Ek het in Nederland grootgeword. Baie mense, juis ook toeriste, ken die berugte “De Wallen” in Amsterdam. Dis daar waar meer as 1 100 prostitute werk. Waar hulle, met weinig klere aan, hulle in ’n toonvenster met rooi ligte bevind. Wanneer die gordyne toegetrek is, beteken dit dat hy of sy nie meer alleen daar is nie.
In daardie deel van die stad vind jy ook verskeie sekswinkels en ’n teater wat hom op erotiek toespits. Elke jaar stap 32 miljoen toeriste deur dié strate, hulle lag en neem foto’s.
Die bekende Amerikaanse teoloog, Rob Bell, sê dat hierdie buurt die mees “on-seksuele” deel van Amsterdam is.
Interessant. Want waarom sal ’n teoloog, van alle mense, so ’n uitspraak maak? Wat het seksualiteit met God te doen?
’n Diep verlange
Seksualiteit omvat ’n breër verstaan as bloot dit wat tussen twee mense in die slaapkamer gebeur. Dit gaan oor ’n diep verlange wat God in ons gelê het, waarin ons liefde en genot en vreugde mag ervaar.
Ons is geskape om aangeraak te word. Of dit nou ’n drukkie van jou ouma of jou kind is, ’n troostende hand op jou skouer, of jou geliefde se soen op jou mond.
Van vroeg in ons lewe af is aanraking essensieel. Babas wat nie genoeg vasgehou word nie, ontwikkel swakker as babas wat dikwels vasgehou word. Hierdie aksies – of gebrek daaraan – beïnvloed die groei van hul brein en die ontwikkeling van hul motoriese vaardighede én hul intelligensie.
Die rol wat aanraking speel, word ook uitgewys wanneer mense hand skud as hulle aan mekaar voorgestel word. Hiermee gee jy erkenning aan die ander een, en jý word erken.
Almal weet ook ’n drukkie bring soms meer troos as honderd woorde.
Seksualiteit gaan oor verlange, ja. En oor erkenning. God het ’n seksuele verlange in ons gelê, ’n verlange na ’n verhouding, sodat ons kan gee en ontvang. Dis ’n geskenk.
Die verlange na seksualiteit is dus gesond, dis menslik, dit kan selfs as goddelik bestempel word. Tog sukkel Christene dikwels daarmee. Een van die redes vir hierdie huiwering is omdat die kerk oor baie eeue heen geleer het dat seksuele verlange verkeerd is.
Hierdie opvatting strook nie met die Bybel nie. In die Ou Testament word ’n ganse Bybelboek, Hooglied, aan seksuele verlange gewy.
Dit hoef niemand te verbaas dat hierdie erotiese tekste in die loop van die kerkgeskiedenis merendeels vergeestelik is nie. Volgens dié verkose interpretasie handel Hooglied oor die verhouding tussen God en sy volk …
Ironies genoeg wys juis hierdie soort lees van die teks ons ook op ’n belangrike saak, naamlik dat seksualiteit ons iets oor God vertel.
Verbondenheid
In die Bybel word die Hebreeuse woord “echad” gebruik om die eenheid van God te beskryf, asook die eenheid tussen mense wat geslagsgemeenskap het. Die eenheid van God is ’n besonderse eenheid, en dit geld ook die seksuele eenheid tussen mense.
Daarom kan ons sê dat seksualiteit ook verbondenheid as grondslag het. Ons verlang daarna, maar dit word eers werklike verbondenheid as ons dit ook mag beleef.
Die rede waarom Rob Bell “De Wallen” so negatief beskryf het, is juis omdat daar van verbondenheid geen sprake is nie. Daar is baie verlange, ja, maar dié is uiters beperk en soek net na eie bevrediging.
Interessant genoeg word daar in daardie “rooiligdistrik” ook baie kerke aangetref – dié plek waar aktief na verbondenheid gesoek word.
Ware verbondenheid is altyd wederkerig, en dit word gevaarlik as dit nie die geval is nie. Ons lees hieroor in die Amnon-verhaal (vgl 2 Sam 13).
Oorgawe
Seksualiteit gaan ten diepste oor oorgawe. Om naak by ’n ander te wees, om toe te laat dat ’n ander jou seksueel bevredig, vra oorgawe en vertroue. Net dan kan jy ’n hoogtepunt bereik.
Maar ook ’n doodgewone drukkie vra van jou dat jy jou arms sal oopmaak, en ’n hand op jou skouer vra om nabyheid. Dit alles kan net gebeur as daar wedersydse respek is.
Om te glo, is ook oorgawe. As jy die Here wil dien, gee jy jou lewe in God se hande oor. Hiervoor het God die voorbeeld gestel deurdat Hy Homself oorgegee het: die Seun aan die Vader en Gees; die Vader aan die Seun en Gees; die Gees aan die Vader en Seun.
Jesus se laaste woorde aan die kruis, waar Hy nakend gehang het, was: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46).
En met die kruisdood het die drie-enige God Hom aan ons oorgegee. Aan ons, sy mense, sodat ons met God gemeenskap mag hê.
Só mag ons in ons seksualiteit beleef wat dit beteken om jou aan die Ander oor te gee, en aan die ander om ons. Die geheim hiervan is allereers in verwondering geleë, en nie in wette wat voorskryf wat jy mag en nié mag doen nie.
Net op hierdie wyse kan gelowiges wegbeweeg uit ’n kultuur van skuld en skaamte oor hul seksualiteit. En opnuut ontdek dat hulle die Here, juis deur hul seksualiteit, beter kan leer ken.
Dr Almatine Leene is predikant by die NG Kerk Stellenbosch-Wes en ’n dosent in kerkgeskiedenis en dogmatiek in Nederland.
Artikel deur LiG-tydskrif
Lees nog artikels oor geloof en die huwelik hier