Jou vingerpunte het ’n fantastiese vermoë! Hulle gee aan jou die geleentheid om te voel – jou man se ruwe stoppelbaard, die sagte stukkie vlees tussen sy naeltjie en jy-weet-waar en die gespierde lyne van sy arm. Waarom sou jy dit nie wou benut nie?

Promosie

Die tassintuig is maar net een van die wonderlike maniere waarop God ons bederf het. Jy kan baie dinge aanraak, maar wanneer jy ’n ander méns aanraak, het dit ’n onmiddellike reaksie. Daardie persoon voel jou, en daardie gevoel skep weer kragtige, emosionele gevoelens binne-in hom.

Elke mens het aanraking nodig – navorsing toon dat ’n mens nie sonder aanraking kan oorleef nie. Babas hou op praat daarsonder, senior persone verwelk in ’n ouetehuis waar hulle nie gereeld aangeraak word nie en volwassenes se harte word koud en leeg.

Aanraking is wonderlik en helend. Dit bring mense nader aan mekaar en sê soms wat woorde nie kan nie. Die beste seks is ‘getroude seks’, solank dit daardie een bestanddeel bevat wat baie gelukkige mans en vroue deel – sensualiteit.

Promosie

Terwyl seks so ’n belangrike deel van enige goeie huwelik is, raak die kuns van sensualiteit dikwels met die jare verlore. Lang, stadige soene, warm omhelsings, speelse oomblikke van kielie! Sensualiteit maak ’n huwelik warm en gemaklik. Dit skep ook die regte luim vir gereelde, seksuele ervaringe, en die vriendelike omgewing wat jy vir jou huwelik skep, maak jul verhouding koeëlbestand teen die moeilike tye wat elke verhouding van tyd tot tyd ervaar.

Veral vroue is suckers vir aanraking! As Manlief op ’n omgee-manier aan jou raak, laat dit jou op ’n romantiese manier geliefd en versorg voel, wat jou weer ontvanklik vir ’n paar ander dinge maak …

Om egter sensueel te voel en jou maat op die regte maniere sensueel aan te raak, is dit belangrik om jouself te koester, waardig te ag en ook jou lyf te respekteer. Waarvan hou jy? Die gevoel van peperduur badskuimborrels teen jou bene, of die gevoel van kasjmier teen jou bolyf? Koop die badskuim en die trui! Wat voel vir jou sensueel? Kantonderklere of sygladde satyn? Moet dan nie hier jou sente omdraai nie.

As dit vir jou sensueel voel om níks in die nag te dra nie en die lakens teen jou naakte vel te voel, koop vir jou die beste lakens wat jy kan bekostig! Raak jouself doelbewus en met respek aan. Wanneer jy room aan jou gesig smeer, hanteer jou gesig asof dit ’n kosbare bate is (want dit is!) en nie net asof jy vinnig ’n roetinetaak moet afhandel nie.

Borsel jou hare en jou tande stadig en ervaar hoe dit voel. Staan soms kaal voor die spieël en bewonder jou lyf (selluliet en al!) deur oor jouself te streel en regtig te vóél hoe elke sentimeter van jou lyf deur jou vingers ervaar word. Eers dán kan jy waarlik die geskenk van aanraking waardeer en leer hoe om dit vir jou man aan te gee.

12 maniere om jou man aan te raak!

  • Begin elke dag met ’n teer drukkie.

Dit is nie die haastige druk wat jy hom gee wanneer hy by die deur uitvlieg nie, maar eerder daardie lui, wakkerworddruk om te sê: “Hei, ek is gelukkig om langs jou wakker te word en nóg ’n fantastiese dag saam met jou te beleef! Ek het jou lief.” Daar is kenners wat beweer dat elke volwassene ten minste agt omhelsings per dag nodig het.

  • Raak hom aan.

Raak aan hom, selfs wanneer julle met jul eie dinge besig is. As julle in die bed lê en lees, vryf met jou voete teen syne. Wanneer julle voor die televisie sit, vryf sy rug. Streel sy nek terwyl julle in die kar ry. Hou hande vas, speel met sy vingers, staan styf teen hom. Streel met jou vingers oor sy gesig of hare. Dikwels is die mees subtiele aanrakings dié wat met die meeste elektrisiteit gelaai is.

  • Omhels jou maat behoorlik.

Moenie net ’n vinnige, terloopse hand om sy nek sit nie, maar bestee ’n paar oomblikke waar julle regtig styf teen mekaar staan en mekaar vashou, terwyl julle die oomblik indrink. Sorg dat Manlief genoeg hiervan kry, sodat hy nooit ervaar dat daar ‘n fisieke afstand tussen julle is nie.

  • Raak hom met voorwerpe aan.

Streel met ’n duifveer oor sy bors, vryf met ’n fluweellap reg oor sy lyf, draai ’n syserp tussen sy vingers en teken prentjies in lyfpoeier wat jy oor sy maag gestrooi het. Verskillende teksture gee verskillende sensasies en hy sal leer onderskei wat vir hom lekker is.

  • Kielie hom.

’n Gekielie en ander vorme van speelse aanraking is perfek om jou huwelik op ’n gemaklike vlak te hou. Speelsheid kan vir julle die nodige breuk gee van die ernstiger aspekte wat dalk jul lewens oorheers. Dit skep ’n gevoel van ‘saamwees’, van ‘verstaan mekaar’ en ’n wete dat julle saam kan pret hê, selfs al lyk die lewe andersins donker.

  • Dans met jou maat.

Julle hoef nie noodwendig vir professionele lesse te gaan nie (hoewel dit wonderlik is as jou maat instem om so iets te doen), maar skakel soms die televisie af, sit ’n romantiese CD in die CD-speler en trek hom van die bank af op. Net die blote gedagte aan ’n cheek-to-cheek is sensueel, julle ervaar ’n nabyheid en jou asem teen sy oor is een van die mooiste geluide wat hy ooit sal hoor. Kliek hier as jy meer wil leer hoe dans die vonke kan laat spat.

  • Sit op sy skoot.

Julle het dit waarskynlik in jul studentedae gedoen, soms omdat jy bloot laf was, en soms omdat die Volla net te klein vir sewe mense was! Doen dit weer, hierdie keer nie omdat jy moet nie, maar omdat jy regtig wil. Dit skep ’n gevoel van nabyheid en geen man gaan kla as jou boesem hom vierkantig in die oë kyk nie!

  • Fluister vir hom.

Doen dit só dat jou lippe ligweg aan sy ore raak. Dit maak nie saak wat jy vir hom sê nie (solank jy hom nie vra om die honde kos te gee nie!) Dit kan ook goed werk as jy op sy skoot sit. Sê vir hom iets sensueel, iets wat ’n dubbelsinnige betekenis het, of vertel hom bloot dat jy hom liefhet en waardeer. Dit maak nie saak wát jy sê nie – solank jý dit sê, solank jy dit in sý oor sê en solank jou stem teen sy oorlob kielie, sien hy sterre verskiet!

  • Masseer jou maat.

Sê woorde wat lewe gee, terwyl jy hom masseer. Die webtuiste www.whenonefleshworships.com noem dit ‘gebedsmassering’. Sekere olies is in die Bybel gebruik. As jy egter nie sulke olies byderhand het nie, is gewone baba-olie of enige gegeurde olie ewe goed. Jy kan selfs jou eie masseerblok maak, kliek hier. Moenie druk op jouself plaas om sexy te probeer wees nie, ’n gewone, nie-seksuele massering is ook piekfyn.

  • Gee vir jou man ’n sensuele massering.

Begin die massering deur ’n klein hoeveelheid aromaterapie-olie tussen jou handpalms warm te vryf. Spanning bou in die nek, skouers en bolyf van vroue en in die laerug en agterstewe van mans op. Dit is nie jou doel om ’n deskundige masseuse te probeer wees nie, maar om van die masseersessie ’n verleidingsritueel te maak!

Bronne: www.romantic-lyrics.com; www.harmoniousliving.co.za; www.savemarriage.co.uk; www.militarywivesgetbusy.com; graphicwoman.com