Die verskonings is dikwels legio: Jy kan nie op stilleto’s balanseer nie, jy’t jou enkel in standerd drie verstuit en jy ken nie die verskil tussen ’n Foxtrot en ’n Tango nie…

Promosie

Verrassing! Jy’t nie nodig om ’n latlyf wyfie-vos te wees om jou man se mond deur jou sensuele lyfbewegings te laat water nie. Enige vrou wat energie in haar verhouding wil belê, het die vermoë om sensuele danse baas te raak, meen Ali Murray, verhoudingskonsultant van Johannesburg wat, onder meer, die Goddess Dance met behulp van wêreldwye navorsing en die beoefening van verskeie dansdissiplines ontwikkel het.

“Sewe jaar gelede het ek besef daar is ’n gaping tussen dít wat die mediese kenners jou vertel en dít wat in die regte wêreld aangaan. Ek het besef daar is nie genoeg praktiese inligting en vaardighede beskikbaar vir ons om romanse en intimiteit in ons verhoudings te implementeer nie.”

Volgens Ali gee sensuele danse vroue ’n geleentheid om weer in aanraking met hulself, hul sensualiteit en hul vroulikheid te kom. Om sensueel te dans, meen Ali, is nie iets wat in ’n paar stappe aangeleer kan word nie. Jy kan jou eie dans ontwikkel deur met eenvoudige passies te begin, as jy weet waaroor sensuele danse eintlik gaan.

Promosie

Skep ’n sensuele identiteit

Volgens Ali is soveel Suid-Afrikaanse mans al aan ’n ontkleedans blootgestel dat hulle onmiddellik sensuele danse met ’n ontklee-klub sal assosieer. Daarom is dit belangrik dat ’n vrou wat sensueel vir haar man wil dans, baie stadig begin sodat hy sensuele bewegings met háár assosieer en nie met ’n ontkleedanseres nie.

Begin daarom met een of twee sensuele bewegings wat jy in jou daaglikse doen en late inwerk en wat jy oor ’n tydperk van drie maande in ’n volwaardige dans kan ontwikkel. “Moet nooit huis toe gaan en ’n vol dans vir jou maat doen nie, tensy jy hom én jouself wil traumatiseer.”

En wanneer jy eindelik gereed voel om ’n beplande dans vir hom te doen, het jy nie baie tyd nodig nie. “Een-en-’n-halwe minuut is soveel soos wat ’n man in die begin kan hanteer, as jy goed dans!” sê sy.

Maak hom gewoond daaraan

Nog ’n rede waarom jy sensuele danse as ’n stadige proses moet sien, is om jouself die geleentheid te gee om jou selfbeeld te bou en ook om jou man die tyd te gee om gewoond te raak aan die nuwe, wonderlike jy. “Hy moet jou sien as ’n wonderwerk in sy lewe wat bereid is om die ekstra myl te stap, nie net bloot wonder: ’Wie is hierdie vrou en wat het sy met my vrou gemaak?’ nie,” sê Ali.

Glo in jou sensualiteit

Die Goddess Dance self, ’n dans waarvoor Ali werkswinkels aanbied, inkorporeer baie eenvoudige bewegings, sowel as meer komplekse bewegings. Solank jy jouself nie ooreis nie en jou liggaam respekteer deur op te hou die oomblik wat jy pyn het, sal jy goed doen, meen Ali. “Onthou, ons moet almal iewers begin, so neem baba-treë deur eers die bewegings stadigaan in jou lewe voor te stel. Jy het tyd. Tyd om aan jou verhouding te bou en tyd om pret daarin te bou. Glo dit of nie, ek is self taamlik skaam, jy hoef nie ’n wilde persoon te wees om jou maat te geniet nie.”

Ontwerp slim passies

Sensuele danse is nie ’n kitsoplossing vir ’n huwelik wat ’ n tekort aan romanse het nie, meen Ali. Volgens haar moet dit deel vorm van ’n leefstyl. Daarom kan jy begin deur ’n paar bewegings deur die loop van die dag te doen en seker te maak jou maat sien dit. Wanneer jy byvoorbeeld die skottelgoed was, beweeg jou heupe in ’n vol sirkel (asof jy stadig hula-hoop) en druk jou onderlyf teen hom wanneer hy agter jou kom staan. (Hoekom doen mans dit altyd? Omdat jy jou hande vol het en die kans nie goed is dat jy hom van jou af gaan wegstoot nie). Die geheim is om wat jy ook al doen, stadig en sensueel te doen. Nog ’n idee is om jou hare sensueel te was. Vee met jou hande oor jou hele liggaam, soos wat jy sou doen wanneer jy stort-jel aanwend. Doen dit net veel stadiger as gewoonlik.

Skep die regte atmosfeer en verwagtinge

Ali meen dat ’n poging om sexy te probeer wees, baie stresvol kan wees, veral as jy ’n beginner is. Daarom is dit belangrik om eerder ’n prettige en spelerige atmosfeer te skep as ’n ’Kyk vir my en vertel my dat ek sexy is’ luim. As jou onderklere iewers vashaak terwyl jy ’n sensuele beweging doen, maak net asof dit deel is van jou dans. Moenie bang lyk nie, want dan gaan jy hom op sy senuwees maak. As jy giggel, moenie jouself daarvoor verwens nie. “Sensuele danse is ’n volwasse vorm van speel. Geniet dit,” sê Ali.

Trek reg aan vir die geleentheid

As jy gereed is om ’n volledige dans vir manlief te doen, gebruik dít wat jy reeds in jou kas het. As jou onderklere egter in ’n skokkende toestand is, beveel Ali aan dat jy vir jouself ’n eenvoudige bra en deurtrekker gaan koop.

As jy vir die eerste keer vir hom dans, trek miskien iets soos ’n bra, kousband en kleinbroekie aan. Veral beginners sal gemakliker voel met die idee dat hulle iets het om later uit te trek en dat hulle enige tyd kan ophou as hulle ongemaklik voel met al hul klere nog in plek. “Die mees sensuele vroue is daardie vroue wat gemaklik is met wie hulle is. Onderhou jouself, hou jou hare in ’n goeie toestand, dra ’n bietjie grimering, trek met oorleg aan, ruik lekker en lyk goed.”

Goeie musiek vir sensuele danse:

You can leave your hat on deur Joe Cocker

Don’t Cha deur Pussycat Dolls

Fields of Gold deur Sting

Crazy deur Sting

Satisfaction deur Britney Spears

Baby, you’re the right kind of wrong uit die fliek Coyote Ugly

Let’s go girls deur Shania Twain

Idees vir plekke waar jy sensueel kan dans

  • Op ’n stoel
  • In ’n deurraam
  • Deur ’n veiligheidshek
  • Op ’n eetkamertafel
  • In die stort
  • In ’n jacuzzi
  • In die gang

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!