Daar is ’n hele paar dinge wat ’n vrou se hart warmer laat klop (wat natuurlik vir jou slegs voordele inhou . . .). En een van hulle is nié: “Ugh, iets brand,” nie. Ook nie: “Hoe lank gaan jy nog vat?” nie. Laasgnoemde nie in die kombuis, aantrekkamer óf slaapkamer nie.

Promosie

’n Vrou is ’n brose wese, dit weet jy. En soms voel dit of jy permanent in die dog box is. Jy weet nie meer wát is ’n taboe onderwerp nie en jy weet nie meer wát sy wil hoor nie. Jy probeer so ewe die regte ding uiter. Sê jy: “Ek weet nie wanneer laas jy só mooi gelyk het nie”, antwoord sy: “Beteken dit dat jy dit nie eers ráákgesien het toe ek my verlede week Dinsdag so vir jou opgedollie het nie!” Vra jy haar of sy eerder steak of vis wil eet, antwoord sy: “En wie het gesê ek is nie vanaand lus vir pasta nie? Tel my mening glad nie meer nie?” Dit bly ’n moeilike ding . . . dít wat ’n vrou wil hoor. So, ons het dit vir jou makliker probeer maak:

  1. “Jy lyk pragtig.”

Komplimenteer haar kleredrag, grimering, parfuum, hare, figuur . . . alles wat jy met die oog kan sien. En ja, dit is oppervlakkig, maar ’n vrou wil dit hoor! Komplimente boost ’n vrou se selfbeeld en help haar om van haar inhibisies ontslae te raak, meen Sushma Dayal, ’n kliniese sielkundige. Jip, jou kompliment kan haar ’n bietjie meer gewaagd in die bed maak – watter man kan dít weerstaan?

  1. “Jy is ’n goeie ma.”

Dit is vir haar ’n groter kompliment as wat jy dink. Glo ons as ons sê dat die meeste vroue skuldgevoelens koester oor hul vaardighede as ma. Dis vir haar belangrik dat jy dink sy maak jul kinders goed groot. As jy haar moederskap dus komplimenteer, help jy haar om in haarself te glo.

Promosie
  1. “Wat dink jy hiervan?”

Vra haar mening oor jou werk, ’n nuwe kopie of ’n saak waaroor jy tob. Deur haar mening in ag te neem, wys jy haar dat haar mening vir jou belangrik is en dat jy haar siening respekteer.

  1. “Jy is my beste vriendin.”

Sy is tog, is sy nie? Vir ’n vrou beteken die uitspraak “beste vriendin” soveel, want dit wys vir haar dat jy op háár knoppie sal druk as jy ’n probleem het of raad nodig het, en dat jy by haar sal staan deur dik en dun en weet dat sy dit vir jou ook sal doen.

  1. “Jy is goed in die bed.”

Gedink net ’n man wil dit hoor? Nee, jou vroutjie wil ook soos ’n seksgodin voel en as jy nou die laaste stukkie inhibisme uit die weg wil ruim, komplimenteer haar oor haar bedvaardighede. Hoe meer jy haar seksualiteit ophef, hoe meer gaan sy lus wees om jou wildste verwagtinge te oortref.

Hier is nog ’n paar treffers!

  • “Jy kook beter as my ma.”
  • “Jy maak dat ek nooit weer wil video games speel nie.”
  • “Jou borste lyk fenomenaal.”
  • “Om met jou te trou, was my beste idee nog ooit.”
  • “Jy is op jou mooiste sonder grimering.”

 

Addisionele bronne: articles.timesofindia.indiatimes.com, www.thefrisky.com.