’n Gesonde huwelik begin nie net by beter kommunikasie, meer date nights of minder konflik nie. Dit begin ook by twee mense wat bereid is om na hulle eie harte, gedagtes, liggame en geloof om te sien. Want wanneer ek as individu gesonder word, bring ek ’n gesonder mens na my huwelik toe.
Ek het in die kombuis gestaan toe die boodskap op my foon deurgekom het. Toe ek dit lees, het my hart gesak. ’n Vriendin van my, wat ook deur ’n moeilike seisoen in haar huwelik gegaan het, het laat weet dat haar huwelik waarskynlik nie gaan oorleef nie. Myne het oorleef. Trane het in my oë opgewel.
Die “ou Jill” in my sou kamer toe gegaan het om alleen te huil. Dis wat ek geken het: hou jou pyn vir jouself, hanteer dit alleen, moenie iemand anders daarmee belas nie. Maar die “nuwe Jill” het stilgestaan.
My man, Mark, en ek was in daardie stadium doelbewus besig om aan die gesondheid van ons huwelik te werk. Dit het beteken dat ons albei ernstig moes raak oor ons eie emosionele gesondheid. Ek het kort tevore begin besef dat my gewoonte om my pyn weg te steek Mark dikwels laat voel het asof ek hom nie nodig het nie.
Toe skraap ek my moed bymekaar. Ek stap na die kamer waar Mark besig was om te lees, wys vir hom die boodskap, klim op sy skoot en huil. Hy het later gesê daardie oomblik saam was een van die kragtigste oomblikke wat hy nog in ons 32 jaar van getroude lewe beleef het.
Gesonde individue bou ’n gesonde huwelik
’n Huwelik wat floreer, bestaan uit twee mense wat self groei en dan sáám aan die verhouding bou. Ons praat dikwels oor fisiese fiksheid, maar ons moet net so doelbewus aandag gee aan emosionele gesondheid, geestesgesondheid en geloofsgesondheid.
Die Christelike lewe gaan oor groei en volwassenheid. En die huwelik is een van die plekke waar hierdie volwassenheid die meeste getoets én gevorm word. As ons bereid is om eerlik te kyk na ons eie bydrae tot die verhouding, kry ons huwelike kans om sterker te word.
Waar begin ’n mens? Met een regte keuse op ’n slag.
Elke dag kry ek en jy geleenthede om te groei: die oomblik wanneer ek kies om te praat eerder as om te onttrek; wanneer ek kies om ’n sagte antwoord te gee eerder as terug te kap; of wanneer ek erken dat ek rus nodig het wanneer ek moeg is.
Vandag verstaan ons ook al hoe meer dat “welstand” nie net beteken dat ek beter moet eet, meer moet oefen of minder stres moet hê nie. Ware gesondheid raak my hele menswees: my liggaam, my gedagtes, my emosies, my geloof, my verhoudings, my rusritmes en selfs die manier waarop ek met tegnologie leef.
Emosionele gesondheid: leer ken jou eie hart
Emosionele gesondheid groei wanneer ons ons eie emosionele samestelling beter verstaan. Ek is byvoorbeeld ’n introvert wat energie kry deur alleen te wees. Mark is ’n ekstrovert wat energie kry deur by mense te wees. Ek moes leer om doelbewus alleentyd vir myself te maak, en Mark moes leer om nie my behoefte aan ruimte as verwerping te ervaar nie. Ons leer steeds om onsself én mekaar beter te verstaan, sodat ons ons verskillende persoonlikhede gesond kan saamweef.
Emosionele gesondheid beteken ook dat ons aandag gee aan hartsake soos bitterheid, onvergewensgesindheid, beskuldiging, kritiek, wellus, afgodery, trots, beheer en selfgenoegsaamheid. Hierdie dinge sluip maklik in ons lewens in, en te dikwels verdedig ons ons reg om daaraan vas te hou. Om sonde te erken vir wat dit is, dit voor God te bely, en dan om te draai in ’n nuwe rigting, is deel van gesondheid.
Ons moet ook eerlik kyk na dit wat ons uit ons oorspronklike gesinne saambring. Mark se gesin het konflik met woede en uitbarstings hanteer. In my gesin het dit weer gelyk asof daar nooit konflik was nie. Nie een van hierdie patrone het ons gesonde konflikhantering geleer nie. Daarom moes ons self leer: deur boeke, huwelikskonferensies en uiteindelik ook die hulp van ’n Christelike berader.
Baie paartjies baklei nie net oor die onderwerp voor hulle nie; hulle reageer vanuit uitputting, ou seer, vrees, skaamte of onverwerkte trauma. Daarom is dit waardevol om te leer vra: “Wat gebeur nou regtig in my hart?” eerder as om net te reageer. Berading is nie ’n teken dat jou huwelik misluk nie; dit kan juis ’n teken wees dat jy bereid is om daarvoor te veg.
Geestesgesondheid: let op jou gedagtes
Geestesgesondheid — “mental health” — bepaal hoe ons dink, voel en optree terwyl ons die alledaagse lewe hanteer. Filippense 4:8 herinner ons dat ons moet let op waarmee ons ons gedagtes voed: alles wat waar, eerbaar, reg, rein, lieflik en lofwaardig is.
Goeie leesstof en lering — soos podcasts, preke en konferensies — positiewe vriendskappe en opbouende gesprekke kan alles belangrike dele wees van geestes- én huweliksgesondheid. Wanneer ons werk om “elke gedagte gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korintiërs 10:5), werk ons aan ’n gesonde denkproses wat uiteindelik ook ons verhouding met ons man of vrou beïnvloed.
Mark het ’n traumatiese kinderjare gehad, en dit het van hom geverg om hard te werk om genesing te vind. Omdat hy met depressie gesukkel het, besef ek dat wanneer hy na sy depressie omsien, hy ook na ons huwelik omsien. Ek is dankbaar dat hy bereid was om berading te ontvang sodat hy die seerkry van die verlede kon verruil vir hoop vir die toekoms.
Vandag moet ons ook eerlik wees oor digitale oorlading. Ons gedagtes word daagliks gevoed deur nuus, sosiale media, vergelyking, boodskappe, video’s en eindelose kennisgewings. Sonder dat ons dit altyd besef, kan ons fone ons aandag, rus, tevredenheid en intimiteit steel.
Gesonde geestesversorging kan dus beteken: fone weg tydens ete, geen belangrike gesprekke terwyl een van julle scroll nie, skermvrye tyd voor slaaptyd, en doelbewuste oomblikke waar julle mekaar weer in die oë kyk. Soms begin ’n gesonder huwelik met iets so eenvoudig soos: “Ek sit my foon neer. Ek is hier by jou.”
Fisiese gesondheid: sorg vir die liggaam wat God jou gegee het
Fisiese gesondheid ontwikkel wanneer ons sorg vir die liggaam wat God vir ons gegee het. 1 Korintiërs 6:19-20 herinner ons dat ons liggaam ’n tempel is waarmee ons God moet verheerlik. God het ons geskep met die behoefte om ons liggame te voed, te beweeg en te laat rus.
Klein keuses help: hou vars vrugte en groente byderhand, drink meer water, beperk suiker tot spesiale geleenthede en maak eenvoudige, volhoubare aanpassings.
Oefening is ook deel van liggaamsorg. ’n Vinnige stap saam met jou huweliksmaat ná aandete kan jou liggaam én jou huwelik versterk. Julle hoef nie perfek te begin nie. Stap saam. Strek saam. Dans in die kombuis. Kies iets wat lewe gee.
Fisiese gesondheid gaan nie oor perfeksie, voorkoms of skuldgevoelens nie. Dit gaan oor rentmeesterskap. Jou liggaam is nie ’n projek wat jy moet straf nie; dit is ’n gawe waarvoor jy met liefde kan sorg.
En dan: slaap. Uitgeputte mense luister dikwels swakker, reageer vinniger en neem dinge makliker persoonlik op. Soms is die geestelikste ding wat ’n paartjie kan doen, om die moeilike gesprek tot môre te los en eers te gaan slaap.
Geloofsgesondheid: bly gewortel in God
Geloofsgesondheid weef deur ons fisiese, emosionele en geestesgesondheid. Die Bybel is God se Woord aan ons. Dit gee ons wysheid en riglyne vir ons leefwyse: hoe om vir ons liggame te sorg, hartsake aan te spreek en doelbewus te wees oor die rigting van ons gedagtes. Gebed hou ons in gesprek met God en plaas ons angstige gedagtes in Sy bekwame hande.
Hebreërs 10:24-25 herinner ons dat geloof ook groei wanneer ons tyd saam met ander gelowiges deurbring. Kerk, ’n kleingroep, ’n geestelike mentor of ’n vriendin wat jou geloof versterk, kan alles deel wees van geloofsgesondheid.
Mark en ek was albei ongemaklik daarmee om saam te bid toe ons pas getroud was, maar ons het geweet dit is belangrik vir ons huwelik. Dit het tyd geneem om gemaklik te raak met daardie soort intimiteit. Tog het ons ontdek dat gebed soveel meer moet wees as net ’n nagedagte — in ons persoonlike lewe én in ons huwelik.
In ’n tyd waar wellness dikwels bemark word as “my geluk eerste”, herinner die evangelie ons aan ’n dieper waarheid. Christelike selfversorging gaan nie daaroor dat ek altyd eerste moet kom nie. Dit gaan daaroor dat ek gesond, heel en gewortel in Christus leef, sodat ek meer vry kan liefhê.
Ek rus nie omdat ek lui is nie, maar omdat ek ’n mens is en nie God nie. Ek bid nie omdat ek alles onder beheer het nie, maar omdat ek weet Wie wél in beheer is.
Gesonde mense het ook gesonde gemeenskap nodig
’n Huwelik is nie bedoel om die enigste plek van konneksie, wysheid, ondersteuning en vriendskap te wees nie. Gesonde huwelike het dikwels gesonde gemeenskap rondom hulle: vriende wat bemoedig, mentors wat wysheid bring, geloofsfamilie wat saam bid, en mense wat ons help om perspektief te behou.
Dit beteken nie dat ons ons huweliksprobleme oral moet bespreek nie. Dit beteken wel dat ons nie afgesonder hoef te leef nie. God gebruik dikwels mense om ons te versterk, te troos, reg te help en te herinner aan wat waar is.
Selfversorging is nie selfsugtig nie
Of dit nou beteken dat jy oefen, genoeg slaap kry, berading ontvang, jou foon neersit, gesonde grense stel of Bybel lees — paartjies wat as individue goed vir hulleself sorg, sorg uiteindelik ook vir hulle huwelik.
Miskien is dit die uitnodiging aan elke paartjie vandag: Moenie net vra: “Hoe kan my huwelik beter word?” nie. Vra ook: “Waar nooi God my om gesonder te word?”
Gesonder in my gedagtes.
Gesonder in my emosies.
Gesonder in my liggaam.
Gesonder in my geloof.
Gesonder in my rus.
Gesonder in my manier van liefhê.
Want wanneer ek met God se hulp gesonder word, bring ek ’n gesonder mens na my huwelik toe. En twee mense wat bereid is om te groei, te genees, te leer, te rus, te vergewe en lief te hê, bou mettertyd iets baie mooi: nie ’n perfekte huwelik nie, maar ’n lewende, groeiende huwelik waar God steeds aan die werk is.
Deur Jill Savage, Focus on the Family
Oorspronklik gepubliseer op FocusOnTheFamily.com. Vertaal en verwerk met bykomende INTIEM-redaksionele inhoud.

