Geheimsinnig, sexy en o, so verleidelik! Knoop ’n affair aan met jou eie man!

Hoe nou gesê? Hoe het mens ’n affair met jou eie man? Is dit nie uhm … teenstrydig nie? Never! Jy kan jou man se vrou en mistress in een wees en boonop weer van voor af op mekaar verlief raak. Blaas ’n bietjie avontuur in jou huwelik! Hier is hoe jy dit doen:

Stoute sms’e: Stuur vir jou man sms’e deur die dag by die werk en vertel hom hoe hot hy is en hoe jy nie kan wag om hom te sien vanaand nie. Vertel hom watter onderklere jy aanhet (of nie aanhet nie) en wat jy aan hom gaan doen as jy hom weer sien.

Versteekte boodskappies: Skryf ’n boodskappie op ’n stukkie papier en steek dit in jou man se klere weg. Jy kan enige iets formuleer van hoe lief jy hom het tot ’n stoute grappie. Of los vir hom ’n lipstiffie-soen op ’n tissue. Bel hom deur die dag en sê vir hom waar jy sy boodskappie versteek het.

Geheime ontmoetings: Spreek af om mekaar op ’n geheime plek te ontmoet en vertel niemand waarheen julle gaan nie. Onthou, julle mag nie saam soontoe ry nie, anders gaan julle “huweliksmaats” snuf in die neus kry!

Rolspel: Weet jy wat jou man se fantasieë is? Hou hy van ’n sekere aktrise of sangeres? Dink hy jy lyk stunning as ’n blondine? Kry vir jou ’n pruik en ’n gepaste uitrusting. Jy kan dit dra tydens seks of selfs wanneer jy hom in die geheim ontmoet.

Seks buite die huis: Los die vervelige vier mure van julle slaapkamer agter en gaan soek ander weivelde. Hê seks in ’n hotelkamer, in die tuin, in die fliek, in ’n hysbak, in julle motor of in ’n parkie. Julle kan so avontuurlustig wees soos wat julle wil.

Verrassingsbesoeke: Bel manlief ’n uur voor etenstyd en sê dat jy hom wil ontmoet vir middagete. Jy kan selfs onverwags inloer by die werk deur die dag net om hallo te sê – mits dit toelaatbaar is.

Flirt in die publiek: Onthou jy toe julle net ontmoet het en julle nie jul hande van mekaar kon afhou nie? Julle het nie omgegee as mense sien julle steel ’n soentjie of gee mekaar drukkies nie. Doen dit weer! Bewonder jou man openlik – dit gaan hom soos ’n alpha male laat voel en sy libido lekker opjaag.

Sexy foto’s: Laat neem ’n sexy foto van jouself en steek dit weg in manlief se beursie. Hy moet dit onmiddellik kan sien as hy sy beursie oopmaak. Of neem ’n sexy foto van jouself met jou foon en stuur dit vir manlief terwyl hy by die werk is. Maak net seker jy stuur nie per ongeluk die foto vir jou skoonma nie!

Stuur klein geskenkies: Manlief sal dalk nou nie ’n bos blomme waardeer nie, so dink aan ’n pakkie biltong of dalk sjokolade. Laat die geskenkie by die huis of selfs by manlief se werk aflewer met die boodskappie: “Van jou geheime bewonderaar.” Doen dit so een keer elke twee weke om antisipasie op te bou.

“Jy is oulik” e-posse: Maak lysies van al die goeie eienskappe van jou maat, hoekom jy vir hom lief is en hoekom jy hom waardeer. Wat het hy gedoen of gesê wat jou laat lag of bloos het? Wees kreatief en dink oulike temas uit. Stuur elke nou en dan een van die lysies vir hom in ’n e-pos.

Ballon-boodskappe: Koop ’n ballon met ’n boodskap op soos “Jy is wonderlik”. Maak dit aan die bed se kopstuk of die bedkassie se poot vas terwyl jou maat slaap. Plaas dit op só ’n manier dat dit die eerste ding is wat hy raaksien wanneer hy die volgende oggend opstaan.

Vat een vir die span: Wat is manlief se gunsteling sport? Jy kyk dit tien teen een nooit saam met hom nie. Sy mistress sal wel! Gaan soek ’n ou opname van ’n rugby-wedstryd waarin jou maat se gunsteling span speel. Of wag totdat ’n nuwe spel uitgesaai word op televisie. Trek aan soos ’n mede-ondersteuner, verf jou en manlief se gesigte en raas en juig saam.

Neem hom soontoe: Is daar ’n spesiale plek waarheen manlief nog altyd wou gaan? ’n Sekere restaurant? Die dieretuin? Loftus? Verras jou maat en neem hom soontoe! Maak ’n road trip daarvan en luister sommer heelpad na manlief se keuse van musiek net om hom ekstra te bederf.

Vat ’n leap of faith: Is daar iets wat jou maat al ’n geruime tyd wil doen, maar jy was nog nooit game vir dit nie? Bungee jump? ’n Nuwe seksuele posisie? Jellybeans op toast eet? Maak nie saak hoe laf of gewaagd dit is nie, doen dit een keer saam met jou maat.

BRONNE: relationshipjourney.com, yourtango.com

Artikel deur Thalia Brüssow

***

Indien jy opsoek is na meer sulke artikels KLIEK HIER vir nog INTIEM artikels propvol praktiese raad, idees en inspirasie vir jou huwelik!