneer die hane kraai …

“O, ja!” sal die meeste mans hierop sê. Mans hou oor die algemeen van oggendseks, terwyl vroue daarvan wegskram, maar probeer dit. “Biochemie-gewys maak dit sin om die eerste ding soggens seks te hê,” sê dr. Eva Cwynar, endokrinoloog en kliniese medeprofessor aan die Universiteit van California (LA). “Kortisol is op sy piek wanneer jy wakker word, so jy het die energie om dit te doen. Daarna stel jy ander hormone, soos oksitosien vry, so jy is heeldag in ’n goeie bui. Dit is nodig om twee ure vroeër op te staan nie, want navorsing toon dat die meeste paartjies bevredigende seks in slegs sewe tot dertien minute kan hê.”

Nie lus nie?

As jy nie in die bui vir seks is nie, doen dit in elk geval! ’n Mens se begeerte vermeerder gedurende seks, en namate jy opgewek raak, verhoog jou libido en voel jy soveel sexier. (www.au.lifestyle.yahoo.com). Nog iets wat julle kan probeer, is om vir mekaar slaaptydstories te lees. Nee, nie Hansie en Grietjie nie, maar eerder klassieke verhale soos dié deur Anaïs Nin, of die gedigte van Pablo Neruda. Leesstof wat effens eroties van aard is, sal jou heeldag aan seks laat dink en dit kan jou vinnig in die bui kry.

Doen moeite …

Jy is meer as bereid om ure voor die stoof te slyt om vir jou kind se verjaardag cup cakes te bak, al is jy nou nie die tipiese Martha Stewart nie. Jy vou uitnodigings, dek ’n tafel vol lekkernye vir die ouers en bestee ure daaraan om sy geskenk uit te soek. Maar vir seks is daar nie tyd nie?

Doen moeite met romanse. Soms moet ’n mens die regte luim skep en dit behels sagte musiek, sagte kerslig, sexy onderklere … soms ’n handgeskrewe nota, ’n oester-ete … doen moeite om dit lekker te maak. Jy sien miskien op teen die moeite, maar eindelik sal jy dit geniet om jou man se reaksie te sien, en dít maak alles die moeite werd.

Onthou, seks is ’n pret-aktiwiteit, nie ’n taak wat afgehandel moet word nie. Dit is die sleutel tot jou gesonde verhouding en iets waaraan jy moet werk. Seks mag nooit iets wees wat net ‘afgehandel’ moet word nie. Dit is iets wat julle deel. En die beste raad om seks te geniet: moenie daaroor dink nie, dóén dit net!

Addisionele bronne: www.ehow.com