As priester van die huis is jy die koning van jou gesin. Jý is die een wat belangrike besluite moet neem, krisisse moet oplos. Jý is die een wat, indien nodig, moet konfronteer, moet salueer, moet bande smee en die wit vlag hys. Want jy is ’n leier en jou gesin het jou nodig. Dit berus by jóú om gesinswaardes te vestig. Maar voor jy dít kan doen, moet jy eers die waarde van die gesin begryp.

  1. Die lewe begin en eindig in ’n gesin. Ons word in ’n gesin gebore en ons sterf in ’n gesin. Ons oortuigings, waardes en gedrag word gevorm in die gesin. Jy speel ’n belangrike rol as dit kom by hóé daardie oortuigings, waardes en gedrag gevorm word.
  2. Die ontwikkeling van gesonde menswees vind plaas in die gesin. Daar is geen groter bydrae tot die samelewing as ’n gesonde, heilsame gesinslewe nie. Daar is geen beter omgewing vir die opvoeding en ontwikkeling van kinders nie. Daar is geen groter leierskap-uitdaging as ouerskap nie.
  3. Die gesinslewe was God se idee. God openbaar homself aan ons as ’n Vader. God het bepaal dat, binne die gesin met sy spesifieke ontwerp, die volgende aspekte van die mens in sy ontwikkeling aangespreek sou word:

i) Verhoudings, begrip en vervulling.
ii) Karakterontwikkeling.
iii) Bediening, versorging en omgee.
iv) Geestelike en natuurlike voortplanting.

Om in dié dinge doeltreffend as ’n gesin te kan ontwikkel, moet daar ’n verskuiwing vanaf gesinsbestuur na gesinsleierskap plaasvind. As jy jou gesin bestuur, is jy slegs betrokke by funksionele aangeleenthede en probleemoplossing. As jy egter leierskap neem van jou gesin, neem jy leiding met aspekte soos visie, waardes en die ontwikkeling van jou gesin.

In die Bybel kan ons sien hoe gesinsleierskap by een belangrike figuur afwesig was en by ’n ander een aanwesig was. Die negatiewe prentjie kan gesien word by Eli in 1 Sam. 3:11-14. Die positiewe uitbeelding kan gesien word by Josua ( Jos.24:14).

Promosie

Hoekom is leierskap só nodig?

Dit bring gesondheid in die lewe van die gesin. Gesondheid word nie altyd gemeet aan die afwesigheid van siekte nie. So ook word ’n gesonde gesinslewe nie net gemeet aan die afwesigheid van spanning en stryd en misverstande nie. ’n Gesonde gesinslewe is eerder die teenwoordigheid van positiewe beleggings wat die gesin in hulle interaksie met mekaar en in mekaar se lewens belê.

Die volgende waardes is duidelik sigbaar in ’n gesonde gesin:

  1. Gesonde gesinne dra mekaar en sorg vir mekaar. Dit is mense wat uitreik na mekaar en brûe bou in plaas van mure tussen mekaar.
  2. Gesonde gesinne het respek vir mekaar. Elke lid van die gesin erken die uniekheid en die waarde van die ander. Só word daar ook ruimte gemaak vir die mening van elke lid van die gesin.
  3. Behoudende oortuigings. ’n Gesonde gesin is verbind tot ’n sentrale waardestelsel. Daar is ’n raamwerk van beginsels wat sekuriteit vestig in die harte van elke lid van die gesin.
  4. ’n Gesonde gesin is ekspressief in die gee van liefde. Daar word met warmte teenoor mekaar gereageer. Dit word gesê en gewys. Elke lid van die gesin poog aktief om na die ander uit te reik.
  5. ’n Gesonde gesin het ’n duidelike roI en funksie en verstaan die verwagtinge van sy of haar bydrae. Elke lid in die gesin dra ’n verantwoordelikheid. Daar is ’n gevoel van spanwerk en van saamwerk sodat ons dit saam kan geniet.
  6. ’n Gesonde gesin het gesonde kommunikasie. Daar is sinvolle interaksie tussen die lede van die gesin. Daar word met mekaar gekommunikeer, waar die vlak van slegs cliché’s en feite oorgaan na die vlak van menings en gevoelens.
  7. ’n Gesonde gesin het realistiese verwagtinge van mekaar. Dit is mense wat ’n gesonde selfbeeld het, en wie se verwagtinge van mekaar nie onnatuurlik is nie. Ouers verwag nie van kinders dít wat bo hul vermoëns strek nie. Daar is ’n sterk aanvaarding vir elkeen soos wat hy is. Is dit hoe jou gesin lyk?

As hoof van jou gesin het jy die keuse om hierdie waardes in jou gesin te laat realiseer, onder leiding van jou eie Almagtige Leier. As almal hulle aktief hieraan toewy, kan jy ’n gesonde gesin kweek. Die keuse om dit te doen en aksie om jou keuse te laat realiseer, lê by jóú – die priester en koning van jou huis.

 

Deur Alan Platt, leier en stigter van die Doxa Deogemeente