Kleefband is nie meer net die deursigtige band waarmee jou ma jou skoolboeke oorgetrek het of die beige band waarmee jou pa die vensters afgeseël het voor hy die muur geverf het nie. Sticky tape, sellotape, magic tape, masking tape, duct tape . . . deesdae is die nuutste toevoeging Washi-tape kleurvolle kleefband waarmee enige kunsvlyt-entoesias se lewe nuwe kleur gekry het! Hier is tien romantiese idees met kleefband – in elke kleur en vorm.

  1. Vir ’n romantiese aand uit

Goed, dit gaan fyn werk verg, maar die eindresultaat is baie mooi! Sny ’n piepklein hartjie uit enige vorm van kleefband. Plak die hartjie in die middel van elkeen van jou tien naels en verf groen naellak daaroor. Wag tot dit goed droog is voor jy die hartjie verwyder. Neem nou die gedeelte waaruit jy die hartjie gesny het en plak dit mooi oor jou nael sodat net die hartjie (wat jou ontblote nael is) wys. Verf nou bloedrooi daaroor. Siedaar! ’n Rooi hartjie op elk van jou groen naels!

  1. Kerse om by jou tema te pas

Almal ken teeliggies – ’n wonderlike manier om romanse aan jou kersligete te verleen. Dit is goedkoop, eenvoudig en sal nie omval en jou hele tafel aan die brand steek nie! Volgende keer, as jy ’n mooi romantiese tafel dek en iets ekstra wil doen om die tafel mooi te maak, koop Washi-tape in die kleur van jou keuse. Die breedte van hierdie band is soortgelyk aan die breedte van ’n teeligkersie se rand. Bind die band om die teeliggie en siedaar – ’n ekstra spesiale kersie!

  1. Bêre vir hom briefies

Skryf vir hom spesiale boodskappe en vou dit klein op. Gebruik Washi-tape en plak dit soos boekmerkies aan die briefies vas. Bêre nou die briefies in ’n boek wat hy besig om te lees. Dit sal ’n heerlike verrassing wees vir hom om die notas te kry.

  1. Maak sy bord mooi

Koop ’n porseleinverf-koki met ’n fyn punt by ’n kunswinkel. Neem nou enige kleefband wat jy byderhand het om ’n reguit lyn op die bopunt van die bord te maak. Jy gaan vir hom ’n mooi liefdesbrief op sy bord skryf. Hou dit netjies deur die kleefband af te trek en af te skuif om jou lyne reguit te hou. As die bord vir 24 uur gestaan het, kan jy dit bak volgens die instruksies op die verpakking van die porseleinverf-koki.

  1. Vir ’n paar kitsboeie

Hmm, dink mooi oor die soort kleefband wat jy vir dié een gebruik. Maskeerband kan werk. Duct tape is sterk, maar as jy manlief se hande hiermee aan die bed vasmaak, gaan hy waarskynlik ’n paar gille gee met die losmaakslag. Maak sy hande vas, blinddoek hom en verras hom met jou tong!

  1. Maak piepklein bunting!

Vlaggies wat kinderpartytjies versier, is oral te sien, maar wat van mini-vlaggies met boodskappies vir manlief? Neem ’n lang stuk tou of lint. Bind stukke Washi-tape van ongeveer 10cm om die tou vas deur dit in die middel te vou en die band aan mekaar vas te plak. Sny ’n omgekeerde V-vorm in elke “etiket” en siedaar! Jy kan nou op elke “vlaggie” ’n kort boodskap vir manlief skryf of notas maak en dit in elke vlaggie vasplak. Bind dit van jou bedlampie tot by syne vir ’n lekker verrassing.

  1. Vir ietsie stout

Onthou jy die stikini? Daardie stoute plakkertjies wat net die nodigste toemaak? Koop ’n breë rolletjie Washi-tape en maak jou eie stikini. Nou kan jy twee blomme of harte of wat ook al daaruit sny en dit saam met jou mooiste broekie dra!

  1. Herinner hom aan jou

As jy vir ’n naweek of week lank moet weggaan, maak seker dat hy jou nie vergeet nie, en herinner hom aan julle goeie tye saam deur oral in die huis (op weggesteekte plekke) foto’s van julle en van jou op te plak. Plak byvoorbeeld ’n stoute een in sy bedkassie se laai, nog een op die badkamerspieël, een op die yskas en een aan die binnekant van die koskas se deur.

  1. Gee sy lewe kleur

Het hy ’n doodgewone dagboek of notaboekie in ’n vaal, swart of bruin kleur? Koop drie verskillende rolletjies Washi-tape in soortgelyke kleure (soos swart en wit) en versier sy boekie deur strepe (horisontaal, vertikaal en diagonaal) daarop te plak.

  1. Maak vir hom ’n uitdaging

Maak vir jouself ’n klein bandage dress deur kleefplastiek rondom jou lyf te draai. Begin onder jou arms en draai dit om jou lyf (jy kan die hoogte van jou soom self bepaal). Neem nou ’n rol duct tape en draai dié rondom die kleefplastiek. Verras manlief waar hy voor sy rekenaar sit. Sê vir hom: “As jy dié pakkie kan oopmaak, kan jy kry wat onder die geskenkpapier is!” Dit gaan ’n uitdaging wees vir hom om jou “rok” van jou lyf af te kry. Trek maar die skêr nader as die hitte te veel raak!