Vroulief lê daar soos ’n boomstomp terwyl jy ywerig woeker. Sy jaag jou aan om klaar te kry, sug en lyk uiters verveeld. Duidelik het jy iets verkeerd gedoen, maar wát?

Promosie

Die skoner geslag is komplekse wesens, veral wanneer dit by seks kom. Dit is nie altyd maklik om te weet waar jy “af” of “aan” is met vroulief nie – een dag kry sy ’n orgasme wat die dak laat lig, en as jy volgende keer dieselfde roetine herhaal, kry jy nie eers ’n glimlag uit haar uit nie. Hier is ’n kykie na die vyf grootste blapse wat mans in die slaapkamer maak – en hoe jy dit kan vermy!

JOU TREIN STOP NET BY DRIE STASIES

“Boobville”, oos en wes, en die hoofstasie, “Vaginafontein”. Ja, dit is die belangrikste plekke wat nodig is om vroulief lus te maak en haar ’n orgasme te gee, maar vrouens het meer erotiese sones as net hulle borste en vaginas. Bring daardie areas ook in die mix vir ’n bietjie opwinding.

Promosie

Streel vroulief se boude, soen haar op die sleutelbeen en vryf liggies oor haar lae rug en voetsole. Al ken jy al die voutjies en bultjies aan haar liggaam, verken dit weer opnuut met jou mond en hande. Dit gaan haar nie net hoendervleis gee nie, maar haar ook laat voel dat jy julle seks sien as iets moois – nie ’n besigheidstransaksie of eensydige aktiwiteit nie.

JY SPANDEER NIE GENOEG TYD AAN VOORSPEL NIE

Hierdie is sekerlik die grootste klagte onder vrouens. Wat mans dikwels vergeet, is dat hulle gewoonlik reeds in die mood is as hulle toenadering soek – maar die kans is goed dat jou vrou nie op daardie oomblik is nie. Jy moet voorspel dus gebruik om haar op die vlak te kry waar jy alreeds vir ’n geruime tydjie is.

Neem byvoorbeeld hierdie scenario. Jy en vroulief gaan uit vir die aand en sy het moeite gedoen met haar voorkoms. Jy staar die hele ete lank na haar lae hals en op pad huis toe kan jy nie jou oë afhou van haar rokkie wat verleidelik teen haar been opklim nie. Jy het teen hierdie tyd al ’n hele prentjieboek in jou kop van wat jy alles aan haar wil doen, jy is reg om haar enige oomblik te bespring. Maar wat presies het jy deur die aand gedoen om haar lus te maak? Begin jou voorspel al deur in die restaurant aan haar been te vat, en wanneer julle uiteindelik alleen is, moenie dit rush nie, selfs al wil jy uit jou vel spring van lus!

JY IGNOREER HAAR BEHOEFTES

Seks gaan oor die behoeftes van twee mense – nie net een nie. Vrouens is grootgemaak met die idee dat hulle hul seksualiteit moet beskerm teen mans en dit het die wanpersepsie laat ontstaan (by beide geslagte) dat seks ook minder belangrik is vir vrouens. Dit is glad nie die waarheid nie! Jou vrou wil ook (gereeld!) ’n aardskuddende orgasme hê – nes jy! Soms is vrouens se lae libido nie te wyte aan die feit dat hulle minder geïnteresseerd is in seks nie, maar as gevolg van die feit dat hul maats hulle nie regtig bevredig nie.

Onthou ook dat seks ’n tweerigtingstraat is. Jy kan nie verwag dat vroulief jou byvoorbeeld konstant blow jobs moet gee, maar jy return nooit die guns nie. Die hele dansie is ’n delikate proses van gee en neem, en dit moet van beide kante af kom!

JY KOMMUNIKEER NIE

Vra jy vir vroulief of sy hou van wat jy aan haar doen, of doen jy dit maar net en hoop dit werk? Jy hoef nie te klets tydens seks en die ervaring vir julle albei te spoil nie, maar dit is baie belangrik dat jy seker maak julle is op die regte bladsy. Moenie wag tot sy jou wegstoot of vra om tog net asseblief klaar te kry nie. Op daardie stadium is daar nie meer tyd vir omdraai nie en is haar lus geblus. Jy mag ook maar nou en dan kreun of iets sê om haar te laat weet dat sy besig om jóú te plesier – dit sal haar confidence gee en sexy laat voel.

JY DINK JY HET SEKS REEDS BEMEESTER

Sak, Sarel! Net omdat jy weet watter liggaamsdele hoort waar tydens seks, beteken dit nie jy weet alles nie. Dit maak nie saak of julle al vir donkiejare getroud is nie, daar kom altyd nuwe inligting (tegnieke, posisies) en seksspeelgoed op die mark. In hierdie opsig kan ’n ou hond verseker nuwe truuks geleer word. Lees ’n bietjie ná!

Nog ’n fout wat die manne maak, is om te glo dat enige en alle metodes dieselfde uitwerking op alle Evas het. Vrouens verskil ten opsigte van wat hulle seksueel prikkel – vind dus uit wat vir jóú vrou werk.

 

Deur Thalia Brüssow
Addisionele bronne: www.askmen.com, www.theattractionforums.com, www.datingfortodaysman.com