Word touwys oor hoe Salomo ’n vrou kon bedwelm!

Jou oomblikke van passievolle intimiteit, nabyheid en koestering kan só maklik in duie stort weens ’n paar negatiewe faktore soos werkspanning, finansiële druk, skuldlas en so meer. Ja manne, aan dié onderwerp kan ure spandeer word! Die een oomblik was jy bý haar en die volgende oomblik is jy skielik verlore in ’n wêreld van intimiteitsrowers! Die Woord verduidelik só mooi in Hooglied hoe ’n man na intimiteit homself herposisioneer om sy geliefde nie te laat in ’n wêreld van onsekerheid en afstand nie. Kyk, Salomo kón! Ek stel dus voor dat ons leer van hierdie man. Mag sy lewe vir jou ’n groot inspirasie wees.

1. Maak tyd vir jouself en kom in die natuur. Die buitelewe en natuur speel ’n baie belangrike rol in ’n Suid-Afrikaner se lewe en die uitwerking wat die natuurskoon op ons het, beïnvloed ons psigiologiese samestelling en gevoel van welstand. Manne, moenie jou spasie en stokperdjies verwaarloos nie. Kom bietjie uit die huis uit, kry vars lug en kyk hoe vroulief sommer op ’n lekker spontane manier styf langs jou inskuif en deel van jou wêreld word. Onthou sy het ’n behoefte aan jou!

2. Hou haar in jou prentjie en maak haar deel van jou elke dag. Haar vrouwees het tog ’n behoefte aan jou unieke manier om haar sag te hanteer. Onthou manne, sy is soos ’n blom in jou hande en jou teer woorde sal haar veilig laat voel en in jou hande laat smelt.

Promosie

3. Laat haar weet sy is heeltyd in jou gedagtes. Wanneer jy haar sien, hou haar vas en fluister saggies in haar oor hoekom sy dit vir jou doen! Vertel haar hoe mooi sy vir jou lyk – jy weet mos! Net die regte woorde wat haar hartkloppings op daardie oomblik net vir jou gaan laat klop.

4. Herken haar moeite vir skoonheid. Manne, hier is ’n baie teer sakie, ons is vir seker nie altyd ingesteld om gedagtes te verbaliseer nie. Kom nou, kry daardie aandele hoog en herken die moeite wat jou vrou aan haarself spandeer. Komplimenteer haar met hoe sy lyk en gee waardering vir haar mooimaak, dis vir jou bedoel!

5. Sy het ’n behoefte om mooi te voel. Sy stap in ’n vertrek in . . . jy kyk diep in haar oë en vertel haar hoe sy jou binneste omgekeer het toe jy na haar kyk. Wees kreatief, gebruik inisiatief . . . bied jou hulp aan en wees haar hero!

6. Sy het ’n behoefte aan jou in haar wêreld. Koffie saam op ’n weeksoggend voor werk – nou is jou kans. Praat haar hartstaal, los die kindergesprekke, huisprobleme en wat nog! Julle is saam en dis wat saak maak.

7. Erken haar vermoëns en mooi eienskappe. In vandag se tyd is daar min vroue wat nie ook daagliks op kantoor of in die werksplek is om finansies in te bring om lewenskostes te verlig en lewenstandaarde te onderhou nie. Manne, ons weet dat ’n rol in die werksplek baie spanning skep, en doelwitte en teikens ontmoet moet word. Net so word ons rolle ook aangepas, ook jou rol by die huis met die kinders en hulle aktiwiteite. Maak vandag nog ’n plan en bied aan om hulp te verleen sodat jou geliefde nie hoef te voel dat die onus op haar alleen rus nie. Met hierdie instelling kan albei mekaar se behoeftes verstaan en mekaar met meer sensitiwiteit benader.

8. Verklaar jou onvoorwaardelike liefde. Ek sal jou liefhê as jy . . . is die werklikheid waarin ons onsself op ’n daaglikse basis bevind. As jy maerder is, as jy jouself mooier oppas, as jy meer geld kon maak, as jy, as jy maar net, “as jy” is verseker net ’n klomp as! Onvoorwaardelike liefde is ’n keuse wat ek maak om my geliefde lief te hê – maak nie saak wat die storm, gevoel of omstandighede is nie. Onvoorwaardelike liefde is liefde wat nie kom met voorwaardes nie. Maak dus vandag ’n keuse en maak jou onvoorwaardelike liefde aan jou wederhelfte bekend, vertel haar en sien hoe julle saam in vrede ’n liefdeslewe in Christus kan bereik.

Hooglied 8:7
“Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere kan dit nie oorstroom nie; al gee ’n man ook al die goed van sy huis vir die liefde, hulle sou hom diep verag.”

Artikel deur Stephen Claassen