Elke dogtertjie word gebore met ’n diep begeerte om die blondekop blouoog-seuntjie in die skool se oog te vang. Of daardie kaptein van die rugbyspan wat elke meisie se maag laat draai . . .
En dan is daar natuurlik die dagdroom oor daardie troudag wat ’n sprokie uit ’n boek moet wees! Dogtertjies speel al van kleins af bruid-bruid en berei hulself psigies voor vir daardie “perfekte eendag” se man waarmee hulle gaan trou. Só stap die lewe dan met ons verder en beleef ons, onder andere, teleurstellings en opwinding in die liefde. Waar dit eintlik ’n mens se lysie moet laat krimp, laat dit die lysies groei na ellelange checklists oor hoe ons perfekte maat eendag moet lyk en wees.
Standaard-items op lysies vir “die perfekte man” sluit natuurlik onbeperkte geld en kredietkaarte in, ’n man met spiere en ’n perfekte lyf, vir seker ’n man wat help om die kinders te bad en te versorg, ’n man wat ontbyt in die bed bring ná sy heerlik deurgeslaap het en sommer nog elke aand sjef-gehalte kos aan haar bedien. En o ja, ’n man wat nooit sy spanning en stres huis toe bring nie . . . En só kan vrouens aangaan en aangaan met soveel “items” op hul lysies dat die arme mans bogemiddeld moet perform om by te bly.
Alle grappies op ’n stokkie, want in elke vrou se sprokie is daar baie onrealistiese verwagtinge wat die standaard só hoog stel dat geen gewone man ooit die paal sal kan haal nie.
Maar in enige verhouding is daar ’n dag en tyd wanneer jou sprokie deur die harde realiteit aarde toe gebring word. Party se wake-up call kom gouer as ander, maar dat dit wel gaan gebeur, is redelik gewaarborg. Haar ridder op die wit perd gaan nie noodwendig lyk soos hy aan die begin gelyk het nie, en heel moontlik nie die paal haal ten opsigte van al die voorvereistes op haar lysie nie. Baie manne se spierkaste word ingeruil vir hangkaste. Finansiële druk is die een of ander tyd almal se realiteit. Die daaglikse spanning wat mans in die oë staar, het ’n direkte uitwerking op ons verhoudings. En só verander ons sprokie meer in ’n realiteitsprogram – met al die drama wat daarmee saamgaan.
Vir sekere vrouens tick hul mans dalk die meeste items op hul lysie, maar daar is steeds daardie “iets” wat in die verhouding skort. Miskien sukkel jy om jou vinger op die probleem te plaas . . . maar ons Skepper het man en vrou uniek gemaak, en eintlik gee Hy vir ons presies waarna ons soek. As al die fisieke voorkeure vergaan en soos wat die geld minder word, die lywe verander en die dag-tot-dag ons inhaal, moet “iets” vir ons oorbly. Niks op ons lysies gaan ons eendag saam met ons hemel toe vat nie, en daarom moet dit wat jy regtig soek, dieper wees as wat jy tans op die oppervlak sien.
Sodra vroue by ’n realistiese checklist vir die manne uitkom, het die lys aansienlik gekrimp en word die lys geminimaliseer na die belangriker “ietse” wat rêrig vir vrouens saak maak. Huwelike wat by die lysies uitkom met die regte “ietse”, is huwelike wat by die plan van die Skepper uitkom.
Nou – ons manne se groot vraag: Hoe lyk daardie “iets” en waar kry ek dit? Wel, dis eintlik makliker as wat die meeste manne dink. ’n Gesonde checklist van ’n vrou wat ’n Goddelike man soek, kan min of meer soos volg lyk:
- Gebed: ’n Vrou wat weet dat haar man vir haar en vir die gesin bid, voel veilig in die Here. Intimiteit met jou man word verbeter deur saam te bid! Die gesegde lui nie verniet “A couple who prays together, stays together” nie, want God as middelpunt kan enige twee nie-perfekte mense bymekaar hou, ten spyte van hul verskille.
- Vergifnis: ’n Man wat kan erken as hy ’n fout gemaak het en om vergifnis vra, word soveel meer deur ’n vrou gerespekteer. Manne, kom ons wees vinnig om te sê: “Ek is jammer.” Dit is ’n eienskap van ’n Goddelike man.
- Afhanklikheid: Daar is niks mooier as ’n man wat weet dat hy uit homself niks kan doen nie, maar deur die Here is hy tot alles in staat en kan hy berge versit. Manne, onthou: Hy maak van jou ’n goeie man!
- Vreugde: Daar is niks meer aantreklik vir ’n vrou as ’n man wat die lewe met lag en vreugde aanpak nie. Vreugde is die mooiste soundtrack vir jou huwelik, en soveel mooier as ’n man wat met swartgallige oë na die lewe kyk. Kom ons lag weer ’n slag!
- Luister: Manne, luister om te hoor en moenie luister om te reageer nie. Vrouens het die meeste van die tyd nie ’n reaksie of oplossing nodig nie, maar eerder net ’n oor wat luister. Ons vrouens kry oplossings en verligting deur te praat, en nie altyd uit ons manne se antwoorde of reaksies nie.
Mag elke man sy vrou se finale checklist haal, met dit wat eintlik saak maak en belangrik is. Dis daardie “ietse” wat ons anders maak, en op die ou einde maak dat ons die manne vir ons vrouens kan wees en kan gee wat hulle regtig soek!
Deur Annelize Steyn