Jou sekslewe het ‘n vaste roetine. Jy verstaan sy lyftaal en weet hoe om daarop te reageer. Teen slaaptyd kom kruip manlief teen jou rug, fluister iets stout in jou ore en daar gaan julle…

Promosie

Dit is ongelukkig nie altyd so eenvoudig nie. Het jy al ooit daaraan gedink dat hy soms wil hê jý moet die inisiatief neem? Gaan daar soms dae verby wat jy nie so gereed is vir slaap soos hy nie? Vir baie vroue is dit ondenkbaar om seks voor te stel. Ons het grootgeword met die idee dat meisies moet wag vir ’n ou om hulle te vra om te dans, vir die eerste soen en vir die verloofring. Uit die aard van die saak voel dit vir vroue vreemd om inisiatief in die slaapkamer te neem.

Vandag is dit egter geensins meer vreemd vir ’n vrou om haar behoeftes in die slaapkamer te erken nie. Vir menige mans is dit ’n wilde fantasie dat hul vroue seks moet inisieer. ’n Man glo dikwels dat dit ’n bevestiging van sy vrou se aangetrokkenheid tot hom (en sy aantreklikheid en manlikheid!) is en voel gevlei daardeur. Dit kan dalk aanvanklik vir jou vreemd voel, maar jy sal gou leer dat openhartigheid deur en deur die moeite werd is. Begin deur oor seks te gesels.

Hoe om die onderwerp mondeling aan te raak
Jy kan subtiel begin deur seksuele kwessies aan te raak wanneer dit op televisie bespreek word. Jy kan ook vir hom vra wat hy dink van iets wat jy in ’n tydskrif gelees het. Maak egter seker die tyd en plek is reg. Te veel mense wil in die oomblik van passie hul sekslewens bespreek, maar vir baie mans is dit die laaste ding wat hulle dán wil doen, om te gesels. Behou oogkontak. Sommige mense verkies om nie vir hul maats te kyk wanneer hulle seks bespreek nie omdat dit ’n sensitiewe onderwerp is, maar oogkontak is ’n baie belangrike element van doeltreffende kommunikasie, en dit sal ook die intimiteitsband tussen julle versterk. ‘n Mens kap immers nie wortels terwyl jy jou diepste fantasie deel nie!

Promosie

Verstaan mekaar se kodetaal
In ’n perfekte wêreld het maats direk vir mekaar gevra: “Is jy lus vir seks?” en die antwoord sondermeer aanvaar. Seks is ‘n sensitiewe kwessie, en indien dit nie sensitief hanteer word nie, kan een of beide partye diep seergemaak voel. Dit is nie altyd so maklik nie. Party paartjies skep ’n geheime kode wat albei verstaan en waarmee hulle kommunikeer. ’n Vrou sal byvoorbeeld vir haar maat sê: “Ek’s in die stort…” Dit insinueer natuurlik dat sy gereed sal wees vir seks sodra sy uitkom. Die cliché wat almal alte goed ken, is: “Ek het hoofpyn” – dit beteken dat sy vanaand nie kans sien vir bed-pret nie. As julle egter ’n kodetaal ontwikkel, is dit noodsaaklik dat albei van julle presies weet hoe om dit te ontsyfer.

“Miskien” is toelaatbaar
Soms weet ’n vrou nie of sy regtig wil seks hê nie. Jy mág maar sê: “Miskien.” Partykeer vertel jou liggaam jou een ding en jou kop sê iets anders. As daar ’n deel van jou is wat graag seks wil hê, terwyl die ander deel nie reg daaroor voel nie, sê gerus net: “Miskien.” Dit beteken dat jy nie seker is nie en nodig het om daaroor te praat. Onthou dit beteken nie dat jy speletjies speel nie. Jy open ’n gesprek oor presies wat jy wil doen en wanneer jy dit wil doen. Jy moet ook jou man vertel wat “miskien” beteken, sodat hy nie net met ’n gelaaide vraag gelos word nie. Hy moet weet dat jy nie oorreed wil word nie, maar tyd nodig het om te besluit. Moet ook nie onredelik wees en hom onnodig aan ’n lyntjie hou nie.

Jou néé is jou nee
Nee móét nee beteken. In ’n wêreld waar afspraak-verkragtings, oftewel date rape, sowel as verkragting in huwelike (dit gebéúr!) ’n realiteit is, moet néé sy betekenis trots kan dra. In die verlede, wanneer ’n vrou “nee” gesê het, het ’n man dikwels gevoel sy is ’n terggees en haar sodoende gedwing om seks te hê. Hierdie euwel kom uit die tyd toe vroue geleer is hulle moet hard to get speel en “nee” sê, al wou hulle seks gehad het. Baie mans het gedink hulle moet ’n vrou “oortuig” omdat, al sou sy nie daarvoor vra nie, sy dit steeds wil hê. Dit is só verkeerd. Wanneer ’n vrou “nee” sê, moet haar man onmiddellik stop, anders is dit verkragting – of jy in ’n huwelik staan of nie. Daarom is dit ’n vrou se plig om nooit “nee” te sê wanneer sy dit nie regtig bedoel nie.

Hier is ’n paar idees van hoe jy seks kan inisieer sonder om dit te sê:
• Vra jou maat om jou te help om sekere geheime tekens daar te stel, wat vir hom kan beteken dat jy in hom belangstel. Wanneer jy byvoorbeeld ’n sekere CD speel , beteken dit dat jy seks wil hê en wanneer jy ’n roos op sy kussing sit, beteken dit dat jy net lus is om die heel aand met hom te cuddle.
• Plaas ’n Post-it nota, met ’n vraagteken en ’n soen op sy kussing. As hy besig is om op sy rekenaar te werk en jy hom nie bed toe gelok kry nie, behoort so ’n Post-it nota op sy rekenaarskerm die ding te doen
• Koop koepons (of maak dit self) wat soos tjeks werk en sekere gunsies koop. Daar staan byvoorbeeld: “Hierdie geskenkbewys gee die houer hiervan die toestemming om vanaand doodstil te lê terwyl sy vrou hom op allerlei maniere verlei…” Plaas die koepon in ’n koevert en glip dit tussen die posstukke in voor hy daardeur werk. Of maak digitale koepons wat jy sommer vir hom epos!
• Voor jy bed toe gaan, maak oogkontak met jou man en trek alles uit wat jy aanhet, terwyl jy skalks glimlag.
• Maak ’n groot bord met ’n idee van wat jy met hom beplan daarop geskryf. Hang die bord om julle hond/kat se nek en laat julle troeteldier hom groet die oomblik wat hy by die huis kom. Dié stukkie humor sal die ys breek en hy sal dadelik weet wat jy in gedagte het
• Koop ’n pakkie bekostigbare katoen-onderklere en vra iemand wat naaldwerk doen om vir jou oulike en sexy boodskappe op die onderklere te borduur. Jy kan selfs materiaal-penne of verf gebruik! Jy kan ’n idee vir elke dag van die week uitdink en elke aand ’n ander broekie aantrek waarop ’n boodskap staan soos: “Orale seks – 7 nm klokslag” of “Soen my net waar jy wil…”
• Wees direk. Gaan sit wydsbeen op sy skoot en gee hom ’n lang en innige soen. Baie min mans sal hierdie gebaar verkeerd interpreteer!